Akrobatiese werk by die Mole vereis

Strandvlugbal
Gesogte medaljes en kontantpryse staan op die spel.
Tielman Van Lill
Die Namibië Vlugbalfederasie (NVF) in samewerking met Bank Windhoek sien uit na hul aanbieding van die gewilde Bank Windhoek nasionale ope strandvlugbaltoernooi wat van môre tot Sondag by die skilderagtige Mole-strand in Swakopmund plaasvind.

Die kompetisie wink vir strandvlugbalspanne van oraloor die land om hul akrobatiese balvaardighede ten toon te stel en vir glorie by die kus mee te ding.

Met die oseaan as agtergrond en ‘n feestelike atmosfeer is 'n opwindende skouspel vir spelers en toeskouers vir seker.

Die Bank Windhoek nasionale ope strandvlugbaltoernooi is oop vir beide geslagte, professionele spelers asook amateurs en bied 'n inklusiewe platform om hul vaardighede, spanwerk en passie vir die sport uit te stal.

Hillary Dux Imbuwa, president van die NVF, sê benewens die opwinding van kompetisie, kry deelnemers die kans om vir gesogte medaljes en kontantpryse mee te ding.

“Die Bank Windhoek nasionale ope strandvlugbaltoernooi is 'n hoogtepunt op ons sportkalender. Ons is opgewonde om spanne van oraloor Namibië byeen te bring vir 'n naweek van strawwe mededinging en kameraadskap. Met die steun van Bank Windhoek beoog ons om strandvlugbal te bevorder en die volgende generasie spelers te inspireer,” sê Imbuwa.

[email protected]