Bonifatius slaan eerste slag van 2026 in valbyl op Walvisbaai

Gholf
Wensley Haseb het die uiteindelike kampioen hard gedruk.
Andrew Poolman

Die eerste Nagu-toernooi van die 2026-kalender is die afgelope naweek afgehandel, toe Stefanus Bonifatius naelskraap daarin geslaag het om as wenner van die Rubicon Walvisbaai Ope na vore te tree.

Ná 36 putjies het Wesley Haseb (Tsumeb) en Bonifatius gelykop geëindig (bruto telling 147, drie oor baansyfer). Dit het drie putjie in die valbylstryd gekos voordat Bonifatius ‘n voëltjie aangeteken het om die titel te beklink.

Op ‘n aangename dag vir gholf het ‘n vol veld van 65 spelers aangetree vir die eerste van Nagu (Namibiese Amateurgholfunie) se toernooie vir die jaar by klubs landwyd, waar spelers punte op die nasionale merietelys kan verdien.

Die algehele netto-wenner was Charles Hoaseb op 139, wat die plaaslike klub se veteraan André Burger (142) oortref het.

Van die ander voorste uitslae:

A-afdeling, beste netto: 1 Edwin Geinub (147), 2 H. Noabeb Jnr, 3 Alfred Ndyenge.

A-afdeling, beste bruto: 1 Jonathan Mather (150)

B-afdeling, beste netto: 1 H. Smidt, 2 D. Peake, 3 H. Simon (uittel).

B-afdeling, beste bruto: 1 P Shigwele.

C-afdeling, beste netto: 1 W. Breytenbach (junior), C. Shyamano, 3 P. van Niekerk.

C-afdeling, beste bruto: 1 T. Shitaleni.

Stableford (8 inskrywings): 1 Shane Westerdale, 2 K. Chigwara, 3 L. Kambarami.

Naaste aan die pen (putjie 2 en 11): S. Masippa.

Tydens die prysuitdeling het Nagu se president, Toady Gurirab, die spelers bedank wat van so ver as Grootfontein, Tsumeb, Oranjemund en Mariental gereis en hul toewyding gewys het. Hy het ook vir Walvisbaai-gholfklub geloof wat ‘n baan in puik kondisie voorberei het.

Danie Roets van die borg Rubicon het ook hul voortgestte steun vir die toernooi bevestig.

• Sondag is ‘n maandelikse Sages-toernooi by die Walvisbaai-klub aangebied, wat skenkings van N$10 000 elk aan His House en die Namibiese Kankervereniging ingesamel het. Op die baan was Eddie van Wyk die wenner (39 punte), voor Tienie de Wet (35) en Johnny Borges (35 op uittel).