Nande behou ook sy klub se titel
Gholf
Likius Nande se string oorwinnings in plaaslike toernooie het voortgeduur toe die Windhoek Gholfklub laas Saterdag en Sondag sy klubkampioenskap aangebied het, met MTC Namibia as hoofborg.‘n Stewige 51 spelers het ingeskryf vir die kompetisie oor 18 putjies elk op Saterdag en Sondag.
Die land se nommer een manspeler Likius Nande het die trofee as klubkampioen vir 2025 ontvang, terwyl Sesilia Nkoshi uitgeblink het om die vroue-afdeling ondanks sterk teenstand van Suene Venter te wen.
Die voorste uitslae:
Algeheel beste bruto (kampioen): Likius Nande (138).
Algeheel beste netto: Phillipus Hamunyela (137).
A-afdeling beste bruto: Christopher Durant (145).
A-afdeling beste netto: Andrew Langworthy (145).
B-afdeling beste bruto: Cor Beuke (162).
B-afdeling beste netto: Corneels Jafta (143).
C-afdeling beste bruto: Christo Liebenberg (183).
C-afdeling beste netto: Ronny Shapumba (148).
Vroue beste bruto (kampioen): Sesilia Nkoshi (188 uittel).
Vroue beste netto: Suene Venter (152).
Pryse vir houe naaste aan die pen was Sondag op die spel en is deur Bonnie Paulino (putjie 9) en Sesilia Nkoshi (putjies 13 en 17) gewen.
Gold Cup
Die Windhoek Gholfklub bied komende Saterdag en Sondag die gesogte jaarlikse Gold Cup-toernooi aan, met The Corner Butcher as die borg.
Die Gold Cup is een van die gewilde instellings op die kalender van toernooie wat punte op die Namibiese Amateurgholfunie (Nagu) se merietelys tel. Spelers kon tot gisteraand in die A-, B-, C-, junior of vroue-afdelings inskryf.
Vars formaat by Rössmund
Swakopmund se Rössmund Gholfklub het Saterdag die derde byeenkoms in die reeks geborg deur Medixx Occupational Health Services aangebied – opnuut in ‘n formaat wat iets vars na vore gebring het.
Die formaat vir dié kompetisie was individuele putjiespel (nege putjies netto medalje en nege putjies stableford) wat die breinselle besig gehou het.
In gunstge weersomstandighede sonder te veel wind en op ‘n baan wat goed gelyk het ná 5 mm reën in die vorige week, het Tienie van Rensburg en Douw van Wyk met die twee pryse vir die houe naaste aan die pen weggestap.
Die algehele wenner Hans Naobeb (netto 15) het die toernooi voor die tweede geplaaste Helmut Ndjendja (netto 17), Fred Bosse (derde op uittel net netto 18), Justin Naobeb (vierde, 18) en Fred van Zyl (21; vyfde) beklink.
Komende Saterdag bied Rössmund ‘n geldinsamelingstoernooi ten bate van sy junior ontwikkelingsprogram aan. “Dis tyd om al daai vriende saam te bring wat gedurig belowe hulle sal eendag begin gholf speel.” Die formaat is vierbal-alliansie met “scramble drive” en elke span moet minstens een junior speler bevat. Skakel Marco Swarts by 081 127 8080 vir besonderhede.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article