Voorlopers kortstondig aarde toe gebring
Die voorlopers APS Wanderers en ATG WHS Old Boys het beide Saterdag ‘n pak slae gekry, maar het Sondag hul gebruiklike standaard herstel en hou steeds hul kanse in hul eie hande om tot die finaal van Krieket Namibië se premierliga deur te dring.
Met net vier spanne in die land se hoogste klubliga is Wanderers (16 punte) op koers om te verseker dat hy boaan die puntelys eindig en sodoende op 15 Maart een van die finaliste sal wees, terwyl die vierde geplaaste CCD Tigers (4 punte) hom vir die bronsfinaal kan regmaak.
‘n Enkele semifinaal (tweede teen derde) is vir Saterdag 14 Februarie bestem, en daarom sal aanstaande naweek se enkele rondte uitstaande wedstryde bepalend vir WHS Old Boys (12 punte) en Trustco United (8) wees.
Die opgesomde verloop van die afgelope naweek se vier wedstryde:
Saterdag, United klop Wanderers
By die Wanderers-veld het die gasheerspan ‘n skok gekry toe hulle vir ‘n beskeie 165 almal uitgeboul is en met nege paaltjies teen Trustco United 1 (166/1 in 23.2 boulbeurte) verloor het.
Die speler van die wedstryd was United se aanvangskolwer Gerhard Janse van Rensburg wat 83 nie uit nie van 83 balle aangeteken het, en later ook 1/17 (4 bb) geneem het toe hy Wanderers se kaptein Karl Birkenstock (3) geboul het.
Vir Wanderers sou Tiaan van der Merwe (37 van 75 balle; 3x4 1x6), JC Balt (20), Riaan Minnie (14), JJ Smit (41 van 58 balle, 1x4 1x6) en Nyasha Nyashadzaishe (7) graag groter bydraes wou gelewer het.
United se kaptein Ruben Trumpelmann, wat in die vorige twee wedstryde nie geboul het nie, was egter ‘n faktor (2/19 in 7) en het Van der Merwe en Balt verwyder. WP Myburgh het vir Minnie uitgehardloop en sy draaiballe was ook doeltreffend (3/38 in 9.4) en Tawanda Sithole het sy kant gebring met ‘n ekonomiese 2/16 in 6 bb.
Nyashadzaishe was die enigste Wanderers-bouler wat kon deurbreek toe hy vir WP Myburgh (24 van 13 balle; 2x4 1x6) laat uitvang het, maar Zane Green (49 nie uit nie van 44 balle; 5x4 2x6) het by Janse van Rensburg aangesluit om die kleinerige teiken maklik te behaal.
Saterdag, CCD klop Old Boys
By die United-veld het CCD Tigers (232 almal uit, 49.5 bb) sy eerste oorwinning van die 50-boulbeurt ligaseisoen behaal toe hy ATG WHS Old Boys (114 almal uit in 31.2 bb) met 118 lopies verras het.
Die speler van die wedstryd was CCD se kaptein Nicol Loftie-Eaton met 101 van 121 balle en 4/27 in 6.2 bb.
Old Boys het die res van die CCD-kolflys grootliks beperk en Donovan Zealand (35 van 67 balle), Simon Shikongo (24) en Nicolas van der Colff (24) het die hoogste tellings behaal afgesien van Loftie-Eaton se honderdtal.
Vir Old Boys het hul aanwins Juma Miyagi, ‘n nasionale snelbouler vir Uganda, sy debuut met 3/50 in 9.5 bb gemaak, terwyl Jack Brassell sy vennoot met die nuwe bal was (4/36 in 10 bb).
In WHS Old Boys se kolfbeurt het Louren Steenkamp die hoogste behaal (44 van 76 balle; 1x4 2x6), maar Shaun Fouché (20) en Dylan Leicher (22) was sy enigste ondersteuning.
Vroeë deurbrake deur Max Heingo (2/27 in 7) en Tangi Nuuyoma (2/28 in 6) het die deur geopen vir Loftie-Eaton om met vier paaltjies die Old Boys se aanslag in die kiem te smoor.
Sondag, Old Boys klop United
United kon by die FNB Namibië Krieketstadion net 147 lopies opstel, wat nie genoeg was om WHS Old Boys (148/1, 17.4) van ‘n haastige sege met nege paaltjies te weerhou nie.
WHS se bouleenheid het verhinder dat United se topkolwers hul stempel kon afdruk, met die beperkte sukses vir WP Myburgh (27 van 38 balle), Michael Müller (18 van 25 balle), Zane Green (20 van 56 balle) en Ruben Trumpelmann (35 van 34 balle; 2x4 2x6).
Dylan Leicher het uitgeblink met 4/19 in 4.1 boulbeurte. Gerhard Erasmus, wat Saterdag se nederlaag misgeloop het, het vir Zane Green geboul (1/19 in 8), met een paaltjie elk vir Jack Brassell, Juma Miyagi, Adriaan Coetzee en Shaun Fouché.
Malan Kruger was speler van die wedstryd vir sy aanvallende 91 lopies van 57 balle (7x4 7x6). Die aanvangskolwer het vir Zacheo van Vuuren (0) verloor toe Ruben Trumpelmann hom met sy heel eerste bal geboul het, maar Shaun Fouché (48 nie uit nie van 49 balle; 5x4 2x6) het die kalmte help herstel in hul onoorwonne vennootskap van 148 lopies.
Sondag, Wanderers klop CCD
By die HP Ovaal het CCD die loot gewen en gekies om te kolf, voordat hulle vir 188 in 47 boulbeurte uitgehaal is.
Wanderers (191/4) het net 26 boulbeurte benodig om met ses paaltjies te wen.
JJ Smit was speler van die wedstryd met 2/23 in 6 bb, voor ‘n onoorwonne vyftigtal (67* van 43 balle; een vier, sewe sesse).
Smit het vir Nicol Loftie-Eaton (7 van 18 balle) been-voor-paaltjie betrap, nadat hy ook die jong aanvansgkolwer Josue Celliers (19) agter die paaltjie laat vang het.
Joshuan Julius (23 van 40 b), Simon Shikongo (uitgehardloop deur Bernard Scholtz vir 46 van 77 balle) en Donovan Zealand (44 van 72 balle) het vergeefs probeer om CCD se totaal nader aan die 200-merk te bring.
Nyasha Nyashadzaishe (2/35 in 10 bb), Karl Birkenstock (2/28 in 7) en PD Blignaut (2/28 in 8) het paaltjies geneem terwyl Bernard Scholtz se draaiballe met respek hanteer is (0/10 in 6 bb; ekonomie 1.67).
Afgesien van Smit se vyftigtal het Wanderers se aanvangskolwers Tiaan van der Merwe (57 van 64 balle; 3x4 4x6) en Riaan Minnie (28 van 24 balle; 6x4) se 46-vennootskap ook die grondslag gehelp lê. JC Balt het twee sesse geslaan voordat hy op 21 van 18 balle uitgevang is.
Max Heingo (2/29 in 9 bb) was CCD se uitstaande bouler.
Laaste ligabepalings
Saterdag 7 Maart: WHS Old Boys teen Wanderers by HP Ovaal.
Sondag 8 Maart: CCD teen United by HP Ovaal.
Saterdag 14 Maart: Semifinaal (2de teen 3de) by FNB NCG.
Sondag 15 Maart: Bekerfinaal by FNB NCG.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article