Momentum bied suksesvolle korporatiewe gholfdag aan
Momentum Namibia het Vrydag ’n suksesvolle korporatiewe gholfdag by die Windhoek Gholfklub aangebied wat makelaars, kliënte en vennote byeengebring het vir ’n dag van kompetisie, netwerkgeleenthede en goeie spel.
’n Totaal van 20 spanne, altesaam 80 spelers, het die baan aangepak in ‘n kompetisie wat beide mededingend en genotvol was.
Die geleentheid is gereël deur DZ Golf, ’n Namibiese maatskappy wat spesialiseer in die koördinering van gholfgeleenthede en handel in gholftoerusting, klere en korporatiewe drag. Benewens die toernooi is gratis gholflesse ook op die dag aangebied vir diegene wat hul vaardighede wou slyp.
Mededinging aan die voorpunt
Peregrine Brokers se span het die eerste plek met ’n indrukwekkende 103 punte ingepalm. Die wenspan het bestaan uit JC Greyling, Malcolm Moore, Simon Celliers en Ryno Holland-Muter.
Die tweede plek is met 100 punte deur FNB Insurance se span van Georg Garrels, Etienne Brits, Regardt Kruger en Terence Lind verseker.
Fairtree Asset Management het die derde plek behaal met 97 punte. Hul span het bestaan uit Simon Ulamba, Mandume Bachler, Justus Amutenya en Dewald Coetzee.
Pryse vir houe naaste aan die pen is toegeken aan JC Greyling (putjie 3), Wikus Krugel (putjie 5), Simon Celliers (putjie 9) en Colin Peake (putjie 17)
‘Julle is die hartklop van ons besigheid’
Momentum Namibia se bemarkingspesialis, Charnel-Ann Heyn, het haar waardering uitgespreek teenoor almal wat deelgeneem het.
“Ons bedank graag almal hier wat deelgeneem en ingeskryf het. Dankie aan ons makelaars. Ek dink hierdie geleentheid was vir julle die lekkerste. Julle is die hartklop van ons besigheid, so dankie aan almal wat hier is en aan almal wat voortdurend met ons besigheid doen,” het sy gesê.
Heyn het spesiale dank uitgespreek teenoor Dan Zwiebel en sy span by DZ Golf vir die reëlings van die dag wat vir almal vlot en aangenaam verloop het.
Sy het bygevoeg die doel van die dag was om makelaars te bederf met ’n betekenisvolle ervaring buite die raadsaal en om verhoudings in ’n ontspanne omgewing te versterk.
Herman de Wet, makelaarskonsultant by Momentum, het dieselfde gevoel gedeel. “Ons waardeer almal wat by die gholfdag is – kliënte, potensiële kliënte en almal wat betrokke is. Dankie vir die ondersteuning. Aan die einde van die dag gaan dit daaroor om iets terug te gee. Ons geniet die gholfdag,” het hy gesê.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article