Khomas100 se stof en klimme toets Afrika se bestes

Fietsry
’n Driekuns van opeenvolgende titels wink vir Alex Miller, maar hy sal opnuut ’n sterk veld uitdagers te bowe moet kom.
Andrew Poolman

Alles is gereed vir een van die grootste gruisfietswedrenne wat nóg in Namibië aangebied is, met meer as 400 fietsryers van 14 lande wat bevestig is vir die 2026-weergawe van die Khomas100, ondersteun deur Hollard.

Vanjaar se Khomas100 is van groot internasionale belang, aangesien dit as beide die CAC-Afrika-kontinentale kampioenskap in gruisfietsry én as ’n rondte van die UCI-gruisfietswêreldreeks dien.

Dis ook ’n geleentheid vir elite- en ouderdomsgroepryers om vir die UCI-gruisfietswêreldkampioenskap te kwalifiseer.

Met ongeveer 140 deelnemers vir die langste afstand (140 km), nog 200 ryers vir die 84 km-wedren en 70 inskrywings vir die 44 km-wedren, is dit een van die grootste weergawes nóg vir die Khomas100.

Afgesien van Namibië, wat uiteraard die meeste inskrywings het, lei Suid-Afrika die internasionale kontingent met ’n indrukwekkende 70 ryers, terwyl fietsryers van regoor Afrika en verder ook saam met Namibië se bestes by die wegspringlyn sal wees.

 

Wêreldgehalte

Die gehalte van die elite-deelnemersveld is ewe indrukwekkend, met van Afrika se mees gerekende gruis-, bergfiets- en padfietsryers wat na Namibië kom.

Onder die groot name is die verdedigende Afrika-gruisfietskampioen vir vroue, Hayley Preen van Suid-Afrika, wat tydens die 2025 Khomas100 ’n oorheersende vertoning gelewer en die kontinentale titel ingepalm het.

Preen kom in uitstekende vorm terug. Sy is die Suid-Afrikaanse gruisfietskampioen vir 2026, het in Februarie die elite-vrouewedren by die UCI-gruisfietswêreldreeksbyeenkoms “The Ceder” in die Wes-Kaap gewen, en het ’n indrukwekkende agtste plek by die 2026 Unbound Gravel 200 in die VSA behaal.

Preen sal teen ’n gedugte groep vroue te staan kom.

Anri Greeff is die pas gekroonde Namibiese gruispadkampioen van 2026; sy het die nasionale titel in Julie by N/a'ankusê verower nadat sy algeheel tweede geëindig het, net ná Suid-Afrika se Catherine Kruger. Greeff was ook tweede ná Preen tydens die 2025 Khomas100 Afrika-gruiskampioenskap.

Catherine Kruger, wat die vrouewedren van 145 km by die 2026 Namibiese gruiskampioenskap voor Greeff gewen het, versterk die internasionale uitdaging verder.

Namibië se gedugte Vera Looser het die 2024 Khomas100 net-net voor Greeff gewen en sal nóg ’n dimensie byvoeg tot ’n buitengewoon sterk groep vroue-deelnemers.

Looser, ’n driemalige Olimpiër en veelvuldige Namibiese kampioen in pad- en bergfietsryers, het haarself ook gevestig as een van die wêreld se voorste marathon-spesialiste. Haar onlangse prestasies sluit in ’n oorwinning by die 2025 Spar Swiss Epic, ’n vierde plek by die 2025 UCI-Wêreldbeker vir veldren-marathons in Girona, en ’n tweede plek by die 2026 Tankwa Trek.

Ander noemenswaardige Namibiese vroue sluit Monique du Plessis, Louise Breed en Belinda van Rhyn in.

Du Plessis was tweede in die 2026 Namibiese individuele tydtoetskampioenskap, terwyl Van Rhyn brons verower het in beide die Namibiese padwedren- en individuele tydtoetskampioenskap van 2026.

 

Sterk manswedren

Die manswedren behoort ewe mededingend te wees.

Die verdedigende Afrika-gruispadkampioen en tweemalige Olimpiër, Alex Miller, keer terug nadat hy die 2025 Khomas100 beklink het danksy ’n beslissende solo-aanval in die laaste kilometers van die 157 km jaagtog teen die tweede geplaaste Marc Pritzen.

Miller het in 2024 Namibië se eerste nasionale gruispadtitel by die Khomas100 geword, voordat hy in 2025 die Afrika-titel by dieselfde geleentheid ingepalm het.

