Bulls en Whisperers behou wenpas in Desert Ice Challenge
Die BDO Gobabis Bulls en YouTrack Fleet Management Run Whisperers het onderskeidelik hul botsings teen die Moola Betting Green Mambas en Supatronix Unam Zebras met agt paaltjies en 152 lopies gewen.
Die Bulls (123/2) het wel die lootjie verloor, maar die wedstryd met goeie boulwerk en die twee vyftigtalle van hul kaptein, Keith Kondo, en Henré Opperman in 17.1 boulbeurte beklink.
Die Mambas het eerste gekolf en is tot 122/6 in hul 20 toegelate boulbeurte beperk. Nicol Loftie-Eaton, wat op nommer drie gekolf het, was die Mambas se beste kolwer met 67 lopies van 51 balle. Sy beurt het nege grenshoue opgelewer, naamlik ses viere en drie sesse.
Ongelukkig het hy nie genoegsame ondersteuning van sy medekolwers gekry nie. Die res van die Mambas se lopies is soos volg aangeteken: JW Junius (1 van 5 balle), Henry Hayes (0 van 1), Alexander Parker (13 van 31, 2x4), Abrie Fourie (0 van 1), Janse Janse van Rensburg (0 van 3), Johan Geldenhuys (17* van 14, 1x4, 1x6) en Willie Junius (11* van 10). Ekstras het 13 lopies bygedra.
Die Mambas het 13 grenshoue vir 60 lopies aangeteken (9x4, 4x6).
Die Bulls se boulsyfers
Adriaan Coetzee was sy span se beste bouler met 2/23 in vier boulbeurte. Willem Lottering (1/22 in 4 bb), Tawanda Sithole (1/16 in 4 bb), Armand Smith (0/32 in 4 bb), Kobus Brand (1/16 in 3 bb) en Tatenda Sithole (0/13 in 1 bb) het hom goed ondersteun.
Opperman se onoorwonne 56 het van 46 balle gekom en het vyf viere en twee sesse ingesluit. Kondo het 51* van 43 balle aangeteken met twee viere en drie sesse.
Die ander bydraes was Josue Celliers (7 van 10, 1x4) en Adriaan Coetzee (3 van 4). Ekstras het ses lopies bygedra. Die Bulls het 13 grenshoue aangeteken (8x4, 5x6).
Salomon Nuuyoma (1/24 in 3 bb) was die enigste Mamba-bouler wat ’n paaltjie kon neem. Adriaan Coetzee is deur Willie Junius uitgehardloop.
Johan Geldenhuys was die mees ekonomiese bouler met sy syfers van 0/17 in vier boulbeurte (4,25 lopies per boulbeurt), terwyl Eathan du Toit die duurste was met 0/19 in twee boulbeurte (9,5 lopies per boulbeurt).
Kaptein Kondo het gesê: “Die sege beteken baie vir ons vir die res van die kompetisie. Die Mambas is ’n dinamiese span en hulle het goed gespeel, maar ons boulers was uitstaande om hul kolwers tot min lopies te beperk. Ons het sedert Maart 2025 nog nie ’n wedstryd verloor nie en ons is baie trots daarop. Ons het ’n wedstrydplan vir elke teenstander en gaan daarby hou.”
Run Whisperers (198/4 in 20 bb) teen Zebras (46 almal uit in 9.4 bb)
Die Whisperers het min teenstand van die Zebras ondervind en hul totaal met 24 grenshoue (nege viere en 15 sesse) tot 198/4 opgebou.
Nyasha Nyashadzaishe het ’n uitstekende vyftigtal behaal, met Wessel Myburgh (48 lopies) kort op sy hakke.
Die Whisperers se voorste kolwers was Nirav Ladani (34 van 19 balle, 1x4, 4x6), Nyashadzaishe (55 van 40, 3x4, 3x6), Ewan Lombard (30 van 24, 2x4), Myburgh (48 van 22, 2x4, 5x6) en Abri Oberholzer (28* van 15, 3x6).
Ankur Kathuria het drie paaltjies vir 48 lopies in vier boulbeurte geneem, terwyl Prakash Kothari een paaltjie vir 31 lopies in vier boulbeurte geëis het.
Janco Schlechter was die Zebras se beste kolwer met 12 lopies van agt balle (1x4). Geen ander kolwer kon meer as 11 lopies aanteken nie.
Die Whisperers se boulafdeling
Pieter Meuwesen (3/8 in 2 bb), Christoff van der Merwe (2/2 in 1.4 bb) en Kairavbir Singh Malhotra (2/14 in 2 bb) was die voorste paaltjienemers.
Nyashadzaishe, Lucas Kruger en Asad Abbas het elk een paaltjie geneem.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article