Mahuchikh breek 37-jaar oue rekord

Atletiek
Tielman Van Lill
Minder as drie weke voordat die Olimpiese Spele in Frankryk afskop, is twee wêreldrekords Sondagaand by die Diamantliga in Parys gelewer.

Yaroslava Mahuchikh (22) van Oekraïne het Stefka Kostadinova van Bulgarye se wêreldrekord in die hoogspring vir vroue vanaf 2.09 meter tot 2.10 m verbeter.

Faith Kipyegon, Kenia se sneltrein in die middelafstande, het haar eie 1 500-wêreldrekord vanaf 3 minute 49.11 sekondes tot 3:49.04 verbeter.

Toe Mahuchikh in 2001 gebore was, was Kostadinova se rekord reeds 14 jaar tevore (1987) in Rome by die wêreldkampioenskap aangeteken. Die Bulgaar se mylpaal het 36 jaar en tien maande boaan die rekordboeke gepryk en was een van die langste staande rekords in atletiekgeskiedenis.

Mahuchikh, die heersende wêreldkampioen en tweemalige Europese hoogspringkampioen, jaag aanstaande maand haar eerste goue medalje by die Olimpiese Spele in Frankryk. Sy het by die vorige Spele in Tokio, Japan, brons opgeraap.

Haar 2024-seisoenbeste was ‘n hoogte van 2.04 voordat sy Sondag oor 2.10 oorgeseil het.

Kipyegon (30), die verdedigende Olimpiese 1 500-kampioen, het haar 3:49.11 verlede jaar in Florence opgestel. Sy het haar Olimpiese goud met 3:53.11 op 6 Augustus 2021 in Tokio beklink.

Ná Kipyegon het Jess Hull van Australië tweede in 3:50.83 vir ‘n Oseaniese rekord geëindig, terwyl Laura Muir van Brittanje derde in 3:53.79 vir ‘n Britse rekord klaargemaak het. Dit is ook Muir se persoonlike beste, wat sy met 71 honderdstes van ‘n sekonde verbeter het.



Mans 800

Die topdrie mans in die 800 het die wêreldranglys van vinnigste tye in die geskiedenis herskryf.

Djamel Sedjati (Algerië) het in 1:41.56 geseëvier met Emmanuel Wanyonyi van Kenia tweede (1:41.58) en Gabriel Tual derde in ‘n nuwe nasionale rekord vir Frankryk (1:41.61).

Ná hierdie blitsresies spog Sedjati, Wanyonyi en Tual nou onderskeidelik met die derde, vierde en vyfde vinnigste tye in die geskiedenis van die 800 vir mans.

[email protected]