Swiegers behaal derde klassege op ‘n streep in Tankwa Trek
Namibiërs het hul klas gewys by die 2026 Tankwa Trek bergfietstoer van 279 kilometer in vier dae in die Bokkeveld se Witzenburg-omgewing, wat van Suid-Afrika se mees unieke natuurtonele bied.
Dag een se proloog van 33 km (bekend as Bokveld Bliss) het sowat 490 klimmeters ingehou, voor die volgende dag se skof (Witzenberg Wizz) van 88 kilometer met 1850 meter om te klim.
Dag drie se Merino Monster het oor 98 km gestrek (2200 meter se vertikale klim). Die mees berugte gedeelte is vanaf kilometer 35 tot 73 – ‘n konstante opdraand wat vanaf 500 tot 1750 meter bo seespieël oor die Waboomsbergpas as een van fietsryers se taaiste klimme in Suid-Afrika bekend is.
Ter afsluiting was die vierde skof (Kaleo Kaleidoscope) se afstand 60 km met 950 meter se klimwerk.
Beproefde kombinasie
In die meestersmansklas het Piet Swiegers (56) van Namibië opnuut bewondering uitgespreek vir die vermoëns van sy rateltaai Duitse spanmaat Udo Bölts (59) wat eintlik as ‘n kwalifiserende grootmeester in die jonger klas gery het.
Die twee het laas November ook saam die meestersklas se toer in die Wines2Whales gewen.
Swiegers en Bölts het in Donderdag se proloog reeds ‘n voorsprong van twee minute opgestel en was selfs haastiger as die veteraneklas (40-49 jaar) se voorstes.
Op dag twee het Swiegers ‘n stryd gevoer teen ‘n meganiese terugslag met sy skokbrekerstelsel wat heelwat onnodige energie getap het, maar die paar het nietemin hul voorsprong in hul klas tot ses minute uitgebrei.
“Op die Merino Monster-klim het ons baie goed gevorder en 18 minute voor die res klaargemaak.
“Op dag vier het ons rustig gery, ons voorsprong beskerm en ons naaste teenstanders die eer gegee om die skofoorwinning te vier. Op die algehele klassifikasie was ons omtrent 23 minute voor die tweede span, Hannes Hanekom en Ben Melt Swanepoel.
In sy fleur het Bölts as ‘n padfietsryer vir 12 opeenvolgende jare die Tour de France gery en klaargemaak (1992-2003), meestal as ‘n “werker” vir twee uiteindelike kampioene in Bjarne Riis en Jan Ullrich, met ‘n beste eindposisie van negende vir Bölts.
Hy was ook drie keer Duitsland se kampioen in die padresies (1990, 1995 en 1999), ‘n skofwenner in die 1992 Giro d’Italia en vierde by die 1997 wêreldkampioenskap.
“Iets besonders van Udo is dat hy weens erge sneeutoestande in Europa vir die ganse Januariemaand net drie keer met sy fiets kon gaan ry. Hoewel hy weining meer as swem of draf kon doen ter voorbereiding op die Tankwa Trek, was hy so sterk soos ‘n bees ... ongelooflik.
“Udo het aangekondig dat hierdie sy laaste kompeterende bergfietsrit in ‘n meerdaagse skoftoer sou wees en ek voel bevoorreg om weer saam met so ‘n legende te kon ry.”
Die oorwinning in die meesterskategorie by die Tankwa Trek (13 ure 08 minute 58 sekondes) is Swiegers se derde op ‘n streep, saam met drie verskillende spanmaats (Franso Steyn in 2024, en Robert Sim in 2025).
Looser en Sanders tweede
In die elite vroueresies het Vera Looser saam met Samantha Sanders van Suid-Afrika in die algehele tweede posisie klaargemaak.
Die twee was vanaf die eerste dag (met 87 sekondes) die naaste aan die agterwiel van die voorlopers en uiteindelike toerwenners, Greta Seiwald en Sara Cortinovis (beide van Italië).
Seiwald en Cortinovis (13:00:48) het die toer uiteindelik 13-en-‘n-half minute voor Looser en Sanders (13:14:20) afgesluit, met die Suid-Afrikaners Cherise Willeit en Ila Stow (derde) op 66 minute agter die wenners.
• Christiaan Janse van Rensburg van Namibië het in ‘n respektabele vierde plek in die amateurmanskategorie van 72 inskrywings klaargemaak, saam met Dutoit van den Bergh van Suid-Afrika.
• Jana von Backström (veteraanvroue) van Windhoek het saam met Jacky Shipanga (amateurvroue) gery en het die toer in 21 ure 44 minute klaargemaak.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article