Bergpasse die speelplek vir 3Passes
Die jaarlikse 3Passes bergfietstoer is die afgelope naweek gehou. Hoewel ’n kleiner groep vanjaar deelgeneem het, was die kameraderie en gesindheid van die groep uitstekend.
‘n Unieke eienskap van die toer is dat dit nie ‘n resies is nie, maar eerder ‘n geleentheid vir elkeen, veral die meer sosiale ryer, om sonder druk ’n nuwe uitdaging of persoonlike beste lang afstand te voltooi.
Vanjaar se nuwe persoonlike mylpale het ingesluit dat Johan Moolman die eerste keer Spreetshoogtepas bestyg het; Leané Laker ook Spreetshoogtepas (eerste keer tot by die tweede laaste uitkykpunt), asook dat Elfie Moolman haar verste afstand in een dag (50 km) afgelê het.
Die organiseerder, Johan Fourie, sê: “Ons is vanjaar weer deur Namibgrens gasteplaas gehuisves, waar ons met warmte ontvang en na omgesien was.
“Vanjaar het ek ’n nuwe uitdaging probeer deur dag 1 in twee skofte op te deel. Die eerste skof was oor 51 km (of ‘n gedeelte daarvan) wat die Gaubpas ingesluit het, terwyl die tweede skof oor 30 km (of gedeelte daarvan) wat Spreetshoogtepas (opwaarts) ingesluit het.
“Dag 2 het ons ’n heeltemal nuwe roete gedoen oor ’n afstand van 151 km (of gedeelte daarvan) wat ingesluit het Remhoogtepas op via Bullspoort.
“Dag 3 het ons weer as ’n groep op Namibgrens gery en die skoonheid van die natuur geniet.
“Met temperature wat tot in die middel 40’s gestyg het, moes ryers nie net die hitte trotseer nie, maar ook wind en gedeelte van die roete waar grondpaaie baie sleg was. Ongeag omstandighede was almal in goeie gees en het dit vir ’n baie genotvolle naweek gesorg.”
“Ek bedank graag die volgende borge vir hul ondersteuning: Superspar The Grove, Chiwani Safari Camps, Saroa Safari Lodge en Namibgrens Gasteplaas.
“Daar is altyd ’n geleentheid tot iets nuuts, ’n nuwe uitdaging. Wat ook al jy doen onthou dat gesondheid en jou vermoë ’n geskenk is. Gebruik dit reg en hou jou fokus op God alleen, die gewer van lewe!”



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article