Vroue-Eagles steeds wenloos in wedloop na WB

Krieket
Die hoër gerekende vrouespanne het tot dusver hul kleim afgesteek.
Andrew Poolman

Ondanks belowende tydperke en oomblikke in hul eerste drie wedstryde kon die Capricorn Eagles van Namibië nog nie daarin slaag om ‘n stok in die speke van die gunstelingspanne by die ICC Vroue T20 Wêreldbeker se globale uitduntoernooi in Nepal te steek nie.

Met vier spanne uit die tien nasies wat tot die Wêreldbeker later vanjaar in Engeland sal deurdring, was die Namibiërs hoopvol en gemotiveerd om hierdie geskiedkundige geleentheid aan te gryp, maar die hoër gerekende spanne in die vrouespel het sover hul kleim afgesteek.

Met vandag se groepwedstryd teen die gedugte Ierland in die vooruitsig, is dit feitlik ‘n uitgemaakte saak dat Namibië nie meer die Super 6 sal kan haal nie.

Saterdag het Papoea-Nieu-Guinee se aanvallende ingesteldheid vanaf die eerste boulbeurt die weg gebaan vir 'n oorwinning met drie paaltjies teen Namibië in Katmandoe.

Namibië (122/5) het nie daarin geslaag om hul totaal te verdedig nie, met die PNG-aanvangskolwer Hollan Doriga se vroeë aanslag met 39 lopies van slegs 25 balle (vier viere, drie sesse) wat vir haar die toekenning as speler van die wedstryd verseker het.

Reeds in die eerste boulbeurt deur Saima Tuhadeleni het Doriga 21 lopies geplunder (6 5W 0 6 0 4 0).

Saam met Konio Oala (20 van 18 balle, 2x4 1x6), het Doriga die kragspelperiode ten volle benut en die eilandspan ver voor die vereiste lopietempo geplaas teen die tyd dat hul eerste paaltjie op 58/1 ná 6.2 boulbeurte geval het.

Sylvia Shihepo (3/8 in 4 boulbeurte; een leë beurt) het 'n uitsonderlike boulskof gelewer en het ook vir Sibona Jimmy vir 15 lopies van 16 balle uitgehardloop. Verdere deurbrake is deur Arrasta Diergaardt (1/18 in 4) en Eveleen Kejarukua (1/22 in 4) gemaak, terwyl Sunè Wittmann vir Henoa Thomas uitgehardloop het.

Papoea-Nieu-Guinee (124/7 in 19.2 boulbeurte) het ondanks die struikelblokke die teiken bereik met net twee balle oor en hul buitekans herleef om een van die beskikbare vier Wêreldbeker-plekke te verower.

Vir Namibië was Arrasta Diergaardt, wat bevorder is om die kolfbeurt saam met Yasmeen Khan te open, die voorste lopiemaker met 36 van 41 balle (vyf viere), terwyl Khan twee viere en een ses geslaan het voordat sy vir 15 van 11 uitgevang is.

Wilka Mwatile het 23 nie uit nie van 28 balle (1x4) aangeteken en die beurt afgesluit saam met Naomi Benjamin op 14 nie uit nie van 8 balle (1x4).

 

Bangladesj ook te sterk

Die onoorwonne Bangladesj (144/7) het Donderdag ook oortuigend met 80 lopies gewen deur die Capricorn Eagles vir 64 uit te boul (17.5 boulbeurte).

Die speler van die wedstryd was Shanjida Akther Maghla, wat 4/14 in 4 boulbeurte platgetrek het.

Hoewel die Namibiese veldwerk skerp verbetering getoon het teenoor hul openingsnederlaag teen die VSA, was Bangladesj se eerste totaal van minder as 150 in dié toernooi steeds buite die Afrika-span se bereik.

Saima Tuhadeleni (2/34 in 4 bb) het twee deurbrake gevier, terwyl Sylvia Shihepo met 2/21 in 4 (ekonomie 5.25) en Wilka Mwatilemet 1/14 in 4 bb (ekonomie 3.50) ook hul kant gebring het.

Namibië was egter in die knyp toe hulle Yasmeen Khan goedkoop verloor het (5 van 5 balle; 1x4). Sunè Wittmann (19 van 24 balle; 1x4 1x6) en Merczerly Gorases (12 van 17 balle; 1x4) was die enigste ander twee kolwers wat ‘n grenshou kon slaan, óf dubbelsyfers teen die indrukwekkende Asiatiese boulaanval kon behaal.