Veteraan-Proteas smoor Namibiërs in die kiem
Die Veteranekrieketvereniging van Namibië se span het hul groepwedstryde afgesluit by die IMC-Wêreldbeker vir spelers ouer as 40, wat in Georgetown, die hoofstad van Guyana, aangebied word.
In die eerste van drie moontlike uitspeelwedstryde vir finale posisies sal Namibië Donderdag in Georgetown in 'n herontmoeting teen Kanada te staan kom. Gerrie Snyman, die toerkaptein, en Johan Geldenhuys het beide las van bobeenspierbeserings ondervind, maar sal na verwagting wel op hul pos wees om oorweeg te word.
In Dinsdag se kragmeting het die Suid-Afrikaanse snelbouler Ryan Reeves ses paaltjies vir 13 lopies teen Namibië geneem (vyf boulbeurte; drie leë boulbeurte; 25 balle waaruit geen lopies aangeteken is nie).
Reeves, wat in sy jonger dae vir die Vrystaat en KwaZulu-Natal gespeel het, het die beste boulstatistiek in enige internasionale wedstryd vir veterane ouer as 40 behaal.
Die Suid-Afrikaanse Veterane (363 vir agt in 45 boulbeurte) het die Namibië Veterane (111 almal uit in 25.3 bb) met 252 lopies oorskadu.
Drie Suid-Afrikaners het elk meer as 50 lopies aangeteken, terwyl nog twee kolwers in die 40’s uitgehaal is. Die hoogste tellings is deur Nathan Jones (77 off 50) hul kaptein en aanvangskolwer, William Hantam (tevore van die Cape Cobras) met 71 van 72 balle, behaal.
Vir Namibië het Henry Hayes, Jaco Duvenhage en Asad Abbas elk twee paaltjies by hul oes vir die toernooi gevoeg.
Tydens Namibië se kolfbeurt het die kaptein vir die dag, Nicky Buys (52 onoorwonne van 72 balle; 6 viere, 1 ses) en Henry Hayes (35 van 24 balle) 'n vennootskap van 51 lopies gedeel.
Niemand anders – behalwe die laaste kolwer, Johan Geldenhuys (10) – het egter dubbelsyfers behaal nie.
• Die grootste loesing van die dag was toe die Wes-Indiese Eilande (452/4 in 45 boulbeurte) vir Colombia (75 almal uit) met 377 lopies geklop het. Die Windies se aanvangspaar Sewnarine Chattergoon (158) en Randy Thomas (92) se vennootskap het 272 lopies opgelewer.
• In die toernooi van 15 spanne verloop sake baie gelykop boaan die puntelys:
1 Suid-Afrika, wen vyf uit ses, 10 punte.
2 Pakistan, wen vyf uit ses, 10 punte.
3 Engeland, wen vyf uit ses, 10 punte.
4 Australië, wen vyf uit ses, 10 punte.
5 Wes-Indië, wen vier uit ses, 8 punte.
6 Kanada, wen vier uit ses, 8 punte.
7 Indië, wen vier uit ses, 8 punte.
11 Namibië, wen twee uit ses, 4 punte.
SPANPOGING
Borge wat die Namibiese toer na Suid-Amerika ondersteun het, was Nature Travel Africa, Powerline Africa, Namibië Toerismeraad, Waldschmidt Eggs, Dulux Namibia, MR24, Veteranekrieketvereniging van Namibië, Sport Wrap en Schoemans.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article