Land se beste padfietsryers meet mekaar se krag en vernuf
Die inskrywing van die 28-jarige, uitgetrede Tristan de Lange kan ‘n interessante kinkel in die verloop van die elite mans padresies by Sondagoggend se Nedbank nasionale padfietskampioenskap se padresies oor 165 kilometer verskaf.
Die gedugte en veelsydige Alex Miller is terug om sy titel te verdedig en dit sal inderdaad ‘n sterk poging kos om te keer dat hy sy vierde nasionale padresieskampioenskap inpalm (ná 2025, 2024 en 2019).
Die 25-jarige Miller se 2025-titel in die individuele tydtoets word ook vandag op die spel geplaas.
De Lange, wat meer as ‘n bergfietsryer bekend was, het in 2023 die nasionale elite mansresies (134 km) naelskraap teen Drikus Coetzee gewen. Die Olimpiese ryer in Tokio 2021 het sedertdien net sporadies in plaaslike byeenkomste deelgeneem, maar om bloot vir die pret te ry, kan hom steeds ‘n gevaarlike buiteperd maak.
Drikus Coetzee se ambisieuse plan om laas Sondag in die 1,000-kilometer Race Around Rwanda weg te spring en komende Sondag in die nasionale padresies aan te tree, is verydel deur die kumulatiewe effek van beserings toe hy twee keer op die uitdagende roete geval het. Coetzee (kampioen in 2021 en 2022) het bevestig dat hy nie by die wegspringstreep sal aantree nie.
Miller en die 30-jarige Martin Freyer behoort beide naby die voorpunt van die resies klaar te maak. Die immergroen Freyer (kampioen in 2018) het laas naweek inspirerende blootstelling teen UCI Wêreldtoer-ryers in Dubai gekry in ‘n spanresies waarin hy vyfde oor die eindstreep was.
Die jonger generasie van Namibiese mansryers insluitend Jaques Hanekom (23), Theuns van der Westhuizen (20), Justus Beulker (19) en Roger Surén (18) sal ook gemotiveerd wees om hul merk te maak.
Laasgenoemde drie sal in dieselfde 160 km resies vir sowel die nasionale o.23-wennerstrui, asook die elite manstitel kan meeding. Beulker was die o.23-kampioen in 2025.
ELITE VROUE
Vera Looser (32) sal ná elf nasionale titels sedert 2012 ‘n seldsame afwesigheid hê, omrede sy hierdie naweek in die Tankwa Trek meerdaagse bergfietstoer meeding met Suid-Afrika se Samantha Sanders as haar spanmaat.
Anri Greeff het verlede jaar haar eerste nasionale vrouekampioentrui gewen voor Louise Breed en Monique du Plessis, toe Looser ook nie teenwoordig kon wees nie.
Op die nuwe roete van 114 km wat voorlê, behoort Greeff (30) weer die gunsteling te wees teen Breed, Du Plessis, Olivia Shililifa en Delsia Janse van Vuuren (laas jaar se o.18-tydtoetskampioen, wat nou in haar eerste jaar in die o.23-kategorie opskuif).
JUNIORS
Rosemarie Thiel het tans nie haar gelyke in die junior vroueklas (o.18) nie. Thiel het verlede jaar die 80 kilometer padresies met twee sekondes teen Janse van Vuuren gewen, met die begaafde triathlon-atleet Maja Brinkmann in die derde plek met 'n verskil van 19 sekondes.
Die kompetisie in die junior mans om die skoene van Roger Surén (nou o.23) vol te staan, sal egter hewig wees.
Sean Lowe sal sy titel verdedig teen ‘n string sterk en ambisieuse uitdagers. Marco Thiel en Christiaan van der Westhuizen was laas jaar saam met Surén op toer na die Afrika-kampioenskap in Mombasa.
In Desember 2025 het Julius Braun, Mike Baartman, Theodor Janse van Vuuren en Gero Friederich die land moedig by die Afrika Jeugspele in Angola verteenwoordig.
En moenie vir Nathan Chase vergeet of afskryf nie. Met sy silwermedalje by die junior wêreldkampioenskap in triathlon verlede jaar sal dit nie verras indien hy op die podium eindig nie.
VRYDAG
Namibiese Fietsryfederasie se Nedbank nasionale padfietskampioenskap: Individuele Tydtoets. Eerste wegspringgroep om 15:00 (elite mans, 42 km, drie rondtes van 14 km) gevolg deur elite vroue (28 km, twee rondtes van 14 km) en die ander kategorieë. By die brug na Ongolo Lodge op die nuwe Dr Hage Geingob-snelweg na die Hosea Kutako Internasionale Lughawe.
SONDAG
Namibiese Fietsryfederasie se Nedbank nasionale padfietskampioenskap: Padresies. By die brug na Ongolo Lodge op die nuwe Dr Hage Geingob-snelweg na die Hosea Kutako Internasionale Lughawe.
• 06:30 Elite en o.23 mans (165 km)
• 06:37 Elite en o.23 vroue (114 km)
• 06:35 Junior mans (114 km)
• 06:40 Junior vroue (80 km)
• 06:45 alle ander kategorieë (tussen 14 km en 114 km).



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article