Hinz en Snyman eerste twee deur na wêreldkampioenskap
Bergfietsry
Namibiërs het laas naweek stewige prestasies in verskeie resiese in Suid-Afrika en Spanje behaal.
Uit die vyf Namibiërs wat laas Saterdag by The Ceder Race (151 kilometer, met bykans 2700 klimmeters) in die Cederberge van die Wes-Kaap meegeding het, het twee die kans aangegryp om vir die UCI wêreldkampioenskap in grondpadresies later vanjaar te kwalifiseer. Melissa Hinz was eerste in haar ouderdomskategorie (40-45 jaar) en algeheel vyfde oor die eindstreep. Sy was sowat 24 minute agter die wenner van Suid-Afrika, Zanri Rossouw (wentyd 5 ure 54 minute 30 sekondes).
Frank Snyman van Windhoek het ook in sy ouderdomsklas (60-64 jaar) vir die UCI wêreldkampioenskap gekwalifiseer met ‘n eerste plek in sy kategorie. Snyman het sy afstand in die The Ceder Medio Fondo-resies (68 kilometer, met 850 vertikale klimmeters) in twee ure 28 minute 15 sekondes voltooi.
Die enigste twee mans voor Snyman was veel jonger Suid-Afrikaners, naamlik Luc de Marigny (2:23:49, 19-34 jaar) en Charles Keey (2:27:27; 35-29 jaar).
Die wêreldkampioenskap
Fietsry se wêreldbeheerliggaam die UCI het onlangs aangekondig dat vanjaar se UCI-wêreldkampioenskap in grondpadresies, wat in Nice (Frankryk) aangebied sou word, nou op 11 en 12 Oktober in die Zuid-Limburg-streek van Nederland sal plaasvind.
Die 2025-wêreldkampioenskap sal die vierde weergawe sedert sy ontstaan in 2022 wees. Die heersende UCI-wêreldkampioene vir elite mans en vroue in grondpadresies is beide van Nederland, naamlik Mathieu van der Poel en Marianne Vos.
Sover bekend is Hinz en Snyman die eerste Namibiese kwalifiseerders vir Nederland 2025.
‘n Opwindende vooruitsig vir Namibiese langasems is dat die tweede jaarlikse Khomas100 op 23 Augustus vanjaar nie net as die heel eerste UCI Afrika-kampioenskap in grondpadresies sal dien nie, maar ook ‘n kwalifiserende geleentheid vir die wêreldkampioenskap sal wees.
Alex Miller en Vera Looser het in 2024 die geskiedkundige eerste Khomas100-wedren oor sowat 160 kilometer gewen.
Vir besonderhede oor die Khomas100, besoek https://khomas100.com.na/
Elite mans
In die Cederberg se elite mansresies het die opkomende Namibiese jongelinge Theuns van der Westhuizen (20 jaar) en Jaques Hanekom (22 jaar) ‘n strawwe kompetisie beleef. Al het hulle nie gekwalifiseer nie, het hulle baie goeie uitslae behaal en waardevolle blootstelling gekry.
Van der Westhuizen (tiende) en Hanekom (16de) is opgeweeg in die geselskap van die elite manswenner Felix Stehli (4:35:40) van Switserland en die tweede geplaaste Felix Ritzinger van Oostenryk, wat die vasberade aanslag van die Suid-Afrikaners Marco Joubert (derde), Wessel Botha, Marc Pritzen en Daniel Loubser afgeweer het.
FC Smith, ‘n entoesiastiese fietsryer en kreatiewe mediaskepper van Windhoek, het ook deelgeneem en in sewe ure en vier sekondes klaargemaak.
The Munga Grit Le Dur: Skryf in
Die sand van die suidelike woestynlandskap roep diegene wat dapper genoeg is om die moeilikste solo-bergfietsavontuur aan te pak wat in ons land aangebied word.
Die langste bergfietswedren op die kalender in Namibië wink vanaf Vrydag 16 tot Sondag 18 Mei.
Met 'n sperdatum van net 50 uur om met The Munga Grit Le Dur klaar te speel, is hierdie nie bloot 'n wedren nie, maar 'n stryd van gruispad, hart en betowerende woestyntonele!
Die Munga Grit Le Dur sal by Melrose begin en eindig, sowat 25 km vanaf Windhoek. Die roete strek deur ruwe terrein van die golwende heuwels van Remhoogtepas tot by die epiese uitsigte van Gamsbergpas.
Ruiters kan kies tussen die volle 50-uur-uitdaging, óf die 24-uur-“voorsmaak” van 230 km. Ongeag watter een, sal jy in wees vir 'n wilde rit!
Inskrywings vir The Munga Grit Le Dur sluit om middernag op Sondag 11 Mei.
Ryers sal ook die liefdadigheidsorganisasie Legacy of Love ondersteun, wat ondersteuning bied aan veral diegene wat familielede verloor het.
Miller kyk vorentoe
In Girona, Spanje, het die Namibiese manskampioen Alex Miller laas naweek nie daarin geslaag om by die ongenaakbare The Traka (560 km) op sy tweede posisie van verlede jaar voort te bou nie.
“Ongelukkig het @thetraka nie verloop soos ek gehoop het nie, om eerlik te wees. Ek was aan die begin redelik ver terug, maar ek het vasgebyt om uiteindelik 12de klaar te maak; ‘n uitslag waarop ek inderdaad nogal trots is – veral in ‘n kompeterende veld soos vandag!
“The show goes on...” het die 24-jarige gekontrakteerde ryer van Swatt Club verklaar.
Kalbaskraal
Sondag in die Wes-Kaap het die 22-jarige Olivia Shililifa by die Kalbaskraal-byeenkoms (nr. 6 in die Westelike Provinsie se bergfietsreeks) derde in die vroueresies oor 64 km klaargemaak.
As huidige ryer vir die Cymot-span het sy in onlangse jare gereeld podiumposisies by Namibiese nasionale padfietskampioenskappe behaal – insluitend die o.23-vrouetitel in die padresies vir 2021.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article