Tsumeb die middelpunt van stofstorms

Motorsport
Die voorlopers van die eerste byeenkoms by Swakopmund sal op hul vertonings wil voortbou.
Tielman Van Lill
Die tweede ronde van die Namibiese nasionale tydrenkampioenskap word Saterdag by Tsumeb en omgewing beslis.

Die dertien spanne in die sedan-afdeling (van S1 tot S4) en die CR1 en CR2-klasse vir veldvoertuie, het nege spesiale sneldele (SS’e) en in totaal 101.58 kilometer tot hul beskikking om hul vernuf te toon.

Die voorskou begin om 10:00 by die Minen Hotel wanneer die eerste span vir die eerste trajek van 10.4 km vertrek. Hewige mededinging met kookwarm aksie word tussen die jaers voorspel.

Met die name van die 2023-kampioene wat pas bekend gemaak is, sal gesoute jaers en navigators wil wys waar Dawid die wortels gegrawe het. Pieter Greeff en JP Robinson moes tydens die Swakopmund-tydren in die eerste trajek weens ‘n gebreekte ratkasomhulsel halt roep. Hul Muhato sal die naweek vrye teuels gegee word.

Zachary Martin (sedanklas) en Loic Bathfield (veldklas) het met die eerste ronde by die kus algeheel die kompetisie in hul onderskeie klasse ingepalm. Bathfield het eers verlede jaar aan tydrenne begin deelneem, maar hy en Johan Steyn is tans onstuitbaar met Bathfield se 2x4-Century Racing CR6 wat met ‘n V8-hoogoond van sewe liter spog.

Ekko Eisenberg en Rassie Rietz se M&Z Motorsport 2x4-JAC-bakkie, Jandré Dippenaar en Gielie Visser se 4x4-Toyota Hilux en Bathfield se CR6 sal opnuut V8-aanhangers met puik agtsilindernote bederf.



Die 2023-kampioene

Bestuurders: Wilro Dippenaar is die algehele tydrenkampioen vir 2023 en het ook die S4-klas oorheers. Zachary Martin (S2) eindig tweede met Pieter Greeff (S1) derde. Martin palm die S2-klas in, terwyl Greeff die S1-afdeling oorheers het.

Navigators: 1 Raymond Fourie, 2 JP Robinson, 3 Maretha Olivier.

Bestuurders: Loic Bathfield is die algehele veldrenkampioen met Ekko Eisenberg tweede en Rian Kritzinger derde. Al drie jaers het in 2023 in die CR1-klas gejaag.

Navigators: 1 Johan Steyn, 2 Rassie Rietz, 3 Ian Stander.

Ongeag die enjinkapasiteit sal al die 4x4-aangedrewe voertuie in die veldklas gedurende 2024 in die CR2-afdeling deelneem, terwyl die CR1-klas vir 2x4-aandrywing bestem is.



Saterdag se tye en afstande

SS1 om 10:10 (10.4 km).

SS2: 10:39 (11.79 km).

SS3: 11:05 (11.07 km).

SS4: 12:15 (10.4 km).

SS5: 12:44 (11.79 km).

SS6: 13:10 (11.07 km).

SS7: 14:48 (10.97 km).

SS8: 15:14 (13.02 km).

SS9: 16:01 (11.07 km).

[email protected]