Sri Lanka byt vas en klop Afghanistan
Afghanistan se onoorwonne opmars tot in die Super Ses van die ICC Onder 19 Wêreldbeker-kriekettoernooi is gister uiteindelik deur Sri Lanka gestuit.
Die Afghane het tot dusver indrukwekkend vertoon en het elk van hul drie groepwedstryde teen Wes-Indië, Suid-Afrika en Tanzanië gewen.
Ter afsluiting van Namibië se mede-aanbieding van die O.19 Wêreldbeker het Sri Lanka gister by die FNB Namibië Krieketstadion sy stem dik gemaak en vir Afghanistan met vier paaltjies verras.
Afghanistan is ingestuur om eerste gekolf en is in hul laaste boulbeurt vir 193 uitgeboul.
Die hoogtepunt van die Afghane se kolfbeurt was hul aanvangskolwer Osman Sadat se geduldige vyftigtal (61 van 107 balle) waarin hy net drie grenshoue kon behaal.
Die Sri Lankane het met reëlmaat deurbrake gemaak hoewel Aziz Mia Khil (43 van 58 balle; 5x4) en Rohullah Arab (22 nie uit nie van 13 balle; 1x4 2x6) hulle probeer ingrawe en die tempo probeer versnel het.
Die Sri Lankaanse boulers Viran Chamuditha (2/20 in 10 bb; een leë boulbeurt) en Chamika Heentigala (1/19 in 8 bb) het elk minder as drie per boulbeurt afgestaan.
Sri Lanka se aanvangskolwer Dimantha Mahavithana (37 van 58 balle) en Senuja Wekunagoda (43 van 79 balle) het die grondslag gelê vir Heentigala (22 nie uit nie van 42 balle) en Dulnith Sigera (30 van 45 balle) om die haalbare teiken aan te teken.
Die uiteinde is dat die Super Ses Groep 1 tans soos volg daar uitsien:
1 Australië, wen drie uit drie, ses punte
2 Afghanistan, wen twee uit drie, vier punte.
3 Sri Lanka, wen twee uit drie, vier punte.
4 Wes-Indië, wen twee uit drie, vier punte.
Die res van die toernooi se uitspeelwedstryde sal in Namibië se medegasheerland Zimbabwe afgehandel word. Engeland (drie uit drie gewen) is sterk geplaas om vir die halfeindstryd te kwalifiseer ná gister se oorwinning met sewe paaltjies teen Bangladesj in Bulawayo.
• Vandag se twee bepalings: Pakistan teen Nieu-Seeland (in Harare); Zimbabwe teen Indië (in Bulawayo).



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article