ODI-reekssege teen Ierland maak geskiedenis
Die snelboulers JJ Smit en Jack Brassell het sterk deurgekom in Namibië se roemryke oorwinning met vyf paaltjies gister teen Ierland, waar die toerspan se totaal van 129 met gemak in 21.2 boulbeurte verbygesteek is om ‘n mylpaal-reeksoorwinning in die eendagreeks vir die FNB Eagles te beklink.
Die reeks was ‘n eerste vir Namibië teen ‘n volwaardige toetsspelende krieketland en selfs geharde ondersteuners sou nie algemeen verwag het dat Gerhard Erasmus en sy manne in die 50-boulbeurtformaat drie uit die vyf wedstryde sou beklink nie.
Namibië het immers nog nooit tevore ‘n internasionale eendagwedstryd (ODI) teen enige van die volle ICC-lidlande gewen nie, met opponente op ICC assosiaat-vlak soos Nederland, Skotland, Nepal en die VSA wat as hul grootste slagoffers getel het.
Hierteenoor kan Ierland met trotse ODI-oorwinnings teen spanne soos Wes-Indië (vier keer), Suid-Afrika (2), Pakistan (1), Engeland (2), Afghanistan (13), Bangladesj (2) en Zimbabwe (11) spog.
Vir afrigter Craig Williams se spelersgroep sal dié uitslag groot aansporing bied vir die veldtog wat voorlê om vir die 2027 Wêreldbeker in eendagkrieket te kwalifiseer, waarvan Namibië ‘n mede-aanbieder sal wees. Die FNB Eagles sal deur twéé wêreldwye kwalifiserende toernooie moet vorder, nadat hulle vanweë terugslae op kritieke tye nie in die topvier in die 2024-2026 ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks geëindig het nie.
Die oorwinning by die FNB Namibië-krieketstadion is inderdaad ’n beduidende mylpaal vir alle assosiaat-krieketlande.
Ierland se kolfbeurt het nooit herstel van die vroeë terugslae nie. Die Iere is vir 129 in 33,1 boulbeurte uitgehaal, nadat Namibië se boulers deurlopende druk toegepas het. JJ Smit het uitgeblink met 4 paaltjies vir 20 in nege boulbeurte (drie leeg), terwyl Jack Brassell met drie Ierse kolwers laat sneuwel het.
Max Heingo het met sy eerste bal vir Andrew Balbirnie (9) agter di8e paaltjies laat uitvang, terwyl Ruben Trumpelmann vir Tim Tector (5) deur Heingo laat vang het.
Brassell het hierna Cade Carmichael (27) se bypen met ‘n uitmuntende aflewering raakgeboul, terwyl hul kaptein Lorcan Tucker – wat twee sesse geslaan het in 'n vinnige 20 van 14 balle – van Smit se boulwerk uitgevang is.
Die gevaarlike Curtis Campher (0) is deur Smit b.v.p. betrap. Jordan Neill het probeer terugveg met 33 lopies, maar sy weerstand was nie genoeg nie. Ierland se laaste sewe paaltjies het vir slegs 45 lopies geval, wat hulle ver kort van ’n mededingende totaal geplaas het.
Namibië se jaagtog was weldeurdag en beheersd. Louren Steenkamp (46) is net vier lopies kort van 'n vyftigtal uitgehardloop, terwyl Gerhard Erasmus 30 van net 18 balle gemoker het. Hy het twee viere teen Gavin Hoey geslaan, asook 'n ses, voordat hy uitgehaal is.
Zane Green (11* van vier balle) het die wedstryd in die 22ste boulbeurt beëindig deur 'n ses te slaan.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article