Bulstryde tussen klubs voorspel
Vier premierligawedstryde van die Namibiese Rugby-unie (NRU) word môre in Grootfontein, Rehoboth, Swakopmund en Windhoek beslis.
Die nege klubs wat om die nasionale premierligatitel meeding, is FNB Grootfontein 1, FNB Wanderers 1, Montego United 1, FNB Kudus 1, FNB Unam 1, FNB Rehoboth 1, FNB Dolphin 1, FNB Reho Falcon 1 en FNB Western Suburbs 1.
Western Suburbs reis na Grootfontein vir hul ontmoeting met die voorlopers, terwyl Wanderers (tweede op die punteleer) vir Dolphin in Swakopmund uitdaag. In Windhoek ontvang United vir Rehoboth, terwyl Unam en Reho Falcon op Rehoboth kragte meet in ’n wedstryd wat regstreeks deur NTV uitgesaai sal word.
Die NRU se premierliga betree weer ’n belangrike naweek waar elke sege van kardinale belang is. Die titelstryd raak al hoe feller en waardevolle ligapunte is in al vier wedstryde op die spel. Slegs die topvier spanne kwalifiseer ná die sestien groepwedstryde vir die twee halfeindstryde.
Grootfontein en Western Suburbs
Die voorlopers, FNB Grootfontein (37 punte), sal hul voorsprong boaan die punteleer wil verstewig wanneer hulle die laaste geplaaste FNB Western Suburbs op tuisbodem ontvang.
Grootfontein het sewe van hul agt wedstryde gewen en spog met 42 drieë, waarvan 32 verdoel is. Hul teenstanders het self 34 drieë gedruk.
FNB Western Suburbs wag ná sewe wedstryde steeds op hul eerste oorwinning en het net een ligapunt. Jood Opperman se troepe het 19 drieë gedruk, maar reeds 47 afgestaan.
Op papier behoort die tuisspan as die uitgelese gunsteling die veld te betree en sal hulle vir ’n bonuspunt mik. Met só ’n oorwinning sal Grootfontein hul voorsprong boaan die punteleer verder verstewig.
Grootfontein het reeds 304 punte aangeteken, terwyl hulle 229 afgestaan het – ’n positiewe punteverskil van 75.
Wikus Jacobs, kaptein van Grootfontein, het gesê: “Ons lees niks daarin dat hulle laaste op die punteleer is nie. Dit gaan ’n harde wedstryd wees, want Suburbs is ’n onvoorspelbare span met ’n goeie afrigter, Jood Opperman.
“Ons sit sonder die dienste van Lazurus Joseph en Kaino Shetukana, wat na Unam vertrek het. Ons het egter genoeg diepte en sal die beste moontlike span op die veld plaas. Hopelik daag ons ondersteuners op om die span die nodige motivering te gee.
“Hopelik kan ons dié een ook wen. Elke sege van nou af sal ons pad na die halfeindstryde net makliker maak.”
Dolphin en Wanderers
Die tweede geplaasde FNB Wanderers (35 ligapunte) reis na Swakopmund waar FNB Dolphin wag. Dit kan ’n moeilike wegwedstryd vir die besoekers wees.
Wanderers het ses van hul sewe wedstryde gewen en spog met die beste punteverskil (+173) in die liga. Die Wit Hingste beskik oor ’n rotsvaste verdediging en ’n gevaarlike aanval. Hulle het reeds 51 drieë gedruk, waarvan 37 verdoel is, terwyl slegs 24 teen hulle aangeteken is.
Dolphin beklee tans die sewende plek met 14 ligapunte ná twee oorwinnings uit sewe wedstryde. Die kusspan het reeds bewys dat hulle tuis gevaarlik kan wees, maar Wanderers weet ’n oorwinning kan hulle boaan die punteleer plaas indien uitslae elders in hul guns verloop.
Dolphin het 33 drieë gedruk en 48 afgestaan.
United en Rehoboth
Montego United het, nes Wanderers, 35 ligapunte, maar beklee die derde plek weens ’n swakker punteverskil. Hulle verwelkom FNB Rehoboth in nóg ’n botsing wat groot implikasies vir die titelwedloop kan inhou.
United beleef ’n uitstekende seisoen met ses seges uit sewe wedstryde en beskik oor een van die beste verdedigingsrekords in die liga. Hulle het net 159 punte afgestaan en 298 aangeteken vir 'n positiewe punteverskil van 139.
Daar skort ook niks met die Filistyne se aanval nie. Hulle het reeds 47 drieë gedruk, terwyl hul teenstanders net 21 kon aanteken.
Rehoboth is sesde met 16 ligapunte ná drie oorwinnings en sal hoop om United se titelaanspraak te kelder. Die 41 drieë wat Rehoboth afgestaan het, teenoor hul 23 wat gedruk is, vertel egter 'n ander verhaal.
Reho Falcon en Unam
Die mees mededingende kragmeting behoort teoreties tussen FNB Reho Falcon (9 ligapunte) en FNB Unam (19 ligapunte) te wees.
Reho Falcon, agtste op die punteleer, het tot dusver net een oorwinning behaal, terwyl Unam met drie seges en vier nederlae vyfde is. ’n Oorwinning sal Unam se hoop op ’n plek onder die topvier lewendig hou. Reho Falcon is desperaat en sal alles in hul vermoë doen om van die onderste deel van die punteleer weg te beweeg.
Met 32 drieë vir en 30 teen blyk Unam die gunsteling op Rehoboth te wees. Hul positiewe punteverskil van 35 tel in hul guns. Die gasheer se negatiewe punteverskil van 145 bly egter ’n groot uitdaging. Falcon het reeds 46 drieë afgestaan en self 24 gedruk.
Kudus hou dop
FNB Kudus van Walvisbaai (vierde, 26 ligapunte) het die naweek af en sal die uitslae met groot belangstelling dophou. Hulle het vier van hul sewe wedstryde gewen en drie verloor. Saam met Grootfontein het hulle die derde meeste drieë (42) gedruk en 25 afgestaan. Daar is tans ’n voorsprong van sewe ligapunte tussen Kudus en Unam.
Met net die topvier spanne wat ná die groepfase vir die halfeindstryde kwalifiseer, raak elke punt nou belangrik. Grootfontein sal sy plek boaan die punteleer met mag en mening probeer verdedig, terwyl Wanderers en United die druk sal toepas. Unam hou steeds die laaste uitspeelplek in die oog en sal alles in hul vermoë doen om dit te bereik.
Puntestand
- FNB Grootfontein 1 (37)
- FNB Wanderers 1 (35)
- Montego United 1 (35)
- FNB Kudus 1 (26)
- FNB Unam 1 (19)
- FNB Rehoboth 1 (16)
- FNB Dolphin 1 (14)
- FNB Reho Falcon 1 (9)
- FNB Western Suburbs 1 (1)



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article