Mambas saam met Gobabis boaan puntelys
Op ‘n afnaweek vir die Gobabis Bulls is hulle net-net as voorloper in die Nedbank Desert Ice T20-krieketliga verbygesteek.
Die Green Mambas en die Gobabis Bulls het tans elkeen vier ligapunte ná twee uit twee oorwinnings. Op grond van ‘n beter netto lopietempo is die Mambas boaan die puntelys geplaas.
Die afgelope naweek se drie wedstryde het soos volg verloop:
Saterdag
• United-veld: Etungo Kudus (177/6 in 20 boulbeurte) klop Central Sunrisers (153/3 in 20 boulbeurte) met 24 lopies.
Speler van die wedstryd: Ruan Conradie (Central Sunrisers) 3/32 in 4 boulbeurte, en 47 nie uit nie van 31 balle (2x4 3x6).
Vyftigtalle deur die aanvangspaar Hendrik van der Walt (71 van 35 balle; nege viere, drie sesse) en Michael Müller (56 van 40 balle; 5x4 2x6)het die noorde se Kudus met ‘n 135-vennootskap ná 12.2 boulbeurte stewig op die voorvoet geplaas.
Saam met Conradie het Albert de Klerk moedig weerstand probeer bied met 3/20 in drie boulbeurte vir die Sunrisers. De Klerk het met opeenvolgende balle vir Van der Walt én Müller uitgehaal.
Die nasionale vrouespan se veelsydige Kayleen Green (20 van 29 balle; 3x4) het saam met WP Myburgh (41 van 31 balle; 7x4) die kolfbeurt vir die Sunrisers geopen.
Later het Shaun Fouché (32 nie uit nie van 27 balle; 2x4) vergeefs saam met Conradie die kastaiings uit die vuur probeer krap.
Tjaart Vorster (2/30 in 4 bb) het tien leë balle vir die Etungo Kudus afgestuur.
• NTV se volle uitsending, https://q.my.na/5ALE
• United-veld: Green Mambas (103/1 in 7.1 boulbeurte) klop Unam Zebras (102 all out in 18.3 boulbeurte) met nege paaltjies.
Speler van die wedstryd: Nicol Loftie-Eaton (Green Mambas) 62 nie uit nie van 26 balle (6x4 5x6).
Die Unam Zebras se aanvangskolwer Tonde Musakanda het verreweg die beste gevaar met 40 lopies van 37 balle (1x4 4x6), maar deurbrake deur Johan Geldenhuys (3/15 in 4 boulbeurte) en sy kaptein Shaun Eastes (3/4 in 2.3 bb) het sake in die Mambas se guns geswaai.
Die Mambas het Abrie Fourie (4) reeds in die eerste boulbeurt verloor, maar Loftie-Eaton en nommer drie Henry Hayes (36 nie uit nie van 12 balle; 6x4 2x6) het die gras onder hul voete laat groei nie.
• NTV se volle uitsending, https://q.my.na/IM7J
Sondag
• United-veld: Run Whisperers (168/4) klop CCD Tigers (85 almal uit, 11.5 boulbeurte) met 83 lopies.
Speler van die wedstryd: Nicolaas Buys senior (Run Whisperers) 61 nie uit nie van 25 balle (3x4 6x6).
Nyasha Nyashadzaishe (39 van 34 balle; 4x4 2x6) het vinniger as ‘n lopie per bal vir die Run Whisperers aangeteken en hoewel Asas Abbas (5) en Wessel Myburgh (8) nie veel kon bydra nie, het Buys en Abri Oberholzer (43 nie uit nie van 29 balle; 3x4 2x6) seker gemaak hul kolfbeurt eindig op ‘n sterk noot.
Geo Haasbroek (2/30 in 3 bb) kon met die paaltjies van Nyashadzaishe en Abbas spog.
CCD Tigers se kolfbeurt het ondanks pogings deur Jaden Cloete (26 van 24 balle), Simon Shikongo (20 van 11 balle) en Junior Taanyanda (18 van 9 balle) lelik platgeval.
Vier paaltjies deur Kairavbir Singh Malhotra (4/24 in 4 bb; 12 leë balle) het die meeste skade vir die wenspan aangerig.
• NTV se volle uitsending, https://q.my.na/DLRG



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article