United verloor teen Old Boys ondanks 299/6 totaal
Die kolwers Malan Kruger (ATG WHS Old Boys) en WP Myburgh (Trustco United) was Saterdag met honderdtalle aan die voorpunt van die Namibiese FNB Eagles-spelers wat onmiddellik ná hul terugkeer van die ICC T20 Wêreldbekertoernooi hul stempel op plaaslike klubkrieket afgedwing het.
Die Eagles het in Indië en Sri Lanka die wind van voor gekry teen sterk opposisie en kon geen wedstryd teen Nederland, Indië, Pakistan óf die VSA wen nie.
Terug by hul klubs was Kruger Saterdag by die United-veld in Olympia aan die brand met 109 van 65 balle, wat bygedra het tot ATG WHS Old Boys se oorwinning met vyf paaltjies (DLS-metode) teen Trustco United.
United is ingestuur om eerste te kolf en sal straks besin dat hul stewige totaal van 299 vir ses nie genoeg vir ‘n oorwinning was nie. Vanweë ‘n onderbreking is die DLS-metode ingespan om WHS Old Boys se teiken tot 270 in 42 boulbeurte aan te pas – wat die besoekers in 40.0 boulbeurte bereik het met vyf paaltjies plat.
Vir United het WP Myburgh ‘n vyftigtal as aanvangskolwer behaal (73 van 101 balle; 8x4) en hoewel André van Niekerk (17), Erik Lintvelt (13) en Erich von Molendorff (23) nie te lank vertoef het nie, is ‘n grondslag gelê vir twee stewige vennootskappe later in die kolfbeurt.
United se kaptein Ruben Trumpelmann (61 van 62 balle; 5x4 2x6) het op nommer vyf ingestap en ‘n kolfmaat in nommer ses Tawanda Sithole (54 van 51 balle; 4x4 2x6) gevind om die tuisspan se telling vanaf 147/4 tot 260/5 te voer.
Sithole is met die laaste bal van die kolfbeurt deur Dylan Leicher uitgehardloop, nadat Sithole en Handre Klazinga (28 nie uit nie van 13 balle; 3x4 1x6) hul totaal tot ‘n raps binne die 300-merk gedruk het.
In WHS Old Boys se kolfbeurt het Malan Kruger (109 van 65 balle) sewe viere en sewe sesse geslaan om as speler van die wedstryd aangewys te word. Sy vennootskap om die eerste paaltjie met Gerhard Erasmus (57 van 25 balle; 8x4 3x6) het die besoekers tot 76/1 ná net 6.5 boulbeurte geplaas.
Kleiner bydraes deur kaptein Shaun Fouché (27 van 28 balle; 2x6), Dylan Leicher (34 van 44 balle; 1x4 2x6) en Adriaan Coetzee (30 van 46 balle; 1x4 1x6) het WHS gehelp om die wenpunte te verseker.
Ruben Trumpelmann was nie een van die agt boulers wat United ingespan het nie, met Tawanda Sithole (2/14 in 6 bb; ekonomie 2.33) wat vir Leicher en Jandre de Jager (1) skoongeboul het.
In WHS Old Boys se bouleenheid het Dylan Leicher redelike straf verduur vir 1/81 (10 bb), terwyl Shaun Fouché (2/44 in 10) die beste gevaar het vir die paaltjies van Trumpelmann en Von Molendorff.
CCD knak teen Wanderers
Die tellings was Saterdag heelwat kleiner by die Wanderers-veld, waar die tuiskaptein Michau du Preez die loot gewen het en vir CCD Tigers ingestuur het.
CCD (91 almal uit) in 36.2 boulbeurte kon nie genoeg teenstand bied teen Wanderers (97/2) se oorwinning met agt paaltjies.
Karl Birkenstock het in die eerste en vyfde boulbeurte toegeslaan om Ramon Wilmot (0) en kaptein Joshuan Julius (0) te verwyder. Vir CCD het die skoolseun Josue Celliers (37 van 56 balle; 3x4 1x6) sy stempel probeer afdruk totdat Birkenstock hom van PD Blignaut se boulwerk uitgevang het.
Kolftoestande was egter nie so maklik nie en Nicol Loftie-Eaton moes hard werk vir sy 28 lopies van 77 balle (een vier) in ‘n vennootskap van 50 lopies met Celliers. Ná dié twee se vertrek was dit egter ‘n ineenstorting en niemand anders kon meer as 6 lopies bydra nie.
JC Balt se regterarm draaiballe het hom met 4/24 in 9 bb (39 leë balle) die speler van die wedstryd gemaak. Birkenstock (2/12 in 5), Nyasha Nyashadzaishe (0/14 in 6), JJ Smit (1/18 in 8) en PD Blignaut (3/17 in 8.2 bb) het almal selfs minder per boulbeurt as Balt se 2.67 afgestaan.
Danksy Riaan Minnie (38 van 38 balle; 6x4 1x6), JC Balt (14 van 13 balle; 2x6), Birkenstock (18* van 25 balle; 3x4) en PD Blignaut (15 van 6 balle; 2x6) en 12 wydlopers het Wanderers die teiken in 13.4 boulbeurte verbygesteek.
Vir Wanderers was dit nie eens nodig om Michau du Preez, Nyasha Nyashadzaishe óf JJ Smit in te stuur nie.
CCD Tigers se enigste ligpunt was toe Mauritius Ngupita (2/32 in 7) van Minnie en Balt ontslae geraak het.
United klop CCD
Sondag by die HP-ovaal is WP Myburgh van United vir sy honderdtal as die speler van die wedstryd teen CCD Tigers aangewys.
United (236/6) het die aanslag van CCD (200 almal uit in 39.1 bb) afgeweer om met 36 lopies te wen.
Die aanvangskolwer Myburgh (102 van 135 balle) het vyf viere geslaan en is eers in die 46ste boulbeurt uitgehaal. Sy grootste vennootskap was om die sesde paaltjie saam met Handre Klazinga (42 nie uit nie van 38 balle; 3x4 1x6), terwyl Tawanda Sithole ook ‘n handige 32 van 44 balle (4x4) bygedra het.
In die CCD-bouleenheid het Nicol Loftie-Eaton die toon aangegee (4/30 in 10 bb), terwyl Max Heingo (1/47 in 9) die paaltjie van Sithole gekry het.
CCD se topordekolwers Ramon Wilmot (22 van 23 balle; 2x4 1x6), Josue Celliers (39 van 35 b; 7x4 1x6), Joshuan Julius (15 van 33 b; 1x4), Nicol Loftie-Eaton (45 van 58 balle sonder ‘n grenshou), Donovan Zealand (42 van 47 balle; 3x4 2x6) en Nicolas van der Colff (13 van 14; 2x6) het hul bes gedoen om die oranje span binne trefafstand van ‘n oorwinning te bring, maar hul pogings was vergeefs.
Die United-kaptein Ruben Trumpelmann het weer nie geboul nie, maar het sewe boulers kans gegee van wie William Lottering (3/33 in 8.1 bb), Handre Klazinga (3/37 in 8) en WP Myburgh (2/36 in 9) die vernaamste staatmakers was.
Puntestand
Ná drie wedstryde elk is Wanderers die onoorwonne voorloper met 12 ligapunte, gevolg deur WHS Old Boys (twee gewen, agt punte), United (vier punte) en CCD Tigers (nul).



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article