Pure adrenalienplesier in die Noorde
Motorsport
Die 2025 Tsumeb Shell V-Power-tydren oor 103 kilometer en nege spesiale sneldele is laas Saterdag by dié noordedorp deur Allan Martin in die sedanklas gewen. Allan en sy navigator, Maretha Olivier, het sy J&P Hydraulics 4x4-Skoda R5 in 1 uur 01 minuut 57 sekondes deur die nege sneldele gestuur om ook die S4-klas in te palm.
Ekko Eisenberg was algeheel eerste in die Uitdaagafdeling vir bakkies en doelgeboude voertuie.
Ekko en sy navigator, Horacio Rietz, het die CR1-klas en Uitdaagafdeling algeheel in 1:13:18 met die M&Z Motorsport 2x4-V8-JAC opgeraap.
S-klasse
Marko Himmel en Francois Schoonbee van die Tsumeb-motorklub het algeheel ‘n puik tweede posisie in 1:04:03 behaal en die S1-klas gewen.
Die algehele derde plek het aan Stefanie Botha en Mandi Landsberg in ‘n 4x4-Subaru Impreza Sti behoort. Dié enkele vrouespan het die tydren met 1:08:56 op die stophorlosie klaargemaak en tweede in die S-4-klas geëindig.
Gerhardus Visser en Geraldine Swart van die Tsumeb-motorklub voltooi die tydren met sy Toyota RunX volgens die Supertydrenreëls in 1:42:14.
Uitdaagafdeling (Off Road)
Die gewilde V8’s was opnuut in ‘n hewige tweestryd in die twee onderskeie klasse (CR1, CR2) gewikkel.
Die 2x4-jaers (CR1) het die 4x4-spanne (CR2) Saterdag lekker bloedneus gegee.
Afgesien van Ekko se V8-sege was SJ Schoeman en Chané Havenga algeheel tweede in sy 2x4-Steckel’s Toyota Hilux GD6. Hul tyd van 1:14:51 het ook die tweede posisie in die CR1-klas verseker.
Die algehele derde plek en eerste posisie in die CR2-klas is deur Paul Ackermann en Walter Kinnear in 1:16:07 behaal. Werner Bartsch in sy V8-Landrover en Christel Fourie eindig algeheel vierde en tweede in die CR2-klas.
Rolf Pretorius en Katja Pretorius van die Windhoek-motorklub het meganiese probleme met die V8-Chenowth in die tweede sneldeel ontwikkel en kon nie die uitdaging in die CR2-klas voltooi nie.
Vyf spanne het vir die Uitdaagkompetisie ingeskryf, terwyl sewe die sedankompetisie gepak het.
Die voorste uitslae
S-klas algeheel: 1 Allan Martin / Maretha Olivier (1:02:57), 2 Marko/Francois (1:04:03), 3 Stefanie Botha / Mandi Landsberg (1:08:57), 4 Wido Bartsch / Raymond Fourie (1:10:13), 5 Zachary Martin / Anique Schoeman (1:14:37), 6 Pieter Greeff/JP Robinson (1:14:57).
S4-klas: 1 Allan Martin / Maretha Olivier (Walvisbaai-motorklub, Skoda R5), 2 Stefanie Botha / Mandi Landsberg (Windhoek-motorklub, Subaru Impreza Sti).
S2-klas: 1 Wido Bartsch / Raymond Fourie (Walvisbaai-motorklub, VW Polo 2 Liter), 2 Zachary Martin / Anique Schoeman (Walvisbaai-motorklub, VW Polo 2-liter).
S1-klas: 1 Marko Himmel / Francois Schoonbee (Tsumeb-motorklub, Toyota Etios), 2 Pieter/JP (Walvisbaai-motorklub, Toyota Corolla 1.6-liter).
Uitdaagafdeling algeheel: 1 Ekko Eisenberg / Horacio Rietz (1:13:18), 2 SJ Shoeman / Chané Havenga (1:14:51), 3 Paul Ackermann / Walter Kinnear (1:16:07), 4 Werner Bartsch / Christel Fourie (1:18:42).
CR2-klas: 1 Paul Ackermann / Walter Kinnear (Tsumeb-klub; Sandmaster), 2 Werner Bartsch / Christel Fourie (Walvisbaai-klub; V8-Landrover Defender).
CR1-klas: 1 Ekko Eisenberg / Horacio Rietz (Windhoek-motorklub, V8-JAC Dubbelkajuit), 2 SJ Schoeman / Chané Havenga (2.8 L Toyota Hilux GD6).
– [email protected]
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article