Tour de Windhoek lewer waardige kampioene

Padfietsry
Die 2025-weergawe die afgelope naweek was in verskeie opsigte 'n tree vorentoe vir die plaaslike sport.
Andrew Poolman
Die Rwandese padfietsryer Xaverine Nirere se indrukwekkende vertoning om vroeg haar stempel in die vierdaagse Pupkewitz Megabuild Tour de Windhoek af te druk, sal ‘n blywende herinnering van laas naweek se 2025-weergawe wees.

Die 23-jarige Nirere (Team AMANI) het gedurende die derde skof – ‘n padresies van 76 km na Kupferberg – solo weggebreek en ‘n voorsprong van bykans twaalf minute tussen haar en die res oopgery. Dit het meegebring dat sy in Sondag se laaste skof konserwatief kon ry en bloot naby aan enige wegbreekpoging kon bly.

Nirere, wat vanjaar Rwanda se nasionale tydtoetstitel gewen het, het agterna uitgewys dat die Afrika-padfietskampioenskap in September in haar tuisland aangebied word en dat die UCI-wêreldranglyspunte (40 vir die wenner) wat vir die eerste keer in die Tour de Windhoek se vroueresies op die spel was, vir haar loopbaan van groot belang is.

Nirere se gedugte Team AMANI het die spankompetisie vir vroue verreweg oorheers, met Pirtek Customized Cycling tweede, Cycle Nation Enza Construction derde, Maritius Ladies vierde, Team Rwanda vyfde en Hollard Ladies sesde.

• In die kategorie vir die beste Namibiese vroueryer het Anri Greeff (Team Namibia) die blou trui voor Melissa Hinz (Hollard Ladies) en Delsia van Vuuren opgeraap.

Greeff het in onderhoude uitgewys dat die groot groep vroue-inskrywings (95 in nege spanne) en gepaardgaande spantaktiek om in ‘n peloton te ry, ‘n ondervinding is wat selde op hierdie vlak op Namibiese bodem beleef word.

• Die o.23-ryer Merhawit Asgodom van Ethiopië het die bergklim-puntelys met 19 punte teen haar AMANI-spanmaats Serkalem Watango en Nirere ingepalm.



Derde titel vir Drikus

Namibië se Drikus Coetzee (30) het vir die derde keer in sy loopbaan as die Tour de Windhoek se manswenner na vore getree, ná 2020 en 2023.

Coetzee (Hollard Elite) het ook die toer se algehele polka-trui in die bergklim-skofte beklink, met 24 punte teen sy Namibiese uitdagers Roger Surén (23), Hugo Hahn (13) en Christiaan van Rensburg (13).

In onderhoude het hy agterna gesê hy was voorbereid om harder vir die titel te werk, hoewel die verwagte aanvalle deur die res van die Suid-Afrikaanse, Angolese en Namibiese spanne nie vrugte afgewerp het nie.

“Ek was reg vir ‘n goeie dag op die fiets, maar afgesien van ‘n laat aanval in die laaste tien kilometer (van die laaste skof) was dit nie nodig om aggressief te ry nie. Dit was ‘n goeie spanpoging van die Hollard-manne en ons het mekaar se sterk punte gebruik.”

Coetzee het bygevoeg dat hy nie noodwendig verwag het om hierdie padfietstoer te wen nie, terwyl hy eintlik aan die voorberei is om die Badlands ultra-byeenkoms oor 800 kilometer later vandeesmaand in Spanje te gaan takel.

• Die topvier manspanne was Petro de Luanda (eerste) van Angola, JT 300 (tweede) van Angola, Mannie’s Bike Mecca Men (derde), Team Hollard Elite (vierde) en Cymot Racing (vyfde).



Jeug na vore

Delsia Janse van Vuuren (18) van Namibië het haar kans aangegryp om die Pirtek Customized Cycling-span te verteenwoordig wat verlede jaar se kampioen van die Tour de Windhoek, Kelsey van Schoor, en ander gerekende Suid-Afrikaanse spanmaats ingesluit het.

Janse van Vuuren het die vierdaagse toer as die sesde posisie van die jong ryers (o.23) afgesluit. Sy was in die algehele 19de posisie, met haar landgenoot Monique du Plessis 22ste en sewende van die o.23-vroue.



VROUE se algehele klassifikasie

1 Xaverine Nirere (23 jaar, Rwanda, Team AMANI) 7:18:42

2 Merhawit Asgodom (20 jaar, Ethiopië, Team AMANI) 7:28:37

3 Serkalem Watango (23 jaar, Ethiopië, Team AMANI) 7:28:54

4 Kelsey van Schoor (24 jaar, Suid-Afrika, Pirtek Customized Cycling) 7:29:26

5 Brhan Abrha (29 jaar, Ethiopië, Team AMANI) 7:29:36

6 Lucy Young (31 jaar, Suid-Afrika, Pirtek Customized Cycling) 7:29:38 6

7 Taneal Otto (29 jaar, Suid-Afrika, Cycle Nation Enza Construction) 7:29:40

8 Anri Greeff (30 jaar, Namibië, Team Namibia) 7:30:06

9 Eyerusalem Haftu (26 jaar, Ethiopië, Team AMANI) 7:30:29

10 Lisa Bone (27 jaar, Suid-Afrika, Cycle Nation Enza Construction) 7:30:44

18 Melissa Hinz (40 jaar, Namibië, Hollard Ladies) 7:36:04

19 Delsia Janse van Vuuren (18 jaar, Namibië, Pirtek Customized Cycling) 7:36:17

21 Nina Holtrup (44, Namibië, Hollard Ladies) 7:37:34

22 Monique du Plessis (22 jaar, Namibië, Tshenolo Pro Cycling) 7:37:43



MANS se algehele klassifikasie

1 Drikus Coetzee (32 jaar, Namibië, Team Hollard) 8:14:43

2 Christiaan van Rensburg (38 jaar, Suid-Afrika, CYMOT Racing) 8:15:06

3 Roger Surén (18 jaar, Namibië, MBM Men) 8:15:16

4 Aderito Pereira (19 jaar, Angola, Petro de Luanda) 8:16:31

5 Hosana Goncalves (21 jaar, Angola, Petro de Luanda) 8:16:33

6 Euclides Chingui (25 jaar, Angola, Petro de Luanda) 8:16:35

7 Cristian Perez (23, Angola, JT 300) 8:16:56

8 Cruz Tuto (39 jaar, Angola, Petro de Luanda) 8:17:45

9 Albano Diego (20 jaar, Angola, JT 300) 8:18:27

10 Kilson Rodrigues (18 jaar, Angola, JT 300) 8:19:37

11 Nathan Chase (17 jaar, Namibië, MBM Men) 8:24:33

12 Theuns van der Westhuizen (20 jaar, Namibië, Team Hollard Elite) 8:25:23

15 Hugo Hahn (23 jaar, Namibië, MBM Men) 8:30:52

18 Martin Freyer (30, Namibië, Team Hollard Elite) 8:41:34

19 Murray Koch (42, Namibië, CYMOT Racing) 8:43:28

20 Frank Klosta (37 jaar, Namibië, CYMOT Racing) 8:49:17