Zimbabwe vat silwerware in Harare
Krieket
Die Namibiese kaptein Gerhard Erasmus reken ‘n kans is deur die vingers laat glip om ‘n hoër gerekende opponent op die wêreldranglys te klop, nadat Zimbabwe Saterdag in Harare die finaal van die ICC T20 Wêreldbeker 2026 se uitduntoernooi vir Afrika-spanne met sewe paaltjies gewen het.Beide Namibië en Zimbabwe het reeds Donderdag met gemaklike oorwinnings in die semifinale teen Tanzanië en Kenia hul kwalifisering vir die volgende ICC T20 Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka verseker (Februarie-Maart 2026).
Saterdag het die Chevrons voor hul tuisskare vir die teleurstelling vergoed dat hulle twee jaar gelede in Windhoek teen beide Namibië en Uganda verloor het en dus afwesig was in 2024 se WB-toernooi in Wes Indië en die VSA.
Erasmus het ná die eindstryd gesê die FNB Eagles het nie daarin geslaag om met hul veldwerk die druk te verplaas nie en dat Zimbabwe se kolwers te veel kere goegelaat is om twee lopies te hardloop.
“Van ons veldwerkers was met tye nie skerp en atleties en honger genoeg nie en het die druk op ons boulers laat oplaai.”
Die kaptein het gesê die hooftaak is suksesvol afgehandel met die WB-kwalifisering, maar hy is nietemin teleurgesteld in die eindstryd omdat ‘n oorwinning teen Zimbabwe gewink het.
“Ons is ‘n span wat hoër op die wêreldranglys wil klim, wat net kan gebeur wanneer jy wedstryde teen hoër gerekende spanne soos Zimbabwe wen. Ek voel ons span hoort tussen die grotes, maar ons het onsself vandag ‘n bietjie in die steek gelaat.”
Hou vir hou
Zimbabwe moes 168 lopies vir ‘n oorwinning jaag en het op 29/1 hul invloedryke aanvangskolwer Brian Bennett vir 15 lopies verloor toe Gerhard Erasmus \'n vangskoot van Ben Shikongo se boulwerk raakgevat het.
Bennett se aanvangsmaat, Tadiwanashe Marumani, het egter onoorwonne gebly vir 74 lopies van 61 balle (drie viere, twee sesse), met Ryan Burl (26 nie uit van 12 balle nie; vier viere) wat die wenlopies in die laaste boulbeurt geslaan het wat deur Ruben Trumpelmann geboul is.
Die linkerarm-draaibouler Bernard Scholtz (2/21) het met opeenvolgende balle deurgebreek toe hy kolwer nommer drie, Dion Myers (44 van 33 balle; twee viere, een ses), geboul het en kaptein Sikandar Raza (0) deur Erasmus laat vang het. Zimbabwe is dus vanaf 117/1 tot 117/3 gesnoei, maar sy kolwers het enduit kopgehou.
Marumani, die speler van die wedstryd, het trots uitgespreek dat hy vir die eerste keer deur die volle 20 boulbeurte van \'n internasionale T20-wedstryd gekolf het.
In Namibië se kolfbeurt (167 vir ses) moes Jan Frylinck (4) vroeg terugstap nadat hy vanaf sy kolf se binnerand ‘n aflewering van Brad Evans op sy paaltjies gespeel het.
Malan Kruger (b.v.p. vir 13 van 17 balle; twee viere) en Nicol Loftie-Eaton (uitgevang vir 13 van 9 balle; twee viere) kon hulle ook nie vir ‘n lang beurt ingrawe nie.
Louren Steenkamp, op sy eerste toer vir Namibië, se 40 lopies van 27 balle was uiteindelik die meeste en het vier grenshoue bevat. Gerhard Erasmus het 38 van 32 balle bygedra (twee viere, twee sesse), terwyl JJ Smit (23 van 20 balle; twee sesse) en Ruben Trumpelmann (18 nie uit nie van 11 balle; een vier, een ses) ook in die laaste boulbeurte die tempo probeer versnel het.
Zimbabwe se toonaangewende boulers was Richard Ngarava (3/26 in vier boulbeurte) wat van Frylinck, Loftie-Eaton en Steenkamp ontslae geraak het, asook Wellington Masakadza met ‘n ekonomiese 1/22 in 4 en die paaltjie van Erasmus.
Individuele toekennings
Bouler van die toernooi: Nicol Loftie-Eaton (Namibië) tien paaltjies (gemiddeld 6.40; ekonomie 7.80; beste 4/10). Gesamentlik boaan die lys met tien paaltjies elk was die twee Zimbabwiërs Brad Evans (gemiddeld 11.10) en Richard Ngarava (gemiddeld 11.70).
Kolwer van die toernooi: Brian Bennett (Zimbabwe) 314 lopies (gemiddeld 62.80; kolftempo 181.50). Op die lys van lopiemakers was Sumeet Verma (Uganda) tweede met 206 (gemiddeld 51.50; meeste sesse in die toernooi met 16), JJ Smit (Namibië) derde met 197 lopies (gemiddeld 98.50; kolftempo 187.6) en Jan Frylinck (Namibië) vierde met 193 lopies (gemiddeld 48.25; kolftempo 183.80).
Speler van die toernooi: Brian Bennett (Zimbabwe).
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article