Die Suid-Afrikaners sal opnuut ‘n aansienlike krag in die manswedren wees.

Travis Stedman bring ’n gevestigde rekord in gruispad- en bergfietswedrenne. Sy Toyota Specialized Imbuko-spanmaat, Marco Joubert, is een van Suid-Afrika se prominente veldrenfietsryers en het tweede by die 2025 Karoo to Coast-wedren geëindig.

Rogan Smart is nog ’n sterk gruiswedren-mededinger vir die Suid-Afrikaanse kontingent en neem reeds internasionaal deel, onder meer aan Unbound Gravel.

Die Suid-Afrikaner Daniel van der Watt ken ook die Namibiese roete, nadat hy agtste in die 2025 Khomas100 geëindig het.

Die Namibiese aanslag bevat ook sterk fietsryers soos Jaques Hanekom, wat derde geëindig het in die eerste Namibiese gruiskampioenskap tydens die 2024 Khomas100. Hy was ook die silwermedaljewenner in die nasionale individuele tydtoets vir 2026.

Met fietsryers soos Lood Goosen (RSA), Drikus Coetzee, Martin Freyer, Ingram Cuff, Simon Johannes, Maruen Kleopas, Tjiunotjina Katjerungu, JP du Toit en Markus Shinyemba ook onder die deelnemers, asook internasionale ryers soos Joel Kyaviro (D.R. Kongo), Jordan Schleck Ssekanwagi (Uganda) en die Zimbabwiese trio Prince Shoko, Pressmore Musundi en Rodrick Shumba, word ’n opwindende stryd om die Afrika-truie verwag.

 

Nuwe uitdaging in 2026

Die langafstandwedren wat by die Tony Rust-renbaan wegspring, sal fietsryers van die westekant van Windhoek deur Namibië se skouspelagtige gruisterrein neem, met die eindpunt by die NWR Gross Barmen-oord naby Okahandja.

Die Khomas100 staan bekend vir vinnige, oop gruispaaie, gekombineer met uitdagende klimme en die ruwe terrein wat sinoniem met Namibiese gruiswedrenne is.

Die 2026-geleentheid sal ook afstande van 84 km en 44 km insluit, wat verseker dat die Khomas100 toeganklik bly vir ontspanningsfietsryers en bergfietsryers, terwyl die elite-deelnemers om kontinentale titels en kwalifikasie vir die UCI-gruisfietswêreldkampioenskap meeding.

 

Meer as bloot ’n wedren

Johan Pretorius, die wedrendirekteur van die Khomas100, sê die groei van die geleentheid – en veral die gehalte en internasionale diversiteit van vanjaar se deelnemersveld – toon hoe vinnig gruisfietsry in Namibië ontwikkel.

“Ons is uiters trots daarop dat meer as 400 fietsryers uit 14 lande op ons deelnemerslyste verskyn. Maar wat ons selfs meer opgewonde maak, is die gehalte van die deelnemersveld.

“Ons verwelkom Afrika-kampioene, nasionale kampioene, Olimpiese atlete en fietsryers wat suksesvol meeding in van die wêreld se grootste gruis- en bergfietswedrenne om hier op Namibiese bodem deel te neem.”

“Namibië beskik oor die terrein, die natuurskoon en die fietsrygemeenskap om gruiswedrenne van wêreldgehalte aan te bied. Ons doel is nie net om ’n uitstekende fietswedren te organiseer nie, maar ook om Namibië ten toon te stel as een van die opwindendste bestemmings vir gruisfietsry in Afrika.”

Pretorius het Hollard Namibië, die hoofborg van die geleentheid, bedank vir sy volgehoue belegging in fietsry en sy rol om die Khomas100 tot ’n internasionaal erkende geleentheid te laat groei.

Die organiseerders bedank ook die talle ondersteunende borge, vrywilligers, beamptes, grondeienaars en diensverskaffers wat die aanbieding help moontlik maak.

 

 

VINNIGE FEITE

2026 Khomas100 – CAC Afrika Kontinentale Gruisfietskampioenskap / UCI Gruisfiets Wêreldreeks

Datum: Saterdag, 22 Augustus 2026

Afstande: 140 km | 84 km | 44 km

Eindpunt: NWR Gross Barmen Resort

Inskrywings: 400-plus

Internasionale verteenwoordiging: 14 lande

Hoofborg: Hollard Namibia

Vername ondersteunende borge: DHL, Standard Bank Namibia en NWR.