Hollard Grand Prix-reeks se groot tjeks kry baas
Die reeksvoorlopers, Anri Greeff en Marco Thiel, het gisteroggend die eerste wenners geword van die aanloklike Hollard Grand Prix-reeks, wat uit vyf wedrenne bestaan het.
Die reeksoorwinning gaan gepaard met 'n tjek vir N$250 000 aan die wenners.
Thiel het in gisteroggend se Hollard Hearts Foundation-padfietsresies oor 100 kilometer net-net ná die topdrie klaargemaak,
Roger Surén, die wenner van die 100-kilometer elite mans wedren, is met N$25,000 vir die dag se werk beloon, terwyl Christiaan van der Westhuizen (tweede) met N15,000 weggestap het. Derde oor die eindstreep was die Suid-Afrikaanse ryer HB Kruger, wat N$5,000 verdien het.
Thiel het vroeg in die reeks 'n voorsprong opgebou toe hy in April die eerste twee wedrenne by die Moon Landscape MTB buite Swakopmund gewen het, asook die Friedenau MTB-wedren 'n maand later.
‘n Grondpadresies in Julie by Na/ankusê, asook die Khomas100 was ook deel van die reeks.
Martin Freyer was tweede in die algehele reeks en het N$50,00 verdien, met Ingram Cuff derde op die puntelys vir N$10,000.
Thiel (18) het agterna aan die media gesê hy was vol selfvertroue oor die groot prys, en dat hy bloot op die agterwiel van sy naaste uitdager in die reeks, Freyer, ‘n wakende oog op enige beweging kon hou en enige onnodige risiko moes vermy.
Die 19-jarige Surén, wat ook die huidige nasionale padfietskampioen is, het getoon dat hy ten volle herstel het van die gebreekte sleutelbeen wat hy vroeër in September tydens die UCI-bergfietswêreldkampioenskap in Italië opgedoen het.
Surén het agterna gesê hy was nie onder druk nie, omdat hy vanweë professionele verpligtinge in Europa nie aan die volle reeks deelgeneem het nie en dus nie in berekening vir die grootste prys was nie. Hy sê dit was toevallig dat hy en Van der Westhuizen op dieselfde oomblik besluit het om hul finale aanval na die eindstreep te loods.
• Greeff se oorwinning in die Hollard Hearts Foundation-vroueresies oor 100 kilometer wat in Olympia begin en geëindig het, het haar beide die tjeks beklink wat op die spel was.
As die eerste algehele wenner van die Hollard Grand Prix-reeks van vyf wedrenne het Greeff die wenprys van N$250 000 ingepalm. Tweede was haar mede-Namibiër Rosemarie Thiel (N$50,000) en derde die jong Suid-Afrikaanse ryer Catherine Kruger (N$10,000).
’n Ontydige pap band gister het die driemalige Olimpiese ryer Vera Looser verhinder om haar finale aanslag van stapel te stuur. Met minder as een minuut verskil was sy vyfde oor die eindstreep, agter die wegbreekgroep Greeff (N$25,00), Rosemarie Thiel (tweede, N$15,000) en Louise Breed (N$5,000).
• Die nasionale fietsry-afrigter Hans du Toit vertrek dié week saam met die Namibiese span na Kenia vir die Afrika-padfietskampioenskap. Die land sal deur Marco Thiel, Rosemarie Thiel, Mike Baartman en Justus Beulker verteenwoordig word.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article