WHS Old Boys en United voor in die koor
Krieket
Die eerste spanne van ATG WHS Old Boys en Trustco United is ná vier wedstryde elk los voor op die punteleer van die Krieket Namibië T20-premierliga.Hoewel United laas Saterdag sy eerste wedstryd vir die 2025-seisoen teen CCD Tigers by Wanderers verloor het, is hulle nou kop-aan-kop met Old Boys wat ook vier seges en 16 ligapunte bewerkstellig het.
Weens Old Boys se hoër netto lopietempo (1.59) is hulle eerste voor United (0.36) op die punteleer geplaas.
Terwyl Tigers vanjaar twee seges vir agt ligapunte behaal het, moet die vorige seisoen se titelhouer APS Wanderers nog ‘n eerste oorwinning aanteken.
CCD uitoorlê United
In Saterdagoggend se eerste wedstryd in Pionierspark het CCD Tigers (165 vir die verlies van twee in 20 boulbeurte) vir United (142/8 in 20) met 23 lopies geklop.
CCD se voorste lopiemakers was Joshuan Julius (52 van 60 balle, 4x4, 1x6), Nicol Loftie-Eaton (51 nie uit nie van 31 balle, 4x4, 2x6) en die WHS-skoolseun Josue Celliers (47 van 29 balle, 4x4, 3x6).
Simon Shikongo (3 paaltjies vir 24 in 4 boulbeurte) was die suksesvolste van Tigers se boulers. Loftie-Eaton (speler van die wedstryd) het 2/19 in 4 behaal terwyl Zhivago Groenewald en Ben Shikongo een slagoffer elk geoes het.
Zane Green (48 van 34 balle, 1x4, 3x6) het verbete vir United vasgeskop. Gerhard Janse van Rensburg (27 van 24, 3x4) het die tweede hoogste telling behaal.
WP Myburgh (1/25 in 4) het een paaltjie vir United laat kantel.
Punte vir Old Boys
WHS Old Boys (177/6 in 20) klop Wanderers (174/4 in 20) dramaties met 3 lopies.
Louren Steenkamp het soos ‘n tornado vir Old Boys losgetrek en het 105 lopies gemoker. Hy het agt viere en sewe sesse na die grenstou aangevuur. Sy vyftigtal het van 27 aflewerings gevloei, terwyl sy 100 van 54 balle gekom het. Hy is briljant deur sy kaptein Shaun Fouché (54, 42 balle, 3x4, 2x6) ondersteun.
Vir Old Boys het Dylan Leicher, Adriaan Coetzee, Shaun Fouché en Zacheo Janse van Vuuren elk een paaltjie platgetrek.
Jan-Izak de Villiers het uitstekend vir Wanderers gekolf met 56 nie uit nie van 30 balle (3×3, 3x6). Die jong Waldo Smit (38 nie uit nie, 30 balle, 5x4, 1x6) het enduit saam met hom gebly in ‘n 117-vennootskap – indien kaptein Michau du Preez se 22 bygetel word voordat hy met ‘n besering die stryd gewonne moes gee.
De Villiers het ook puik geboul vir 3/28 in 3 boulbeurte. JJ Smit kon wel nie net die kolf vir Wanderers presteer nie, maar met 2/30 in 4 was hy op dreef as linkerarm-naatbouler.
Sondagoggend
CCD Tigers se uitstappie teen WHS Old Boys het in ‘n nagmerrie ontaard toe hulle vir 67 almal uit in 12.2 boulbeurte gestuit is.
Old Boys se 69/3, vir ‘n oorwinning met sewe paaltjies, het in 10.5 beurte op die telbord verskyn.
Die CCD-aanvangskolwer Simon Shikongo (34 van 26 balle, 5x4, 1x6) was die enigste wat weerstand vir sy span kon bied op ‘n telkaart met vier nulletjies en nog drie manne wat ná 1 lopie uit is.
Adriaan Coetzee (5/3 in 3) was die giftigste vir Old Boys met die bal in die hand. Die WHS-skoolseun het van Loftie-Eaton, Joshuan Julius, Nicholas van der Colff, Ramon Wilmot en Ben Shikongo ontslae geraak.
CCD was op 23/0 in die derde boulbeurt, maar Jack Brassell se regterarm-naatboulwerk het met opeenvolgende balle vir Josue Celliers (12) en Junior Taanyanda (0) teruggestuur.
Vir Old Boys was Louren Steenkamp opnuut vuur en vlam met 42 nie uit nie (3x4, 2x6).
Topvyf kolwers (meeste lopies)
1 Louren Steenkamp (332 lopies), 2 Zane Green (175), 3 Gerhard Janse van Rensburg (158), 4 Nicol Loftie-Eaton (145), 5 WP Myburgh (135).
Topvyf boulers (meeste paaltjies)
1 Ruben Trumpelmann (10), 2 Adriaan Coetzee (8), 3 WP Myburgh (6), 4 Jan-Izak de Villiers (6), 5 Simon Shikongo (5).



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article