Nog pare van Windhoek-gholfklub dring deur

Gholf
Bykans 90 lede van die klub het vir die afgelope naweek ingeskryf.
Sportredaksie

Die Windhoek Gholfklub het laas naweek vir 'n uitsonderlike veld van 88 klublede die derde van vyf gesogte kwalifiserende geleenthede in die King Price Internasionale Parespel aangebied.

Die toernooi het uitstekende kompetisie, merkwaardige tellings en sportmanskap gelewer soos in een van die streek se voorste amateurgholftoernooie verwag kan word.

Ná 'n mededingende rondte het vier spanne hul kwalifisering vir die komende streekfinaal verseker.

Die topprys vir die dag is aan Paulus Shifonono en Gelson Gideon oorhandig, wat die eerste plek met 'n indrukwekkende 46 punte behaal het.

Ruan Greyling en Justus Amutenya het in die tweede plek geëindig met 'n sterk vertoning van 45 punte, danksy konsekwentheid en ‘n mededingende ingesteldheid.

Vir die oorblywende kwalifiserende posisies was 'n uittel nodig toe vyf spanne gelykop op 44 punte klaargemaak het.

Phillipus Hamunyela en Tommy Nangombe (44 punte) wen die uittel op putjie 5 en is derde geplaas.

Vierde met 44 punte was Bertus Damon en Claud Abrahams, danksy die uittel op putjie 10.

Die geleentheid is gekenmerk deur uitsonderlike energie en mededingende gees, wat bygedra het tot 'n onvergeetlike dag op die baan.

Die vier kwalifiserings vir die naweek (aangepas op grond van spanne wat reeds tevore hul kwalifisering verseker het) was:

• Paulus Shifonono en Gelson Gideon

• Phillipus Hamunyela en Tommy Nangombe

• Claud Abrahams (mag 'n maat kies wat op dieselfde dag gespeel het)

• Fanie Oosthuizen en Johan Grobler

Die Windhoek Gholfklub wens alle kwalifiserende spanne geluk en voorspoed toe wanneer hulle in die streekfinaal meeding.

Pryse vir houe naaste aan die pen is deur Jackson Kawaya (putjie 3), Danie van Schoor (putjie 9), Rocel Celliers (putjie 13) en Bertus Damon (putjie 17) losgeslaan.