Namibiërs wys vernuf in Gaboen

Icestock
Tielman Van Lill
Die Namibiese Icestock-sportvereniging het vroeër vanjaar sy nasionale kampioenskap aangebied en daarna die Afrika-kampioenskap in Libreville getakel.

By die Namibiese kampioenskap was die spankompetisie vir vroue, mans en gemengdespanne van twee spelers eerste afgehandel.

Karin Curschmann en Marelize Nortjé het die vrouetitel verower, terwyl Franz Feilmeier en Max Feilmeier as die manskampioene bekroon is. In die gemengde afdeling het Allison Fourie en Pewe Fourie koning gekraai.

In die teikenskietkompetisie vir vroue het Corné Smit met 'n verstommende 282 punte eerste geëndig en in die proses ‘n Afrika-rekord opgestel. In die tweede plek was Karin Curschmann (118) en derde Marelize Nortjé (113).

By die mans het Franz Feilmeier (251), Detlef Pfeifer (243) en Max Feilmeier (235) oorheers.



Afrika se beste

Spanne van Gaboen en Kenia het ook aan die tiende Afrika-kampioenskap deelgeneem, waar Namibië goud, silwer en brons gewen het.

Jesaja Mweshipopya, 'n jarelange nasionale speler van Namibië, het ‘n groot bydrae met sy besonderse akkuraatheid in die manspankompetisie gelewer. Namibië het dié kampioenskap se drie rondes met 12 teen 0 oorheers en nie een enkele punt afgestaan nie.



Teikenskiet

Hoewel Namibië nie goud in dié afdeling kon behaal nie, het silwer en brons onderskeidelik aan Detlef Pfeifer en Jesaja Mweshipopya gegaan. Net Kenia se Douglas Sang kon die Namibiërs vir die goud klop.

Namibië het sedert 2004 agt van die tien Afrika-kampioenskappe gewen. Die sportkode is nog relatief onbekend in Afrika, maar Uganda, Ghana, Nigerië en Tunisië het reeds by die Internasionale Icestock-federasie aangesluit.

Eisstock, soos die sport in Duits bekend staan, is by twee vorige Olimpiese Winterspeles (Duitsland 1936 en Oostenryk 1964) se skedules as ‘n vertoonsport ingesluit.

Vir enige navrae kan Max Feilmeier by 081 375 6781 of [email protected] gekontak word.