Wiese bly immergroen in Europese T20 premierliga

Krieket
Sy franchise-span, die Rotterdam Dockers, het ongelukkig net-net die uitkloprondte misgeloop .
Andrew Poolman

David Wiese het reeds in Junie 2024 uit internasionale krieket getree, maar op 41-jarige leeftyd het sy vertonings tydens die pas afgelope Europese T20 premierliga gewys dat hy steeds oor briljante vermoëns beskik.

Die gesoute Namibiese veelsydige speler het ‘n sensasionele toernooi beleef, met die algehele derde posisie op die ranglys vir boulers met die meeste paaltjies.

As ‘n uitgeslape naatbouler het Wiese met 18 paaltjies teen ‘n gemiddeld van 15.61 en 7.29 per boulbeurt geëindig. Sy totaal is net met 19 elk deur die Nieu-Seelander Michael Bracewell (Amsterdam Flames) en die Suid-Afrikaner Anrich Nortje (Rotterdam Dockers) oortref.

Hiermee saam met Wiese 135 lopies met die kolf bygedra (van altesame 78 balle). Sy haastige kolftempo van 173.0 was die vyfde beste in die reeks, en sy kolfgemiddeld van 67.50 is net deur die Engelsman Tom Curran (Edinburgh Castle Rockers, 76.00) oortref.

Op die individuele ranglys vir spelers wat die meeste impak gemaak het, was Wiese in die topdrie met 481.82 punte – net oortref deur die Australiër Glenn Maxwell (Belfast Wolves; 501 punte met 245 lopies en agt paaltjies) en Brandon McMullen van die uiteindelike wenspan die Edinburgh Castle Rockers (485.13 punte met 356 lopies en drie paaltjies).

Wiese se franchise-span, die Rotterdam Dockers, het ongelukkig net-net die uitkloprondte misgeloop toe hulle as een van vier spanne gelykop op 13 punte geëindig het, maar met ‘n swakker netto lopietempo.

Wiese se beste kolfvertoning was as nommer sewe in ‘n verloorwedstryd teen die Amsterdam Flames, toe hy 43 nie uit nie van net 16 balle (drie viere, vier sesse) geblits het.

Sy beste boulvertoning was 3/18 teen die Edinburgh Castle Rockers, toe hy van drie gevaarlike internasionale spelers ontslae geraak het, naamlik JJ Smuts (Italië), Andries Gous (VSA) en Mark Watt (Skotland).

Ter afsluiting van die toernooi het Wiese op sosiale media geskryf: “Nog ‘n hoofstuk, en nog ‘n herinnering hoekom ek so lief vir hierdie sport is.”

Volgens hom was die ETPL se sentrale temas die mededinging, die leerervaring en om opnuut bande met ou vriende te bou.

“Met sommige van hierdie ouens speel ek reeds vir meer as 15 jaar. Verskillende spanne, in verskillende lande, verskillende hofstukke – maar op een of ander manier kruis ons paaie weer op dieselfde veld.

“Dis een van die beste dinge van krieket: die vriendskappe bly voortleef lank nadat die wedstryd verby is.

“Ek is dankbaar vir die herinneringe en vir die mense. En ek geniet die rit steeds ten volle.”

Krieketliefhebbers in Europa was verlig dat die eerste kontinentale T20-reeks met twee spanne elk gebaseer in Skotland, Ierland en Nederland uiteindelik suksesvol verloop het, ná vele vorige onsuksesvolle pogings.

Die toernooi het glo heelwat kykers in veral Indië gelok, deels te danke aan die teenwoordigheid van die gewese Indiese draaibouler Ravichandran Ashwin, maar die uitdaging bly om die bywoning van meer toeskouers by wedstryde te bewerkstellig.