Everson, Eisenberg beklink tweede rondte

Motorsport
Topgehalte bestuursvernuf en hope aksie het vir die beperkte getal inskrywings vergoed.
Tielman Van Lill
Die tweede byeenkoms van die Namibiese nasionale langbaanresieskampioenskap is die afgelope Saterdag met net sewe inskrywings afgeskop.

Uit die sewe deelnemers het net vier daarin geslaag om al drie renne by die Tony Rust-renbaan wes van die hoofstad te voltooi. Hoewel die inskrywings min was, het topgehalte bestuursvernuf en hope aksie vir die gebrek aan getalle vergoed.

Veral die laaste resies was aangename kykgenot waar Jan Everson van die Walvisbaai-motorklub eerste oor die eindstreep gejaag het. Hy het sy goed voorbereide oranje agtklep tweeliter Opel Astra (spaceframe) meesterlik hanteer om Clive Strydom (VW Golf 2-liter agtklep) in die Klubmans Klas C te klop.

Everson het die eerste en derde ren gewen, terwyl Strydom die tweede resies van die dag ingepalm het. Clive het egter die vinnigste rondtetyd van die dag behaal met 76.12 sekondes op die stophorlosie gevolg deur Jan in 77.21 sekondes kort op Strydom se hakke.

Die Klubmans Klas D-afdeling is deur Ekko Eisenberg in sy tweeliter agtklep VW Golf in die afwesigheid van Marius van Zyl gewen.

Eisenberg se vinnigste rondte was 78.10 sekondes, terwyl Van Zyl sy 1.8-liter Turbo Audi in 78.36 sekondes om die baan gevat het. Vanweë meganiese probleme het Van Zyl nie een van die drie renne gery nie.

Eisenberg het ook tydens die eerste ren probleme ondervind en kon nie die resies voltooi nie. Hy het wel die tweede en derde renne van die dag voltooi.

Craig Bisschoff (Toyota MR2) en Chané Havenga (Ford Fiesta 1.6 liter) het vir die Klubmans Klas F-resies ingeskryf. Bisschoff het in die kwalifiserende rondtes 85.25 sekondes aangeteken, maar Chané kon nie uit die blokke kom nie. Beide Bisschoff en Havenga moes die dag se aksie as toeskouers meemaak.

Die groentjie Horacio Rietz het sy eerste baanresies in die Klubmans Klas X-afdeling met sy 1.8-liter 16-klep VW Golf begin. Klas X is waar al die beginners wegspring en gaandeweg vir hoër klasse kwalifiseer namate hulle vordering maak.

Rietz se beste rondtetyd was 79.65 sekondes, wat belofte vir die res van die 2025-resiesseisoen inhou. Hy is ook die navigator vir Ekko Eisenberg wanneer dié duo vir tydrenne in hul vyfliter V8-JAC-dubbelkajuitbakkie in die uitdaagklas (offroad) aantree.

Die 2025 Tara-tydren wat deur die Windhoek-motorklub aangebied word, vind van 5 tot 7 Junie in die omtes van die hoofstad plaas. Vele van die manne wat langbaanrenne jaag, is ook by tydrenne betrokke. Moontlik was dit ‘n bydraende faktor in die beperkte getal inskrywings die afgelope Saterdag.



Uitslae

Klas C: 1 Jan Everson (2.0-liter agtklep Opel Astra spaceframe, 19 kampioenskappunte), 2 Clive Strydom (VW Golf 2.0-liter agtklep, 17 punte).

Klas D: 1 Ekko Eisenberg (VW Golf 2.0-liter agtklep, 14 punte).

Klas X: Horacio Rietz (VW Golf 1.8-liter 16-klep, 12 punte).



Nasionale puntestand (onbevestig) ná twee byeenkomste:

Klas B: Allan Martin (15).

Klas C: Jan Everson (38), Clive Strydom (24).

Klas D: Ekko Eisenberg (35), Marius van Zyl (21), Zachary Martin (15).

Klas F: Charné Havenga (0), Craig Bisschoff (0).

Klas X: Horacio Rietz (12).

[email protected]