Drikus vat vroeg die voortou in Rhino Run

Fietsry
Op dag een, ‘n tydjie ná die middaguur gister, het dié twee voorlopers reeds verby die 200 km-merk beweeg.
Andrew Poolman

Die Namibiese ultra-fietsryer Drikus Coetzee is oorgehaal om in die komende dae opnuut ‘n gedugte rekordtyd op te stel in die Rhino Run wat gisteroggend by Christuskirche in Windhoek weggespring het.

Nadat die grens na Suid-Afrika oorgesteek word en ná ‘n draai deur Paarl en Stellenbosch in die Wes-Kaap sal die roete van meestal plaas- of grondpaaie uiteindelik oor 2 835 kilometer verder in Graaff-Reinet in die Oos-Kaap eindig.

Ryers van elf nasies was gisteroggend by die wegspringstreep en met Coetzee se profiel behoort dié unieke uitdaging ook meer aandag van Namibiërs te lok.

Die 32-jarige Coetzee was mees onlangs die wenner van die Race Across South Africa in April vanjaar (1 969 km van Pietermaritzburg na Wellington) in sewe dae en 12 ure, met die Munga-reeks ook onder sy vorige topprestasies.

Die Rhino Run is wel die langste ultra-resies wat die Namibiër nóg aangepak het, maar hy maak ook geen geheim nie dat dit vir hom bloot ‘n volgende trap is in sy voorbereiding vir sterk prestasies in selfs groter drome, spesifiek die Race Across America (nagenoeg 4 800 tot 5 000 km) of die Europese eweknie die Transcontinental Race (tipies tussen 3 200 en 4 200 km).

Coetzee het gister reeds op die eerste dag gewys dat hy te sterk vir die ander 22 ryers behoort wees – met die moontlike uitsondering van ‘n 35-jarige Fransman, Stéphane Lombard, wat ook ‘n vertoningslys van prestasies in ultrabyeenkomste het.

‘n Tydjie ná die middaguur gister het dié twee voorlopers reeds verby die 200 km-merk beweeg.

Nog twee Namibiërs het ingeskryf vir hul debuut in internasionale ultra-fietsritte. Therald Murch (54) het reeds ‘n stewige stamboek as soloryer in die Nedbank Desert Dash asook die langer Munga Grit Le Dur opgebou, terwyl nog ‘n Windhoeker, Jan van Blerk (60), beoog om die ervaring teen ‘n rustige pas te geniet met sy 61ste verjaarsdag wat iewers langs die pad gevier behoort te word.

In die selfondersteunde formaat moet ryers deurgaans vir hulself sorg wat voeding en slaapplek (of kampeerplek) betref.

 

Mikpunt: sewe dae of minder

Coetzee het voor sy vertrek aan die media gesê hy is baie opgewonde oor die uitdaging.

“Die presiese afstand is so in die laaste dae bekendgemaak: 2 835 kilometer. Ek dink daar is sowat 24 000 of 25 000 meter se klimwerk. Die meeste daarvan sal in Suid-Afrika plaasvind. Soos ons weet, is die suide van Namibië redelik plat, maar ek verwag sterk winde in die suide tot by die grens by Noordoewer.

“Ek dink dus die eerste twee dae kan taai wees. Dit gaan beslis vinniger wees as om in Suid-Afrika te ry – neem ek aan – vanweë die klimwerk wat in Suid-Afrika voorlê. Maar (voor die grens) het ons die wind en die lang stukke pad waar daar vir kilometers aaneen absoluut niks is nie; dit kan uitputtend wees.”

Coetzee het sy doelwit verklaar om die Rhino Run in minder as sewe dae te voltooi. “Dit sal beslis 'n uitstekende prestasie wees. Dit hang natuurlik altyd van die weer af. Sulke ultra-wedrenne is altyd afhangend van die weer.

“Jy kom met 'n plan, maar dit kan in 'n oogwink uitgevee word – byvoorbeeld as die wind skielik teen jou draai en jy nie die pas kan handhaaf wat jy beplan het nie. Ek sal dus moet sien wat die elemente op die roete vir ons inhou.

“My voorbereiding het goed verloop. Ek het trouens drie weke gelede die Namibiese deel van die roete (1 020 km tot by die grens) afgelê.

“Vir die afgelope ses tot agt weke het ek werklik gefokus en ekstra ure ingesit waar ek kon. Ek voel ek is fiks.

“Ek het ook 'n bietjie gewig opgetel vir hierdie ultra-wedloop. Dis baie belangrik by ultra-wedrenne; as jy nie genoeg reserwes het nie, begin die liggaam jou spiere verteer sodra jou vetvoorraad uitgeput is. Dit begin jou spiere afbreek, wat nie goed is nie.

“Ek voel my voorbereiding was dus perfek; daar is niks anders wat ek in die aanloop kon gedoen het nie.

“Ek is vol vertroue. Ek gaan dit as 'n wedren aanpak; ek gaan nie net rustig ry nie. Ek dink in April (Race Across South Africa), toe ek 'n groot voorsprong gehad het, het ek dit meer soos 'n toer begin benader.

“Hierdie keer wil ek egter werklik jaag, hard druk en kyk waar my grense lê – sonder om dit te oorskry. Of daar iemand gaan wees wat teen my meeding en my tot die uiterste dryf, weet ons nie. Ons sal maar moet sien.

“Dit sal fantasties wees indien daar wel iemand is, want ek hou van 'n behoorlike uitdaging. Maar kom ons kyk hoe dit op die roete verloop. Ons sal dit binne die eerste twee dae agterkom. Namate die wedren vorder, sal mens sien hoe dinge uitwerk.”

 

Vorige toerwenners

Die 2026-weergawe is die eerste wat in die teenoorgestelde rigting aangebied word, om in Windhoek weg te spring.

2022: Plettenbergbaai na Windhoek (2 750 km) – Wenner: Abdullah Zeinab, fiets: Curve Ekar Kev (GXR).

2023: Plettenbergbaai na Windhoek (2 750 km) – Wenner: Kevin Benkenstein van Suid-Afrika, fiets: Curve Big Kev.


Volg ryers se vordering

By die webadres www.rhino-run.com/race-tracker/ sal Drikus, Therald, Jan en die ander buitelandse ryers se vordering op die padkaart regstreeks gevolg kan word.