Beers en Nortje slaag om Miller af te skud

Bergfietsry
Die Namibiër se derde plek in die Wes-Kaap het sy kwalifisering vir die wêreldkampioenskap bevestig.
Andrew Poolman

Die Namibiër Alex Miller het ‘n stewige vertoning gelewer om in die derde posisie klaar te maak tydens laas Saterdag se 100-myl (160 kilometer) Around The Pot grondpadfietsrybyeenkoms naby Swellendam in die Wes-Kaap.

Die byeenkoms is deel van die UCI (wêreldbeheerliggaam van fietsry) se GravelKing wêreldreeks vir grondpadfietsry. Dit het ook as ‘n kwalifiserende geleentheid gedien vir die wêreldkampioenskap in dié formaat, wat op 10 en 11 Oktober vanjaar in Nannup in Wes-Australië aangebied sal word.

Klimgedeeltes van altesame 1 760 meter was op die roete ingesluit, in ‘n byeenkoms waar bykans 500 ryers verwag was.

Suid-Afrika se gedugte Matt Beers het die mansresies vir die derde jaar op ‘n streep beklink, met sy landgenoot en Toyota Imbuko-spanmaat Tristan Nortje tweede en Alex Miller (Swatt Club) derde.

Dié drietal het reeds vroeg in die eerste helfte van die res weggebreek en het mekaar aan die voorpunt opgekeil.

Beers (drie ure 52 minute 37 sekondes) het uiteindelik met een sekonde voor Nortje klaargemaak nadat hulle daarin geslaag het om Miller (3:55:49) af te skud met ‘n verskil van meer as drie minute.

Marco Joubert (vierde) en Keagan Bontekoning was die volgende twee Suid-Afrikaners oor die eindstreep.

Die 25-jarige Miller het agterna op sosiale media gesê: “Ek was van plan om ‘n lekker resies tussen die blomme te geniet, maar Matt Beers en Tristan Nortje het seker gemaak daar was min tyd om die natuurskoon te geniet. Ek is bly dat ek minstens die derde posisie op die podium kom inneem.

“Ek begin stadigaan weer sterker voel (in kompetisie), wat lekker is. En die nuwe Giant Revolt SL fiets was ‘n plesier om te ry.”

In die vroueresies het die drie Suid-Afrikaners Lisa Bone (eerste), Chloe Hopf en Catherine Kruger sake oorheers.