In minder as 100 ure tem Marius die Munga

Fietsry
Andrew Poolman
Marius Boonzaier van Windhoek het sy naam gevoeg by die uitgesoekte lys Namibiese fietsryers wat die Munga suksesvol voltooi het – binne drie jaar nadat hy homself in langafstand- en ultra-fietsritte begin beproef het.

Boonzaier (46) het Sondagmiddag die eindstreep gehaal van die ultra-rit van nagenoeg 1148 kilometer vanaf Bloemfontein tot by die Doolhof-wynlandgoed in Wellington.

Hy was die 68ste voltooier uit die 172 solo-ryers en vertel dat hy baie in sy skik is om die afstand binne minder as 100 ure te kon aflê (vier dae, twee ure, 54 minute).

Boonzaier sê verlede jaar se Munga Grit Le Dur in die omgewing van Swakopmund (550 km) was die eerste lang rit waarvoor hy ingeskryf en klaargemaak het.

Die Le Dur was hard, maar dié vertoning het hom oortuig dat hy ook die Nedbank Desert Dash laas Desember solo sou kon aanpak, wat hy uiteindelik gemaklik binne die 24-uur spertyd voltooi het (21 ure 19 minute).

“Ek het vir myself gesê as ek die Dash kon voltooi, wil ek die groot Munga (Bloemfontein na Wellington) ook ry. Ek het ‘n afrigter gekry om my te help en ek het het hierdie hele jaar baie hard geoefen. Dit was uitmergelend, maar dit het toe nou alles goed afgeloop.

“Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Ons het elke soort weersomstandighede op die roete teëgekom. In die Noord-Kaap was ons in ‘n haelstorm met mederyers vir wie ek gehelp het om beskerming te kry waar daar nie bome was nie.”

Boonzaier sê die Tankwa Karoo is ‘n verskriklike plek vir ‘n fietsryer, in die middel van niks en met geen wegkruipplek teen die hitte nie.

“Dis meer ‘n kop-ding. ‘n Ou se kop moet reg wees. Jy kan fisiek baie hard oefen, maar as jou kop nie reg is vir hierdie goed nie, gaan jy dit nie maak nie.

“So ek is dankbaar vir my familie wat my ondersteun en by die eindstreep vir my gewag het ... ook vir die ryers wat saam met my gery het en die nuwe vriendskappe wat ek gebou het.

“Al die ondersteuning uit Namibië en van oor die wêreld het my ook deurgetrek.”



Beperkte ondersteuning

Die Munga se roete is hoofsaaklik op grondpad en op GPS uitgelê, sodat ryers hulle nie oor navigasie hoef te bekommer nie.

Daar is vyf rendorpies waar ryers kan rus, eet en meganiese hulp kry. Daar is ook tien waterpunte wat tussen 60 en 90 kilometer uitmekaar geplaas is. Meganiese hulp en ander steun word slegs by rendorpies toegelaat, maar nie langs die roete nie. Alles wat 'n ryer benodig, moet hy/sy dus by die waterpunte of rendorpies vind, óf tydens die fietsrit saam dra.

• Die enigste ander Namibiese inskrywing vanjaar, Leonard Martin van Walvisbaai, was ook ‘n voltooier in vorige jare, maar moes dié keer effens kort van die 300 km-merk weens ingesteldheid onttrek.

• Aan die voorpunt van die Munga het Daniël Poalses (26) van Pretoria in 56 uur 17 minute die jongste wenner in die tienjarige bestaan van die Munga geword. Ses minute later was Hansie Joubert, ‘n vorige wenner, tweede.

Die Namibiese ultra-spesialis Drikus Coetzee se rekordtyd van 47 ure 40 minute wat in 2023 in gunstige windtoestande opgestel is, was egter nie in gevaar nie.