Enduro-ryers baljaar by Wewelsburg

Motorfietssport
Tielman van Lill

Die Namibiese Enduro-klub het laas Saterdag suksesvol die sesde rondte van die nasionale enduro-kampioenskap by die plaas Wewelsburg sowat 160 kilometer noord van die hoofstad aangebied.

Nege-en-dertig waaghalse het die uitdagende terrein in die sewe onderskeie klasse die stryd aangesê. Sewe van die deelnemers kon weens meganiese terugslae of ander faktore nie die uitdagende roetes in hul klasse bemeester nie.

Corné Visser (klas 2), Jörn Greiter (klas 5), Duard Wiese (klas 7), André Basson (klas 10 seniors), Patrick Geiger (klas 10 juniors), Llewelyn van der Westhuizen (klas 11) en Shannon Gräber in die vroue-ontwikkelingsklas (klas 12) het hul onderskeie afdelings opgeraap.

‘n Verbete stryd het in die topklas (pro ope) gewoed waar Corné Visser ‘n seldsame oorwinning teen Quinton Z. van Rooyen, die verdedigende nasionale klas 2-kampioen, behaal het.

In klas 7 het Duard Wiese gewys sy vorige vyf seges in 2026 was geensins per abuis nie. Kai Brettschneider (tweede) het Wiese egter waarde vir sy inskrywingsgeld gegee.

‘n Ongekende stryd het in klas 10 gewoed. ‘n Skrale ses sekondes het André Basson en Pieter van Helsdingen (tweede) in die afdeling vir senior groentjies van mekaar geskei, met Fanie Steenkamp kort op hul agterwiel.

By enduro spring die deelnemers nie saam weg nie, maar wel individueel met tussenposes. Elke klas het sy eie roete en moeilikheidsgraad wat volgens die vermoëns van die ryers bepaal word.

Die volledige uitslae by Wewelsburg:

Klas 2/pro ope (4 deelnemers)

1 Corné Visser (3 ure 42 minute 35 sekondes), 2 Quinton Z. van Rooyen (3:48:08), 3 Heiko Stranghöner (4:4:55), 4 Bruno Kirchner (4:30:30).

Klas 5/senior pro (6 deelnemers)

1 Jörn Greiter (3:01:48), 2 Gernot Bahr (3:12:33), 3 Ronald Geiger (4:36:15). Frikkie van Greunen, Rinus van Rooyen en André Steinfurth kon ongelukkig weens meganiese probleme nie klaarmaak nie.

Klas 7/intermediêr (5 deelnemers)

1 Duard Wiese (3:06:48), 2 Kai Brettschneider (3:14:21), 3 Sean-Collin Gräber (3:35:36). Philip Ellis (nie klaargemaak nie en Jens Rubow (gediskwalifiseer).

Klas 10/seniors groentjies (8 deelnemers)

1 André Basson (2:38:28), 2 Pieter van Helsdingen (2:38:34), 3 Fanie Steenkamp (2:41:42), 4 Billy Heigan (2:58:57), 5 Wynandt Gouws (3:22:23), 6 Stefan Gräber (3:25:45), 7 Bart Steyl (4:19:51). Bobby Griebel (nie klaargemaak nie).

Klas 10/juniors groentjies (7 deelnemers)

1 Patrick Geiger (2:50:31), 2 Janco Meeser (3:10:46), 3 Max Heigan (3:17:14), 4 Cody Heigan (3:28:50). Marco Visser (nie klaargemaak nie). Stephan Guether en Vincent Griebel was beide gediskwalifiseer.

Klas 11/beginners (6 deelnemers)

1 Llewelyn van der Westhuizen (2:18:27), 2 Cedric Wilckens (2:26:06). 3 Jean van der Westhuizen (3:09:32), 4 Jörg Guether (3:11:46), 5 Lennart Guether (3:12:24). Johannes van der Westhuizen (nie klaargemaak nie).

Klas 12/vroue (3 deelnemers)

1 Shannon Gräber (2:24:10), 2 Maike Bochert (2:39:25), 3 Melieke Steyl (2:52:55).

Die Namibiese Enduro-klub het gesê: “Gernot Bahr van Rolling Wheels Africa het die roetes op Wewelsburg, hul familieplaas, 165 kilometer noord van Windhoek beplan en uitgelê. Rolling Wheels Africa het ook gesorg vir al die uitgawes daarmee, waarvoor ons as klub dankbaar is. Baie dankie Gernot!

“Baie dankie aan elkeen wat bygedra het om die byeenkoms ‘n onvergeetlike ervaring en suksesvol te maak. Baie geluk aan die deelnemers.”

[email protected]