Ontluikende talent na vore in o.19’s se eendagliga

Krieket
Dit is nog betreklik vroeg in die kompetisie, wat opbou na die finaal op 3 Oktober.
Andrew Poolman

Krieket Namibië se 40-boulbeurtliga vir o.19-skolespanne word vir die tweede naweek met Windhoek se Groep A-spanne voortgesit, met een wedstryd Vrydag, twee wedstryde Saterdag en een wedstryd Sondag.

Groep B bestaan uit drie spanne (Kuiseb Hub, Pro-Ed en die Noorde-kombinasie) wat ook deel van die kompetisie uitmaak.

Ná die vorige naweek se uitslae is die gekombineerde span van Windhoek Hoërskool en Gobabis met ‘n kortkop die voorloper in Groep A, ná twee uit twee oorwinnings en ‘n reusagtige netto kolftempo van 3.65.

Kort op hul hakke is die elftal van die Sport & Leadership Centre (SLC), die nuwe akademiese instelling van Krieket Namibië, wat ook hul eerste twee wedstryde gewen het.

Windhoek Afrikaanse Privaatskool is derde geplaas met een oorwinning uit twee wedstryde. Walvisbaai Privaatskool kon sover nul uit vier wedstryde wen, maar keer terug na die hoofstad vir nog twee wedstryde Saterdag, eers teen WHS/Gobabis en onmiddellik daarna teen Windhoek Affies.

Twee honderdtalle is op die eerste naweek aangeteken. Michael Müller van die SLC-span het net 78 balle gebruik vir sy 115 lopies (12 viere, vier sesse) in die oorwinning met 128 lopies teen WBPS. Müller en Tiaan van der Merwe (59 van 61 balle; 6x4 1x6) se vennootskap van 139 om die eerste paaltjie het die grondslag vir SLC se gedugte wentotaal van 297/4 gevorm.

In die WHS-Gobabis kombinasie (311/6 in 40 boulbeurte) se oorwinning met 146 lopies teen die Walvisbaaiers het Adriaan Coetzee as aanvangskolwer sy stempel afgedruk met 108 lopies van 108 balle (7x4 3x6), voordat sy spanmaat Henré Opperman met 73 van 71 balle hom ook ingegrawe het.

Twee van die toernooi se uitstaande boulvertonings sover was die oeste van vyf paaltjies. Immanuel Kayambuka van die Kuiseb Hub-span het op Pro-Ed Akademie se veld vyf paaltjies vir 20 lopies teen die Noorde-kombinasie platgetrek. In Windhoek het Emile Vilbert 5/19 in die SLC se oorwinning teen Walvisbaai by die United-veld in Olympia ingeoes.

 

TOPKOLWERS in die reeks sover

1 Michael Müller (SLC) 165 lopies in twee kolfbeurte; kolftempo 136.36; gemiddeld 82.50.

2 Tiaan van der Merwe (SLC) 119 lopies in twee kolfbeurte; kolftempo 95.20; gemiddeld 59.50.

3 Adriaan Coetzee (WHS/Gobabis) 108 lopies in een kolfbeurt; kolftempo 100.0.

4 Louis Burger (SLC) 86 lopies in twee kolfbeurte; kolftempo 70.49; gemiddeld 43.00.

5 Rowan van Vuuren (Walvisbaai Privaatskool) 74 lopies in twee kolfbeurte; kolftempo 84.09; gemiddeld 37.

6 Henré Opperman (WHS/Gobabis) 73 lopies in een kolfbeurt; kolftempo 102.82.

7 Gerhard Genis (SLC) 62 onoorwonne lopies in twee kolfbeurte; kolftempo 105.08.

8 Salmo Shivolo (Kuiseb Hub) 53 lopies in vier kolfbeurte; kolftempo 84.13; gemiddeld 26.50.

 

TOPBOULERS in die reeks sover

1 Immanuel Kayambuka (Kuiseb Hub) tien paaltjies; beste 5/20; boulekonomie 3.31.

2 Emile Vilbert (SLC) agt paaltjies; beste 5/19; boulekonomie 2.69.

3 Salmo Shivolo (Kuiseb Hub) ses paaltjies; beste 3/7; boulekonomie 1.69.

4 Tjaart Vorster (Noorde Gekombineerd) vyf paaltjies; beste 4/17; boulekonomie 3.69.

5 Kyle de Hilster (Kuiseb Hub) vier paaltjies; beste 2/10; boulekonomie 2.47.

6 Sebastian de Bruin (Pro-Ed) vier paaltjies; beste 3/20; boulekonomie 7.08.

• Die naweek se volledige wedstrydprogram is op bladsy 2.