RSA-toerspan beklink kompeterende reeks

Krieket
Die Namibiese vroue kon deeglik voorberei op 'n belangrike tuistoernooi in Augustus.
Andrew Poolman
Die kompeterende reeks waarop Krieket Namibië vir sy nasionale vrouegroep gehoop het, het gewis vrugte afgewerp met die geslaagde besoek van Krieket Suid-Afrika se Opkomende Akademie-vrouespan.

Die sewe wedstryde in elf dae by die FNB HP-ovaal in Olympia is afgesluit met die T20-reeks gelykop (twee-elk), voordat die Suid-Afrikaners (209/7 in 39.1 boulbeurte) Saterdag die Capricorn Eagles (205/9 in 50 boulbeurte) met drie paaltjies geklop het om die reeks eendagwedstryde met 2-1 te beklink.

Eliz Marie Marx (RSA) is as speler van die wedstryd bekroon met ‘n vyftigtal (64 van 65 balle; nege viere, een ses) wat die besoekers op die wenpad help hou het.

Marx se vennootskap van 76 lopies met Luyanda Nzuza (34 van 33 balle; 5x4) om die sesde paaltjie was ‘n doring in die Namibiërs se vlees.

Suné Wittmann (2/21 in 8 boulbeurte; ekonomie 2.62), Kayleen Green (1/20 in 6.1 bb; ekon 3.24) en Wilka Mwatile (2/44 in 7 bb) het die Namibiese boulaanval gelei.

In die Namibiese kolfbeurt het Kayla Reyneke 3/32 in 7 bb geneem, nadat die Namibiërs ingestuur is om eerste te kolf.

Reyneke het ook vanaf Caitlin Gail Wyngaard (1/17 in 6) die vangkans raakgevat om van die Eagles se nommer drie Yasmeen Khan (0) ontslae te raak.

Net vier Namibiese kolwers kon dubbelsyfers haal en het voortgegaan om stewige bydraes te lewer – kaptein Suné Wittmann (32 van 40 balle; 3x4 2x6), Edelle van Zyl (46 van 86; 5x4 1x6), Mekelaye Mwatile (42 van 51 balle; 6x4) en nommer sewe Kayleen Green (61 nie uit nie van 55 balle; 9x4).

Vir die Eagles was die afgelope reeks van groot waarde ter voorbereiding op die komende T20 Afrika-streekuitduntoernooi wat in Augustus in Windhoek voorlê. Agt nasies sal meeding vir twee plekke om na die wêreldwye kwalifiserende toernooi vir die T20 Wêreldbeker vir vroue te vorder.



UITBLINKERS

Eendagreeks, topkolwers

1 Alexandra Candler (RSA) 172 lopies, kolftempo 107.

2 Yasmeen Khan (NAM) 167 lopies, kolftempo 145.

3 Delmari Tucker (RSA) 118 lopies, kolftempo 100.

Eendagreeks, topboulers (meeste paaltjies)

1 Caitlin Wyngaard (RSA) ses paaltjies.

2 Wilka Mwatile (NAM) vyf paaltjies.

3 Kayla Reyneke (RSA) drie paaltjies.

T20-reeks, topkolwers

1 Yasmeen Khan (NAM) 117 lopies, kolftempo 130.

2 Jenna Evans (RSA) 92 lopies, kolftempo 104.

3 Kayleen Green (NAM) 84 lopies, kolftempo 92.

T20-reeks, topboulers (meeste paaltjies)

1 Mekelaye Mwatile (NAM) sewe paaltjies.

2 Leah Jones (RSA) ses paaltjies.

3 Sylvia Shihepo (NAM) vyf paaltjies.