Nashua-reeks wys o.14-talent uit

Krieket
Tielman Van Lill
Krieket Namibië se Nashua o.14-reeks het uit die staanspoor uitstaande talent uitgestal.

Die hoog verwagte Nashua-konsessiekompetisie het verlede Vrydag met 'n knal by die hoëprestasie-ovaal van Krieket Namibië in Olympia afgeskop waar die jong manne nie geskroom het om hul krieketvaardighede ten toon stel nie.

Die o.14-spelers het as kolwers, boulers en velwerkers daadwerklik die kans aangegryp om te wys wat in hulle steek. Die konsessiespanne het beslis vir Krieket Namibië ‘n goeie aanduiding gegee wat oor ‘n paar jaar van die spelers verwag kan word.

Saterdag se wedstryde het vir ‘n unieke ervaring vir die spelers gesorg toe die kragmetings regstreeks met volledige kommentaar gebeeldsend was.

Die openingswedstryd Vrydag tussen die KFC Wildcats en die Stadio Jets, het die Jets gemaklik met agt paaltjies ingepalm. Die Stadio Jets het die loot gewen en gekies om eerste te boul. Hulle beperk die KFC Wildcats tot 89 almal uit in 16.3 boulbeurte. Die Stadio Jets het die teiken in net 13 boulbeurte ingehaal en eindig met 92 lopies vir die verlies van slegs twee paaltjies.

Alex Parker het die geel pet as voorste lopiemaker met 36 nie uit nie opgeraap, terwyl JW Junius die pienk pet vir voorste paaltjienemer met drie paaltjies vir ses lopies in 2.3 boulbeurte ontvang het. Max Fourie van die Stadio Jets is as die speler van die wedstryd aangewys.

Saterdagoggend is twee wedstryde by die hoëprestasie-veld aangebied. In dié botsing het die KFC Wildcats die hoogste totaal van die toernooi sover teen die Ashburton Eagles behaal (193 vir drie in 20 boulbeurte). Die Ashburton Eagles is gou-gou vir 65 lopies in tien boulbeurte uitgeboul.

Gillmer Horn se 77 lopies en Janco Duvenhage met 53 lopies het die KFC Wildcats tot 'n klinkende oorwinning van 128 lopies aangevuur. Horn het die nuwe draer van die geel pet vir die voorste lopiemaker geword.

Saterdagnamiddag het die Stadio Jets op die wenpad gebly deur die Ashburton Eagles met met sewe paaltjies te verslaan. Markus van Heerden is as speler van die wedstryd aangewys vir sy indrukwekkende 42 lopies van 33 aflewerings.

Die naweek se aksie was Sondag afgesluit met die Stadio Jets wat die KFC Wildcats met 21 lopies oorskadu het. Hoewel die KFC Wildcats verbete teruggeveg het, het die Jets se stewige kolfvertoning hulle van oorwinning verseker.

Die uitblinkers Sondag was JW Junius, Markus van Heerden en Max Fourie van die Stadio Jets asook Gillmer Horn en Joss Zondagh van die KFC Wildcats. Lucas Kruger het die pienk pet vir die voorste paaltjievraat beklink, terwyl Markus van Heerden die geel pet as die voorste lopiemaker oorgeneem het.

Die Stadio Jets van dr. Rudie van Vuuren (president van Krieket Namibië), Polly Negongo (visepresident), Henno Prinsloo, Helga Volschenk, Trevor Britten, Daneel van der Walt en Johan Muller (uitvoerende beampte) het boaan die punteleer geëindig. Die Jets het al drie hul botsings gewen en sodoende twaalf punte aangeteken.

Die KFC Wildcats het vier punte met een oorwinning behaal, terwyl die Ashburton Eagles nog nie ‘n sege kon bewerkstellig nie.

Die Nashua-konsessiereeks word op 24 Mei voortgesit, terwyl die eerste bal van die o.19-toernooi op 10 Mei by United geboul sal word.



O.14-topkolwers

Markus van Heerden (3 wedstryde, 132 lopies, 19x4, 3x6, hoogste telling 67).

Gillmer Horn (3, 112, 15x4, 2x6, hoogste 77).

Janco Duvenhage (3, 81, 6x4, 7x6, hoogste 53).

JW Junius (3, 64, 8x4, hoogste 55).

Gerhard Genis (3, 50, 7x4, 1x6, hoogste 26).



O.14-topboulers

Lucas Kruger (3 wedstryde, 6 boulbeurte, 5 paaltjies vir 24 lopies).

JW Junius (3, 5.2 bb, 4 vir 24).

Francois Siepker (3, 8 bb, 3 vir 47).

Nicklai van Vuuren (3, 6 bb, 3 vir 46.

Gerhard Genis (3, 7 bb, 3 vir 75).

[email protected]