Ryersgroep laat Namibiese vlag by Cape Epic wapper
Dié prestigeryke Cape Epic bergfietswedren begin Sondag met die proloog op die Meerendal-wynlandgoed buite Durbanville in die Wes-Kaap.
Vanjaar se roete in die agtdaagse toer strek oor Montagu en Greyton en terug na Stellenbosch.
Namibië se Vera Looser takel die Cape Epic saam met Rosa van Doorn van Nederland – ‘n eerste saamspan tussen twee van die mees suksesvolle marathon-bergfietsryers in die vrouesport.
Annika Langvad van Denemarke het verlede jaar haar sesde Epic-titel saam met Sofia Gomez Villafane van Argentinië gewen, maar sal nie hul titel verdedig nie. Looser en haar Amerikaanse spanmaat Alexis Skarda was algeheel tweede.
Die Namibiër het in 2023 as wenner saam met Kim Le Court van Mauritius boaan die podium van die Cape Epic-toer gestaan.
In die manskompetisie maak die gewese Namibiese Olimpiese ryer Tristan de Lange sy terugkeer na die Cape Epic saam met sy 30-jarige landgenoot Martin Freyer.
Hoewel De Lange (28) nie meer soos tevore op professionele vlak meeding nie, sal hy graag wil voortbou op sy sterk vertoning in 2021 saam met die Suid-Afrikaner Marco Joubert, toe hulle op die laaste Sondag die toer in die negende posisie afgesluit en die tweedebeste Afrika-span was.
Namibië se padfietskampioen in 2025 en 2026, Anri Greeff, maak haar Cape Epic-debuut saam met kelsy van Schoor van Suid-Afrika.
NAMIBIESE deelnemers in die Cape Epic in 2026:
Elite vroue: Buff-BH | Efficient Infiniti (52-2 Vera Looser en 52-1 Rosa van Doorn van Nederland).
Elite vroue: Pirtek Hollard (71-2 Anri Greeff en 71-1 Kelsey van Schoor van Suid-Afrika).
Elite vroue: Royally Exhausted | Seawork Cares (73-1 Julika Pahl en 73-2 Linda Detering van Suid-Afrika).
Vroue Ope: SheUntamed NAM (184-1 Jacky Shipena en 184-2 Jana von Backstrom).
Mans Ope: Danste Racing (259-1 Tristan de Lange en 259-2 Martin Freyer).
Mans Ope: The Surgical Institute (91-2 Nicolaas Swart en 91-1 Vaughn Roux van Suid-Afrika).
Mans Ope: King Charcoal (498-2 Louis Oosthuysen en 498-1 Wessel Oosthuysen van Suid-Afrika).
Meestersmans: Honey Badgers (473-1 Rheeder van Wyk en 473-2 Leodolf Swanepoel).
Grootmeestersmans: KFX2 (134-1 Karl Frielingsdorf en 134-2 Klaus Frielingsdorf).
Grootmeestersmans: Hollard Namibia (86-1 Jaco Lamprecht en 86-2 Riaan Boshoff van Suid-Afrika).
Honeycomb 226ERS (15-1 Marc Pritzen, gebore Namibiër wat RSA verteenwoordig en 15-2 Felix Stehli van Switserland).
KOLLIG OP VROUEWEDREN
Die organiseerders het in Januarie aangekondig dat die elite-vrouespanne vir ’n gedeelte van dié agtdaagse skofwedren hul eie roete sal hê.
In vanjaar se wedren beteken dit hulle sal 545 km aflê, teenoor die res van die deelnemers se 707 km.
Die vrouedeelnemers se klimwerk is 13 250 m, teenoor die res se 15 900 m.
Netwerk24 berig die 34-jarige Kapenaar Candice Lill glo die mededinging sal meer intens wees en vroeë aanvalsgeleenthede aanmoedig.
Die elite-vroue sal vanaf die eerste tot sesde skofte hul eie wegspringplek hê.
Lill sê die nuwe formaat is in pas met internasionale standaarde om die vrouedeel van die wedren te laat groei.
Dié Kapenaar sal vanjaar saam met die Switser Alessandra Keller (30) na haar eerste Epic-titel mik.
Lill en die Oostenryker Mona Mitterwallner was in 2024 die naaswenners en in 2023 het sy en haar landgenoot Amy Wakefield ook tweede geëindig.
• ’n Amerikaanse fietsryer se droom om vanjaar haar Cape Epic-debuut te maak, is kortgeknip toe sy in Stellenbosch in ’n fratsongeluk beseer is.
Melisa Rollins (30) sou saam met Kate Courtney (30), ook ’n Amerikaner wat in 2018 die Cape Epic gewen het, as ’n span deelgeneem het.
Rollins was glo Sondagaand op pad terug van die kruidenierswinkel op ’n bromponie toe sy ’n spoedbult getref en van die bromponie afgegooi is.
Rollins skryf op Instagram: “Ek het ’n fratsongeluk gehad wat my in die ongevallesaal met ’n gebreekte elmboog en moontlik ’n gebreekte gewrig laat beland het. Ek sal nie die beginpunt van die Cape Epic haal nie. Om te sê ek is verpletter, beskryf nie eens regtig hoe ek voel nie.”



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article