Nederland bly doring in Eagles se vlees
Scott Edwards se Nederland-span was gister oorgehaal om op kritieke tyd die Namibiese FNB Eagles se vere te pluk op pad na ‘n oortuigende oorwinning met sewe paaltjies in hul ICC T20 Wêreldbeker-wedstryd in Delhi, Indië.
Edwards het Namibië (156/8) ingestuur om eerste te kolf, waarna die Nederlanders die teiken binne 19 boulbeurte bereik het (159/3).
Die veelsydige vertoning van Bas de Leede het hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg.
Eers het De Leede as bouler die deurbrake gemaak wat sy kaptein wou hê, deur Namibië se kaptein Gerhard Erasmus (18 van 9 balle, 2x4 1x6) en die ewe gevaarlike JJ Smit (geboul vir 22 van 15 balle; 1x4 2x6) op deurslaggewende oomblikke te ontwortel.
Jan Frylinck (30 van 26 balle) het drie viere en ‘n ses teen die nuwe bal aangeteken en Nicol Loftie-Eaton was doeltreffend as ‘n vroeë nommer drie met sy 42 lopies van 38 balle (1x4 2x6).
Namibië se soeke na die maksimum lopies in die laaste boulbeurte is egter verder ontspoor toe Dylan Leicher se rampspoedige roep vir ‘n onmoontlike lopie tot die onnodige uithardloop van Ruben Trumpelmann gelei het (145/7 ná 18.4 bb). Trumpelmann (9 van 8 balle) het drie balle tevore ‘n aflewering van Bas de Leede vir ‘n monsteragtige ses van 92 meter laat vlieg, maar De Leede het laaste gelag toe hy die uithardloop kon uitvoer.
De Leede was ook as kolwer nommer drie ‘n groot faktor (72 nie uit nie van 48 balle; 5x4 4x6) in samewerking met Michael Levitt (28 van 15 balle; 1x4 3x6), Colin Ackermann (32) en Edwards (18* van 9 balle; 1x4 1x6).
Nederland het sy vorige T20 WB-kragmeting teen Namibië in 2022 in Geelong, Australië, met vyf paaltjies gewen. Die Eagles was die vorige jaar in Abu Dhabi met ses paaltjies aan die wenkant.
Afrigter Craig Williams het op die nuuskonferensie agterna erken Namibië het uiteindelik sowat 20 of 30 lopies te min op die telbord geplaas.
“Ons boulers het hard probeer om die totaal te probeer verdedig, maar Nederland was deurentyd omtrent tien lopies voor ons.
“Ons kolfpoging was teleurstellend en ons het die heeltyd paaltjies verloor. Ons het nie vir onsself die grondslag gelê vir ‘n versnelling aan die einde nie.
“Indien ons die loot gewen het, sou ons ook oorweeg het om eerste te boul; ‘n mens kon sien die wip van die bal is effens vertraag op die kolfblad tydens die eerste kolfbeurt.
“Tog reken ek ons het in die eerste agt boulbeurte goed begin om ‘n goeie eindpoging moontlik te maak, maar toe begin verloor ons paaltjies elke tweede boulbeurt en slaag nie daarin om weer ’n betekenisvolle vennootskap te smee nie.”
Williams is uitgevra oor die uitwerking van die enkele verlore vangkans, toe Nederland se nommer vier Collin Ackermann op 13 (14 balle) ‘n aflewering van JJ Smit hoog in die lug geslaan het wat Louren Steenkamp nie kon vashou nie. Ackermann het 32 van 28 balle aangeteken (een ses) voordat Gerhard Erasmus hom van Nicol Loftie-Eaton se boulwerk uitgevang het.
Williams het geantwoord: “Ek reken ons het goed veldwerk gedoen en heelwat potensiële lopies gekeer. Met ‘n kwesbare totaal om te verdedig, moet jy uiteraard elke geleentheid benut; ons het in die afgelope wedstryde gesien hoe verlore vangskote van kritieke belang was.
“Die veldwerkspan het altyd ‘n klein voordeel solank ‘n nuwe kolwer inkom. Dis jammer ons kon nie daai een vashou nie. Ons kan maar net harder oefen en hoop ons slaag die volgende keer.”
Afwagting voor Indië
Oor die Eagles se volgende groepwedstryd teen die gedugte tuisspan en gunsteling vir die toernooi, Indië, het Williams gesê basiese aspekte moet steeds gevolg word.
“Ons het iemand in ons topvier kolwers nodig om vir ‘n lang tyd te kolf, en ons het vennootskappe nodig. Om teen Indië te speel, sal ooglopend nie makliker wees nie, maar indien ons by ons plan kan hou en sake bal vir bal benader, kan die gevolge hopelik in ons guns draai.”
Die afrigter het gesê Namibië is ‘n professionele krieketspan en is gefokus om hul taak uit te voer ongeag die opposisie, maar die vooruitsig om in Indië teen Indië te speel, is nietemin besonders.
“Vir mense by die huis sal dit sekerlik ‘n skouspel wees en hopelik kan ons met ‘n goeie vertoning vorendag kom.
“In ‘n kriekettoernooi is daar ná ‘n teleurstellende nederlaag soos vandag nie juis tyd om ‘n tree terug te gee nie. Jy moet herevalueer en so gou as moontlik terugslaan.
“In die Indiese span moet jy vir elkeen van die elf spelers op die uitkyk wees. Hulle het ‘n span vol puik spelers ... in hul kolflys en boulopsies. Hierdie wedstryd is ‘n wonderlike geleentheid vir ons span en vir ons hele land. Ons moet net fokus op elke bal, en om ons taak uit te voer.”
Aandwedstryd
Die kragmeting teen Indië word Donderdag in dieselfde Arun Jaitley-stadion in Delhi gespeel en begin om 19:00 plaaslike tyd (15:30 Namibiese tyd).
Williams het erken dat Namibië min geleenthede kry om groot krieket onder spreiligte te speel – ‘n faktor wat ook in die groot nederlaag in die opwarmwedstryd teen Indië-A laas Vrydag na vore gekom het.
“Afgesien van vandag se uitslag reken ek ons span is sielkundig en op fiksheidsvlak op ‘n baie goeie plek. Ons het die afgelope tyd goeie krieket gespeel en die atmosfeer in ons kleedkamer is uitstekend. Ons sal alles moontlik doen om die span vir ‘n goeie vertoning voor te berei.”



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article