Old Boys juig ná laaste bal van T20-finaal

Klubkrieket
Tielman Van Lill
‘n Aksiebelaaide T20 premierliga-seisoen van Krieket Namibië is gister met ‘n spannende eindstryd by die FNB Namibië Krieketstadion in Olympia afgesluit.

ATG WHS Old Boys (143 vir ses in 20 boulbeurte) het die hardnekkige verdedigende titelhouer APS Wanderers (142 vir 8 in 20) eers met die laaste bal van die kragmeting gebêre.

Wanderers se vernuftige nasionale draaibouler Bernard Scholtz het die laaste boulbeurt afgestuur toe Old Boys nog vier lopies gesoek het. Scholtz (5/25) het sy vierde en vyfde paaltjie van die wedstryd ingepalm deur Dylan Leicher (11 van 7 balle; 1x6) te laat uitvang en ook vir Jandré de Jager (2) te boul.

Die laaste wonderwerk het egter vir Scholtz en Wanderers ontglip, toe Old Boys se nommer ses Luca Micillo (4*) die vereiste enkellopie vanaf die laaste bal behaal het.

Wanderers was die verrassingspakket wat nie ‘n enkele ligawedstryd in die 2025-seisoen kon wen nie, maar wat nogtans oor genoeg gevaarliks skietgoed beskik het om Saterdag in die semifinaal by die agterdeur in te glip met ‘n sege teen die voorloper Trustco United.

WHS Old Boys het vir die eindstryd sy geloof in dieselfde bloedjong aanvangskolwers behou wat die vorige dag in die semifinaal beide goedkoop uitgehaal is.

Adriaan Coetzee (76 van 54 balle; ses viere, vier sesse) het wel in die finaal sy stempel as speler van die wedstryd afgedruk. Hy het sy vyftigtal ná slegs 33 aflewerings op die telbord laat verskyn, nadat hy as bouler ook met 2/17 in 4 boulbeurte uitgeblink het.

JC Balt, Wanderers se toplopiemaker, se vyftigtal het van 42 aflewerings gekom, voordat hy op 51 lopies, 46 balle, 7x4) uitgehaal is.

Niko Davin (19 van 23 b) en Lo-han Lourens (3) is nader geroep nadat beide nie in die semifinaal teen United kon speel nie. Nyasha Nyashadzaishe (16 van 12 b) en die jong Waldo Smith (24 van 24 b) het ook in die geskarrel vir lopies bygedra.

As bouler het Wanderers vir Jack Brassell (0/37 in 4 bb) en Abner Siseso (1/34 in 4) aangeval, maar teen Dylan Leicher (2/36 in 4), Adriaan Coetzee (2/17) en Shaun Fouché (2/13 in 4) was dit moeiliker.

Benewens Adriaan Coetzee se puik kolfbeurt was Old Boys se kaptein Shaun Fouché (27 van 29 b) die vernaamste bydraer.

Bernard Scholtz se vyf paaltjies is deur Nyasha Nyashadzaishe (1/34 in 4 bb), Karl Birkenstock (0/26 in 2), Waldo Smith (0/6 in 1 bb), JC Balt (0/26 in 4), PD Blignaut (0/12 in 3) en Danie van Schoor (0/14 in 2) ondersteun.



Die spanne in die finaal:

Wanderers 1: JC Balt, Niko Davin, Lo-han Louwrens, Karl Birkenstock (kaptein), Hansie de Villiers, Nyasha Nyashadzaishe, Aiden Feely, Waldo Smith, Danie van Schoor, PD Blignaut, Bernard Scholtz.

Old Boys 1: Adriaan Coetzee, Luca Micillo, Malan Morkel, Henco van der Merwe, Shaun Fouché (kaptein), Dylan Leicher, Malan Kruger, Jandré de Jager, Jack Brassell, Abner Siseso, Jano Fourie.



Semifinale

Danksy JC Balt (88 van 65) as speler van die wedstryd en kaptein Karl Birkenstock (32 van 39 balle) het Wanderers (157/4 in 20) sy semifinaal teen United (135/8 in 20) met 22 lopies beklink.

Vir United het hul kaptein en nasionale paaltjiewagter-kolwer Zane Green ‘n groot leemte gelaat toe hy weens ‘n rugkwaal nie kon speel nie. Afgesien van WP Myburgh (66 van 54 balle; 7x4) kon hul jeugdige kolflys nie naby genoeg aan die wenteiken kom nie.

Bernard Scholtz het opnuut vir United geteister met 2/16 in 4.

•In die tweede semifinaal het ATG WHS Old Boys 1 (127/2 in 15.1 bb) vir CCD Tigers 1 (126 almal uit in 19.5) met 8 paaltjies geklop.

Malan Kruger (80* van 39 b) en Shaun Fouché (35*, 36 b) was die wenspan se lopiemasjiene met ‘n vennootskap van 118 lopies.