Looser wys klas met Afrika-goud in marathon
Bergfietsry
Anri Greeff se bronsmedalje ná Looser en Hayley Preen was eweneens indrukwekkend.
Vera Looser se goue medalje in die marathonresies by die Afrika-bergfietsrykampioenskap in Pietermaritzburg het gister die kersie op die koek geplaas van nog ‘n puik uitstalling van dié Namibiese sportkode se huidige en toekomstige kompeterendheid.Met die 31-jarige Looser se topvlak ondervinding en puik onlangse vorm was haar oorwinning redelik te wagte. Haar ambisie om die kontinentale titel te wen, was immers reeds duidelik toe sy onmiddellik ná laas Saterdag se UCI Hero Wêreldbeker-marathonbyeenkoms in Italië die lang reis na KwaZulu-Natal aangepak het.
Op die roete van 80 kilometer (twee rondtes van 40 km) met 1700 meter se klimwerk het die Namibiese kampioen en driemalige Olimpiese padfietsryer op indrukwekkende wyse oorheers. Looser het ook op die padfiets die Afrika-kampioenskap in 2016 gewen.
Haar wentyd van 3 ure 30 minute 01 sekondes was uiteindelik bykans twaalf minute voor Suid-Afrika se Hayley Preen (3:41:56).
Ewe indrukwekkend was Anri Greeff (30) van Namibië se prestasie om as ‘n deeltydse fietsryer net twee minute agter Preen klaar te maak en die Afrika-brons te beklink (3:44:01).
Die nasionale fietsry-afrigter Hans du Toit sê Looser (die 2024-kampioen in die UCI Hero Wêreldbeker-marathonreeks) is van topgehalte en Greeff het gewys sy kan met die bestes in Suid-Afrika saampraat.
“Hayley het onlangs uit die VSA teruggekeer en is definitief een van die sterkste ryers in Suid-Afrika. Die feit dat Anri in die tweede helfte van die resies op haar kon inhaal, was uitstekend. Dit wys dat sy tot soveel meer in staat is.”
Die derde Namibiese vroue-inskrywing, Monique du Plessis (22), het ongesteld gevoel en het voor die halfpadmerk onttrek.
Namibië se twee inskrywings in die marathon vir mans, Theuns van der Westhuizen (20) en Hugo Hahn (23), het onderskeidelik negende en 13de klaargemaak. Suid-Afrika het hier skoonskip gemaak met die eerste agt posisies – gelei deur die nuwe Afrika-kampioen Travis Stedman (2:59:40), wat ‘n jaagtog teen die gebore Windhoeker Marc Pritzen (dieselfde tyd) en Michael Foster (een sekonde later) gewen het. Die gedugte Philip Buys was sesde oor die lyn.
• Namibië het die vorige dag ook in die Olimpiese veldresies (XCO) drie medaljes danksy die junior ryers (o.18) Roger Surén (silwer), Sean Lowe (brons) en Delsia Janse van Vuuren (brons) ingepalm.
Hans du Toit sê: “Vir ons juniors om drie uit die ses medaljes te vat, wil nogal gedoen wees, want Suid-Afrika het rêrig sterk ryers. Rosemarie Thiel was ook sterk geplaas in haar resies (vyfde). Ek is baie trots op wat ons ryers hier reggekry het.”
– [email protected]
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article