Wanderers neem inisiatief in premierliga
Sonder hul nasionale spanlede wat by die ICC T20 Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka diens gedoen het, het APS Wanderers en ATG WHS Old Boys die afgelope naweek wenpunte in Krieket Namibië se 50-boulbeurt premierliga ingesamel.
Saterdag, Wanderers klop United
Die tuisspan Trustco United se jong kaptein Erik Lintvelt het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
Die skoolseun Louis Burger junior het as aanvangskolwer tot in die 45ste boulbeurt vasgebyt en het ‘n ankerrol vir United vervul. Burger het uiteindelik net twee viere geslaan in sy vyftigtal (60 van 126 balle).
Burger en Lintvelt het die telling vanaf 13/1 ná 4 boulbeurte tot 90/2 ná 29.5 bb gevoer, voordat Lintvelt vir 39 (78 balle; 2x4) uitgevang is.
In die middel van die kolfbeurt het Tawanda Sithole 32 van 30 bygedra, terwyl ‘n eindpoging deur Dewald le Grange (15 nie uit nie van 15 balle) en veral nommer agt Zander Lombaard (24 nie uit nie van 14 balle; 1x4 2x6) gehelp het om United tot ‘n totaal van 205/6 te bevorder.
Van die nege boulers wat Wanderers ingespan het, het ses elkeen met een paaltjie geëindig. Aiden Feely het nie ‘n paaltjie geneem nie, maar sy 10 boulbeurte het net 0/24 gekos (twee leeg).
Wanderers het in hul lopiejaagtog agt paaltjies verloor voordat hulle uiteindelik op 206/8 (44.4 boulbeurte) die wedstryd met twee paaltjies gewen het.
Hul speler van die wedstryd was die ervare aanvangskolwer Riaan Minnie met ‘n vyftigtal (68 van 80 balle; 8x4). Wanderers se kaptein Michau du Preez het 51 van 91 balle aangeteken (3x4), terwyl Janco Jacobs (20 van 30) en PD Blignaut (12 van 8) ook help het om hulle oor die wenstreep te kry.
Lintvelt was vir United toonaangewend met 3/28 in 10 bb, met nog vyf boulers wat in die paaltjies gedeel het.
Sondag, Old Boys klop CCD
By die WHS Vegkop-stadion is die besoekers CCD Tigers ingestuur om eerste te kolf en is ná 36.1 boulbeurte vir 158 uitgeboul.
WHS se boulers het 24 ekstras afgestaan (19 wydlopers) wat een van die hoogste bydraes was benewens Josue Celliers as aanvangskolwer (25 van 39 balle; 2x4 1x6), Donovan Zealand (22 van 34 balle; 1x4 1x6) en Mauritius Ngupita (25 van 36 balle).
Old Boys se kaptein Shaun Fouché het 3/16 in 5.1 boulbeurte geneem en is as speler van die wedstryd aangewys. Abner Siseso (2/29 in 7) en Jandré de Jager (2/13 in 6) het ook deurbrake gemaak.
In die Old Boys-kolfbeurt is Adriaan Coetzee (7) eerste uitgehaal, maar Zacheo van Vuuren (51 van 84 balle; 5x4 1x6) het sy kaptein Shaun Fouché as vennoot gekry wat tot die einde aanvallend gekolf het (83* van 64 balle; vyf viere, ses sesse).
Salomon (Tangi) Nuuyoma (2/35 in 8 bb) en Mauritius Ngupita (0/25 in 8) het die beste van die CCD Tigers-boulers gevaar.
Wanderers oordonder Old Boys (7 Februarie)
In die hervatting van die seisoen ná die feestyd het WHS Old Boys die loot by die Wanderers-veld gewen en gekies dat die tuisspan eerste moet kolf.
‘n Reuse-honderdtal deur Tiaan van der Merwe (161 van 142 balle; 12 viere, vier sesse) was die groot bydrae in Wanderers se totaal van 342/6.
Kaptein Michau du Preez (78 van 62 balle; 6x4 3x6) en Waldo Smith (31 nie uit nie van 21 balle; 2x4 2x6) het ook hul stempel afgedruk op Old Boys se boulers, wat gesamentlik 32 ekstras (25 wydlopers) afgestaan het.
WHS se Adriaan Coetzee (3/78 in 10 bb), Abner Siseso (1/64 in 8) en Zacheo van Vuuren (2/63 in 10) het die paaltjies gedeel.
Met die kolf het Old Boys ineengestort nadat Van Vuuren (24 van 32 balle) as kaptein vir die dag en Coetzee (17 van 18 balle) uitgehaal is.
Aiden Feely (3/3 in 2.5 bb) het die laaste paaltjies opgeruim ná Karl Birkenstock (2/26) en PD Blignaut (2/29 in 6) se vroeër deurbrake.
Old Boys se totaal van 110/9 in 29.5 boulbeurte het beteken dat hulle die wedstryd met 228 lopies verloor het (DLS-metode) nadat hul teiken weens ‘n reënonderbreking tot 339 lopies in 42 boulbeurte aangepas is.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article