Pretorius en Martin oorweldig Hentiesbaai-tydren
MP Pretorius en Anja Pretorius het in laas Saterdag se Hentiesbaai-tydren algeheel die Challenge Rally-afdeling in 56 minute 34 sekondes gewen. Zachary Martin en Anique Schoeman het die sedan-afdeling algeheel met 58:35 oorheers.
Die JAC Hentiesbaai-tydren wat die afgelope naweek deur die Tsumeb-motorklub aangebied was, het behoorlik vir vuurwerke in die woestynlandskap gesorg. Dit was die vierde rondte van die Namibiese nasionale tydrenkampioenskapsreeks, wat vir die eerste keer in 14 jaar ‘n byeenkoms by dié kusdorp gehou het.
Van die 18 inskrywings het net sewe spanne in die Challenge Rally-afdeling (CR1 tot CR3) en vier spanne in die sedan-afdeling (S1 tot S4) die byeenkoms suksesvol voltooi.
CR-afdeling se ongevalle
Stefan Labuschagne en René Botha het uitstekend in hul CR2-klas 4x4-V8-JAC gevaar toe hulle nie die laaste spesiale sneldeel (SS8) kon voltooi nie.
Labuschagne sê: “Die verkoeler het in die eerste sneldeel nie sy ding gedoen nie en die enjin het oorverhit. Ons het stadig aangery om die eerste sneldeel te voltooi en kon betyds die verkoeling vir die tweede sneldeel herstel. Die skade moes toe reeds daar gewees het, want in die laaste sneldeel het die enjin se laers opgepak (‘bearings’ geslaan).”
In die CR3-klas het Ruan Viviers en Cecil Koorts wel al agt sneldele in sy 4x4-V8-Renault Duster met 1 uur 01 minuut 17 sekondes op die stophorlosie voltooi. Dié tyd sou hulle algeheel vierde geplaas het met ‘n derde plek in die CR3-klas. Hulle het ongelukkig hulp van toeskouers ontvang en is gediskwalifiseer. Hul tyd word nie erken nie en was van die uitslae uitgesluit.
S-afdeling se ongevalle
Jaco Coetzer en Koos Coetzer (S2-klas) moes ná die eerste sneldeel met sy VW Golf MK 1 die handdoek ingooi, terwyl Wido Bartsch en Raymond Fourie (S4-klas) se 4x4-Toyota Yaris nie sneldele 7 en 8 kon aanpak nie.
Bartsch het gesê: “Ek het heeldag ‘n mis met die enjin gehad en die kar wou nie lekker loop nie. Ek moes seker maar eerder onttrek het om verdere skade te verhoed. Die eindresultaat was dat ek op die ou einde die enjin stukkend gery het. Maar ons sal hom regmaak en dan is ons weer terug!”
George Coetzee en Jannie Coetzee (S2-klas) het wel al agt sneldele met sy Ford Focus in 1:47:50 voltooi. Hulle het ongelukkig dieselfde paadjie as Viviers en Koorts geloop.
Supertydrenreëls
Stefan Bartsch en Alexa Montague-Fryer (S1 VW Polo) het ná hul teenspoed in SS3 weer ingeskryf en in 1:12:43 geëindig. Pieter Greeff en JP Robinson (S1 Toyota Corolla) het in sneldeel 4 twee bande verloor en moes ook weer inskryf nadat hulle hope tyd verloor het. Hul finale tyd was 1:26:02.
Die volledige uitslae
CR-afdeling, algeheel: 1 MP Pretorius/Anja Pretorius (56:34), 2 Steven Marnewick/Roche Louw (58:34), 3 Werner Bartsch/Christel Fourie (59:51).
CR3-klas: 1 MP Pretorius/Anja Pretorius (56:34) V8-Renault Duster, 2 Steven Marnewick/Roche Louw (58:34) Zarco.
Gediskwalifiseer: Ruaan Viviers/Cecil Koorts (1:01:17) V8-Century CR6.
CR2-klas: 1 Werner Bartsch/Christel Fourie (59:51) V8-Landrover Defender.
Nie klaargemaak nie: Stefan Labuschagne/René Botha (V8-JAC).
CR1-klas: 1 SJ Schoeman/Chané Havenga (1:01:25) Toyota Hilux GD6, 2 Ekko Eisenberg/Horacio Rietz (1:01:46) V8-JAC, 3 Rossouw Bezuidenhout/Michael Maritz (1:04:18) Chrizelda Kritzinger/Ruan de Lange (1:10:52).
Sedan-afdeling
Algeheel: 1 Zachary Martin/Anique Schoeman (58:35), 2 Donovan Vermaak/Len Fölscher (1:02:00), 3 Kai Pretorius/Oliver Pretorius (1:02:57).
S4: Nie klaar gemaak nie. Wido Bartsch/Raymond Fourie (Toyota Yaris).
S3: Geen deelnemers nie.
S2: 1 Zachary Martin/Anique Schoeman (58:35) VW Polo.
Nie klaargemaak nie. Jaco Coetzer/Koos Coetzer (VW Golf MK1).
Gediskwalifiseer: George Coetzee/Jannie Coetzee (1:47:50) Ford Focus.
S1: 1 Donovan Vermaak/Len Fölscher (1:02:00) Toyota Corolla, 2 Kai Pretorius/Oliver Pretorius (1:02:57) Toyota Corolla, 3 Zirk Jansen/Yolande Engels-de Lange (1:24:11) Toyota Corolla.
Spesiale tydrenreëls: Stefan Bartsch/Alexa Montague-Fryer (1:12:43) VW Polo, Pieter Greeff/JP Robinson (1:26:02) Toyota Corolla.
Die vyfde rondte van die Namibiese nasionale tydrenkampioenskap vind op 10 Oktober by Gobabis plaas.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article