Kirsten se kaliber as WB-wenner spreek vanself
Krieket
Gary Kirsten was ooglopend opgewonde oor die begin van ‘n hoofstuk om nuwe uitdagings aan te gryp, toe hy Vrydagoggend as ‘n hoofkonsultant vir Krieket Namibië se senior nasionale manspan onthul is.Op 58-jarige leeftyd is Kirsten ‘n ewe hoog gerekende afrigter en mentor as wat hy in sy speeldae ‘n suksesvolle aanvangskolwer vir Suid-Afrika was.
Krieket Namibië se deurbraak om sy dienste te bekom, is 'n tydige hupstoot vir die FNB Eagles se voorbereiding vir die ICC T20 Wêreldbeker wat in Februarie 2026 in Indië begin.
Volgens Krieket Namibië se uitvoerende hoof, Johan Müller, is 'n bevestigde tydperk vir Kirsten se betrokkenheid nog nie vasgestel nie, maar sal die "gentlemen's agreement" voortduur solank dit vir beide partye voordelig bly.
Namibië sal by die komende T20 Wêreldbeker teen Indië, Pakistan, VSA en Nederland gegroepeer wees, en juis teen dié agtergrond sal Kirsten se aanstelling 'n beduidende hupstoot wees vir die nasionale afrigterspan onder leiding van Craig Williams.
Kirsten was die afrigter van Indië van 2008 tot 2011 en dié era het ingesluit dat Indië die 2011 Krieket Wêreldbeker gewen het deur Sri Lanka in die eindstryd te klop. Die eertydse kaptein M.S. Dhoni het ronduit verklaar dat Kirsten se invloed die beste ding is wat ooit in Indiese krieket gebeur het.
In Junie 2011 is hy as afrigter van Suid-Afrika se Proteas aangestel, en hy het in Augustus 2013 bedank. Vir 'n kort tydperk in 2024 het hy ook Pakistan se nasionale span afgerig.
In die Indiese Premierliga-seisoene tussen 2018 en 2024 het Kirsten se mentorskaprolle by die Royal Challengers Bangalore en Royal Gujarat Titans hom ook heelwat agtergrond gegee wat vir Namibië tot voordeel kan strek.
By die nuuskonferensie het Müller gesê Krieket Namibië het die nuus eerste by ‘n ontbyt met sy korporatiewe vennote gedeel, wat grootliks verstom oor dié deurbraak was.
“Gary is nie iemand wat ‘n bohaai oor sulke dinge maak nie, maar dis ‘n voorreg om hom as ‘n fantastiese hulpbron vir ons span te verwelkom en van sy kennis en ondervinding te deel.
“Gary sal ook ‘n impak op ons afrigterspan hê om hulle as leiers, ontleders en strategiese beplanners te help ontwikkel.
“Ons het met die T20-oorwinning teen die Proteas in Windhoek gewys dat ons hoër gerekende spanne kan skok. Ons is op die uitkyk na die volgende trap, om dit meer gereeld reg te kry. Ons afrigterspan bevat werklike gehalte in hul spesifieke rolle en met die selfvertroue in die groep en met Gary se insette kan ons hopelik in Indië verdere hoogtepunte lewer,” het Müller gesê.
‘Ontgin die sterk punte’
Kirsten het met lof gepraat oor die manier hoe hy vanaf die eerste gesprekke met Krieket Namibië in September vanjaar verwelkom is.
“Die gedagte dat ek waarde kon byvoeg tot ‘n reeds uitstekende professionele krieketopset, met die hulpbronne waaroor julle beskik, maak my opgewonde. Hopelik kan ons die spelers en die afrigterspan bystaan om te floreer tot hul volle potensiaal.
“Die moeite en toewyding wat ek reeds gesien het om Namibiese krieket op die wêreldkaart te plaas, is baie indrukwekkend. Hierdie nuwe stadion getuig ook van julle vasberadenheid om moeite in julle krieket in te sit.
“Om die Proteas te kon klop, is vir kleiner lande soos Namibië ‘n reuse-prestasie wat nie sommer maklik gebeur nie en ‘n hupstoot vir die belangstelling in krieket in hierdie omgewing.
“T20 is ‘n formaat waarin jy teen feitlik enige opponent die gang van ‘n wedstryd kan swaai as jy in die bestek van selfs net tien balle die regte dinge kan regkry.
“Ek was bevoorreg om by baie krieketgeleenthede in Indië betrokke te wees. Wêreldwyd is die tendens dat krieketomstandighede en kolfblaaie redelik neutraal is. ‘n Fokus is dus om binne daardie omstandighede jou krieketvaardighede tot die maksimum te benut. Ek sien dus uit na die gesprekke om soveel as moontlik van die Namibiërs se sterk punte te ontgin.”
Produk van gehalte
Kirsten se insig as ‘n afrigter is uiteraard geskoei op sy suksesvolle loopbaan as speler, wat 101 toetse en 185 eendagwedstryde vir Suid-Afrika tussen 1993 en 2004 ingesluit het.
Hy het die vorige Suid-Afrikaanse rekords vir die meeste toetslopies én die meeste toetshonderdtalle in 'n loopbaan oortref, voordat albei deur Jacques Kallis verbygesteek is.
Hy was die eerste toetskolwer wat honderdtalle teen elk van die ander nege toetsnasies aangeteken het.
Vir sy 275 lopies teen Engeland op Kingsmead in Durban het hy vir meer as 14-en-'n-half ure gekolf in Suid-Afrika se opvolgbeurt, wat steeds die tweede langste beurt (in terme van tydsduur) in die geskiedenis van toetskrieket is. Sy hoogste toetstelling vir Suid-Afrika is later deur Graeme Smith (277 teen Engeland in 2003) oortref.
Kirsten hou ook steeds die rekord vir die hoogste kolftelling deur 'n Suid-Afrikaner in 'n internasionale eendagwedstryde – 188 nie uit nie teen die Verenigde Arabiese Emirate tydens die 1996 Wêreldbeker-toernooi.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article