Vera beoog steeds druk op voorlopers
Bergfietsry
Ná 'n afdag twee naweke gelede in Italië het die Namibiese kampioen Sondag heelwat beter gevaar.
Die Namibiese bergfietsryer Vera Looser het Sondag in Naturland, Andorra, derde klaargemaak in die UCI Hero Wêreldbeker-marathonreeksbyeenkoms.Looser het verlede jaar se reeks (drie byeenkomste, wat elk oor ‘n afstand van 100 kilometer beslis is) gewen om sodoende die wêreldtitel in die marathon-formaat agter haar naam te kan skryf. Die 31-jarige driemalige Olimpiese ryer het gewis haar niche in die fietsrykodes gevind.
Vanjaar se reeks is tot vyf byeenkomste uitgebrei, met die eerste twee (die Capoleveri in Italië twee naweke gelede, asook laas naweek se Naturland in Andorra) wat beide op roetes van 60 kilometer afgehandel is.
In Italië moes Looser egter met die negende posisie tevrede wees. Hoewel die Andorra-resies vir haar beter verloop het met haar eerste podiumplek vir die jaar, het sy ‘n redelike agterstand in haar mededinging om haar titel te behou.
Boonop het Rosa van Doorn van Nederland sover beide die resiese in 2025 gewen. Van Doorn het Sondag se resies (60 kilometer, met 1,985 meter se vertikale klimwerk) in drie ure 24 minute 41 sekondes gewen, met Sandra Meirhofer van Italië tweede (3:27:18).
Looser was derde (3:34:18) nadat sy ‘n resies vir die eindstreep net-net beklink het teen Lejla Njemcevic van Bosnië wat met dieselfde tyd vierde geplaas is. Debora Piana van Italië was meer as ‘n minuut later in die vyfde plek.
Looser sê: “Die reeks het vir my nie ideaal begin met die negende posisie in Italië nie. Niks spesifiek het verkeerd geloop nie; ek het nie een van my bested ae beleef nie.
“Ek verwag nie noodwendig om genoegsaam te kan inhaal om weer die reeks te wen nie, maar ek glo ek kan steeds op die algehele podium klaarmaak. Ek weet nie wat die huidige puntestand nou is nie, maar ek raai ek is dalk nou min of meer vyfde.
“Ek verkies nogal die korter afstande vir vanjaar se reeks, eerder as verlede jaar se lang afstande wat ook baie lang en steil klimme bevat het.
“Die drie byeenkomste wat oorbly, is weer in Italië op 14 Junie (Südtirol Dolomites), 13 Julie in Duitsland (Black Forest Ultra Bike Marathon in Kirchzarten) en op 21 September in Spanje (La Tramun Sea Otter Europe, naby Girona).
“Die vierde byeenkoms in Duitsland sal wel weer ‘n langer 120 km wees, en die UCI wêreldkampioenskap vroeg in September in Switserland sal ook een van die moeilikste bergfietsroetes wees oor 125 km met rofweg 5,000 meter se klimwerk. Dit gaan ‘n superlang en veeleisende resies wees wat nie noodwendig in my kraal val nie, maar ek berei voor so goed as wat ek kan.”
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article