Vroue-Eagles sak uit en eindig vierde

Krieket
Andrew Poolman

Te midde van heelwat hoër verwagtinge en ná stewiger vertonings in die eerste helfte van die vierhoekige reeks, sal die Capricorn Eagles met ‘n mate van teleurstelling uit Uganda terugkeer.

Die Namibiërs het ‘n realistiese kans gehad om ná die groepfase (twee kragmetings teen elke opponent) boaan die puntelys klaar te maak, maar drie onverwagse nederlae op ‘n streep het hulle toe die vierde eindposisie in die Victoria T20-reeks laat inneem.

Nadat ‘n plek in die eindstryd hulle vanweë ‘n nederlaag teen Rwanda nie beskore was, het die Eagles boonop in Saterdag se bronsfinaal teen die VSA ook die knie gebuig.

Moeiliker kolftoestande en laer totale by die Entebbe-veld het toenemend algemeen geword namate die toernooi gevorder het. In Donderdag se nederlaag met vier paaltjies teen Rwanda is byvoorbeeld net ‘n enkele grenshou deur Rwanda geslaan, terwyl die Eagles geen vierhou kon slaan in hul kolfbeurt van 58 almal uit nie.

Afrigter Gerhard Lötter het uitgewys dat die boulers meer gereeld daarin geslaag het om Namibië kompeterend te hou, maar dat die kolwers nie vinnig genoeg by die omstandighede kon aanpas om groter totale moontlik te maak nie.

Uganda het in die eindstryd vir Rwanda met 19 lopies verslaan om die trofee omhoog te hou.

 

Verloor teen VSA

Namibië het Saterdag in die bronsfinaal die loot gewen en gekies om te boul. Die VSA het 111 vir vier in hul 20 boulbeurte opgestel. Hierop kon Namibië net met 83 almal uit (18.1 bb) antwoord en het met 28 lopies verloor.

Halfpad deur die Amerikaners se kolfbeurt was hulle in die moeilikheid op 43/4. Maar toe het Pooja Ganesh (40 nie uit nie van 42 balle; 4x4) en Nikhar Doshi (29 nie uit nie van 26 balle; 2x4) saamgespan vir 'n onoorwonne vennootskap van 68 lopies.

Die Eagles was vroeg in die moeilikheid (5/2) en het hulself nooit werklik in enige posisie geplaas om die teiken te bereik nie.

Kayleen Green het twee grenshoue geslaan (13 van 14 balle), terwyl Mekelaye Mwatile (15 van 18 balle; 0x4), Wilka Mwatile (11 van 21 balle; 0x4) en Victoria Hamunyela (11 nie uit nie van 10 balle; 1x4) ook dubbelsyfers behaal het – maar dit was tevergeefs om Namibië binne trefafstand van die Amerikaanse totaal te bring.

Sainavi Kambalapalli (VSA) is as speler van die wedstryd aangewys (9 lopies van 12 balle; 1/18 in 4 beurte).

Die toernooi se algehele statistiek bevat ook net enkele ligpunte vir Namibië.

• Kayleen Green was vyfde op die lys van kolwers met die meeste lopies (102 in sewe kolfbeurte; gemiddeld 14.5; kolftempo 68.9; hoogste telling 39). Mekelaye Mwatile se 90 in sewe kolfbeurte plaas haar sewende op die lys.

• Victoria Hamunyela sluit die toernooi met nege paaltjies in sewe wedstryde af, wat haar sesde op die algehele lys plaas. Haar ekonomie-koers van 3.91 per boulbeurt was vyfdebeste, terwyl Wilka Mwatile (3.62 per boulbeurt) twee posisies beter was.

Wilka se 102 leë balle in 26 boulbeurte plaas haar tweede op die lys van bestes, ná Sainavi Kambalapalli (VSA) met 103 in 28 boulbeurte.