Eagles klop Nepal in naelbytstryd
Die FNB Eagles het Maandag hul laaste Internasionale Eendagwedstryd (ODI) teen Nepal met net drie lopies in Utrecht, Nederland, gewen.
Die Eagles het eerste gekolf en 211 lopies vir die verlies van sewe paaltjies in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken.
KC Karan se boulaanval het Namibië se kolwers behoorlik onder druk geplaas. Hy het vyf paaltjies vir 29 lopies in sy tien boulbeurte laat kantel.
Karan het Malan Kruger (15), Louren Steenkamp (59), Gerhard Erasmus (3), JJ Smit (3) en Zane Green (6) uitgehaal.
As dit nie vir Jan Frylinck se honderdtal en Steenkamp se 59 was nie, kon die Eagles in groot moeilikheid gewees het. Frylinck het sy tweede honderdtal in ’n ODI aangeteken, maar is ongelukkig in die 49ste boulbeurt deur Rohit Paudel uitgehardloop terwyl hy saam met Nicol Loftie-Eaton gekolf het.
Steenkamp is in die 42ste boulbeurt deur Kushal Bhurtel uitgevang. Dit was sy vierde vyftigtal in slegs ses ODI-kolfbeurte.
Gedissiplineerde boulwerk
Nepal het uitstekend geboul en Namibië kon slegs 46 lopies deur grenshoue aanteken.
Frylinck en Steenkamp het hul paaltjies goed beskerm en ’n vennootskap van 125 lopies opgebou. Frylinck het 149 balle gebruik om sy 100 lopies te bereik en het net drie viere geslaan.
Steenkamp het teen bykans dieselfde kolftempo (67%) gekolf en 87 balle vir sy 59 lopies gebruik. Hy het vyf grenshoue (vier viere en een ses) in sy sewende ODI aangeteken.
Jack Brassell was Namibië se suksesvolste bouler met drie paaltjies vir 46 lopies in tien boulbeurte teen ’n ekonomiese tempo van 4,6 lopies per boulbeurt.
Ruben Trumpelmann het twee paaltjies geneem, maar was effens duurder met 5,2 lopies per boulbeurt.
Bernard Scholtz was weer eens die suinigste bouler van albei spanne. Hy het tien boulbeurte afgestuur teen net 1,4 lopies per boulbeurt, waaronder twee leegbeurte. Brassell het ook een leegbeurt geboul.
Hardnekkige Nepal
Nepal het in die laaste twee boulbeurte nog 28 lopies van 12 balle vir die oorwinning benodig.
Gulsan Jha en Aarif Sheikh het die Eagles behoorlik laat sweet. Hulle het JJ Smit in die 49ste boulbeurt vir 11 lopies aangevat en Gerhard Erasmus in die laaste boulbeurt vir 13 lopies.
Erasmus het egter sy senuwees behou, ondanks die feit dat albei kolwers as gevaarlike grootslaners bekend is. Hy en Smit het daarin geslaag om hulle tot slegs twee grenshoue (2x4) in die laaste twee boulbeurte te beperk.
Die drielopie-oorwinning is Namibië se kleinste sege nóg in ODI-krieket. Die vorige kleinste wenmarge was 12 lopies teen Kanada.
Karan hou intussen die Nepalese rekord vir die meeste vyfpaaltjie-vertonings in ODI's, met vier, en het Sandeep Lamichhane daarmee verbygesteek.
Namibië se boulsyfers
Ruben Trumpelmann 2/52 (10; 5,2), Jack Brassell 3/46 (10; 4,6), JJ Smit 0/42 (10; 4,2), Bernard Scholtz 0/14 (10; 1,4), Nicol Loftie-Eaton 0/20 (5; 4,0), Gerhard Erasmus 0/30 (5; 6,0).
Met dié oorwinning het Namibië twee punte verdien en met 26 punte na die vyfde plek op die puntelys opgeskuif, bo Nepal.
Namibië se lopies (211/7 in 50 boulbeurte)
Michael van Lingen 5 (16 balle, 1x4; uitgeboul Sompal Kami), Malan Kruger 15 (22 b, 1x4; gevang Aarif Sheikh, geboul KC Karan), Jan Frylinck 100 (149 b, 3x4; uitgehardloop Rohit Paudel), Louren Steenkamp 59 (87 b, 4x4, 1x6; gevang Kushal Bhurtel, geboul KC Karan), Gerhard Erasmus 3 (7 b; gevang Sandeep Lamichhane, geboul KC Karan), Nicol Loftie-Eaton 10* (14 b), JJ Smit 3 (2 b; gevang Kushal Bhurtel, geboul KC Karan), Zane Green 6 (3 b, 1x4; gevang Gulsan Jha, geboul KC Karan).
Ekstralopies: 10 (1 loslopie, 1 bylopie, 8 wydlopers).
Grenshoue: 11 (10x4, 1x6) vir 46 lopies.
Nie gekolf nie: Ruben Trumpelmann, Bernard Scholtz en Jack Brassell.
Nepal se boulsyfers
KC Karan 5/29 (10; 2,9), Sompal Kami 1/47 (7; 5,85), Dipendra Singh Airee 0/36 (10; 3,6), Sandeep Lamichhane 0/36 (8; 4,5), Rohit Paudel 0/39 (10; 3,9), Gulsan Jha 0/19 (4; 4,75), Aarif Sheikh 0/9 (1).
Nepal se lopies (208/6 in 50 boulbeurte)
Kushal Bhurtel 34 (47 b, 3x4, 1x6; gevang Nicol Loftie-Eaton, geboul Jack Brassell), Aasif Sheikh 45 (89 b, 4x4; gevang JJ Smit, geboul Ruben Trumpelmann), Ishan Pandey 14 (32 b, 1x4; gevang paaltjiewagter Zane Green, geboul Jack Brassell), Bhim Sharki 1 (12 b; gevang Zane Green, geboul Jack Brassell), Rohit Paudel 41 (50 b, 3x4; gevang Nicol Loftie-Eaton, geboul Ruben Trumpelmann), Dipendra Singh Airee 3 (11 b; uitgehardloop deur Malan Kruger en Zane Green), Aarif Sheikh 38* (49 b, 3x4), Gulsan Jha 19* (10 b, 2x4).
Ekstralopies: 13 (4 bylopies, 9 wydlopers).
Grenshoue: 17 (16x4, 1x6) vir 70 lopies.
Nie gekolf nie: Sompal Kami, KC Karan en Sandeep Lamichhane.
Krieketwêreldbekerliga 2-puntestand
- VSA – 43 punte (32 ODI’s)
- Skotland – 38 (32)
- Nederland – 36 (30)
- Oman – 31 (28)
- Namibië – 26 (31)
- Nepal – 24 (31)
- Kanada – 24 (28)
- Verenigde Arabiese Emirate – 14 (24)
Nepal speel vandag sy laaste ODI teen Nederland, terwyl Namibië Vrydag die gasheer in sy laaste wedstryd van die toer pak.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article