Leerskool wag in Paarl vir jong fietsryers

Bergfietsry
Die volgende geslag word blootgestel in die strewe om Namibiese bergfietsry se trotse rekord in Suid-Afrika gestand te doen.
Andrew Poolman

‘n Stewige groep van 29 jong Namibiërs sal Saterdag by die wegspringstreep aantree om in ouderdomsgroepe vanaf onder 10 tot o.18 en o.23 by die jaar se eerste byeenkoms in die Suid-Afrikaanse Beker bergfietsreeks mee te ding.

Die eerste byeenkoms word by die Spice Route Bike Park by Paarl in die Wes-Kaap aangebied. Saterdag se program is die kortbaanresies (bekend as XCC in die sport se terminologie), gevolg deur die veldresiese Sondag.

Die kortbaanroete is 1.4 kilometer, met 43 vertikale klimmeters.

Die veldresiese is op ‘n baan van 4.3 kilometer, met 152 meter se vertikale klimme, met verskillende aantal baanrondtes afhand van die kategorie. ‘n Vooraf oefenlopie op beide bane is verpligtend vir alle deelnemers.

Namibië het hom reeds oor jare as ‘n gerekende krag in die SA Bekerreeks gevestig.

Roger Surén (silwermedaljewenner by die UCI junior wêreldkampioenskap in Switserland verlede jaar) en Delsia Janse van Vuuren (net soos Surén ‘n gewese o.18 Afrika-kampioen) sal vir die eerste keer in die o.23 ouderdomsklas as deel van die elite resiese meeding. Beide sal vol selfvertroue wees ná suksesse by die afgelope weke se nasionale padfietsresiese.

Die teenwoordigheid van sommige van Suid-Afrika se mees hoëprofiel elite mansbergfietsryers soos Alan Hatherly (2024 Olimpiese brons in Parys), Matthew Beers (driemalige wenner in die Absa Cape Epic), Marco Joubert, Arno du Toit, Samuel Cleary, Massimiliano Ambrosi, Ernest Roets, Michael Foster, Johan van Zyl en Tjaart van der Walt getuig van die aansien van die byeenkoms en die uitdaging wat op Surén wag.

Die viermalige Kanadese manskampioen Cole Punchard en die 19-jarige Switserse vooruitsig Fabrice Walser is ook vir die elite mansresies (sewe baanrondtes; 30.1 km) ingeskryf.

In die elite vroueresies (ses baanrondtes; 25.8 km) sal Janse van Vuuren teen hoog gerekende ryers soos Candice Lill, Lilian Baber, Errin Mackridge, Tyler Jacobs en die besoekers Greta Seiwald (Italië) en Faranak Partoazar (Iran) opgeweeg word.

Die reisende groep – sommige per pad en ander wat vandag invlieg – het reeds twee naweke gelede hul eerste ernstige plaaslike kompetisie in die FNB Skoleligareeks by die IJG Trials-baan in Kleine Kuppe gehad.

In die besonder kompeterende seuns o.18-resies het Marco Thiel die eerste plek voor Christiaan van der Westhuizen, Julius Braun, Mike Baartman en Theodor Janse van Vuuren opgeraap.

 

Die Namibiese ryers is:

 

O.23 mans: Roger Surén.

O.23 vroue: Delsia Janse van Vuuren.

Junior mans (o.18): Mike Baartman, Henry Chamberlain, Dawie Greeff, Theodor Janse van Vuuren, Sean Lowe, Jacques Nel, Franco Thiel, Marco Thiel, Christiaan van der Westhuizen.

Junior vroue (o.18): Rosemarie Thiel.

Seuns onder 16: Micah Chase, York Ahrens, Max Heigan, Karl-Nikolai Lisse.

Meisies onder 16: Joadri de Beer, Nicole Surén.

Seuns onder 14: Hendrik Baartman, John-Pierre (JP) Lambert, Arthur Alain, Patrick von Kunow.

Meisies onder 14: Qara Volschenk, Mienke de Beer.

Seuns onder 12: Lance Hinze, Ted Rust.

Meisies onder 12: Linn Lambert.

Seuns onder 10: Logan Hinze.