Indiese toerspan ruk reg teen Eagles

Krieket
Andrew Poolman
Die Assam Krieketvereniging van Indië se toerspan het die reekstelling van vyf eendagwedstryde teen Namibië se FNB Eagles Maandag by die FNB Namibië Krieketstadion gelykop gemaak.

Assam (179 vir sewe in 45.2 boulbeurte) het die Eagles se middelmatige totaal van 178 almal uit in 42.1 boulbeurte verbygesteek vir 'n oorwinning met drie paaltjies.

Die speler van die wedstryd is aan Assam se bouler Malakar Ayushman toegeken, wat 'n uitstekende ses paaltjies vir 21 lopies in 10 boulbeurte geneem het.

Ayushman het 47 leë balle afgestuur en is met die paaltjies van WP Myburgh (agter die paaltjies gevang vir 16), Jan Frylinck (gevang deur paaltjiewagter Sumit Ghadigaonkar vir 47 van 50 balle), Gerhard Erasmus (lbw vir 'n eerste-bal 0), Nicol Loftie-Eaton (gevang Ghadigaonkar vir 9), JP Kotzé (geboul vir 14) en nommer nege Jack Brassell (gevang vir 4) beloon.

Namibië se nommer sewe-kolwer JJ Smit het 'n deurslaggewende beurt van 61 lopies van 55 balle (ses viere, drie sesse) gespeel om die Eagles van 'n selfs meer beskeie totaal te red. Voor Smit was Frylinck (vyf viere en een ses) die enigste wat homself vir ‘n stewige beurt kon ingrawe.

Die Eagles-boulers Ruben Trumpelmann (2/31 in 8.2 boulbeurte), Dylan Leicher (2/20 in 6), Nicol Loftie-Eaton (1/16 in 6) en WP Myburgh (0/8 in 4) het almal minder as vier per boulbeurt afgestaan.

Die Eagles-kaptein Gerhard Erasmus het agterna gesê die ingesteldheid sal dwarsdeur die reeks positief bly.

“Vir ons gaan dit daaroor om elke speler se rol vas te pen en almal bloot te stel aan die hoëgehalte-span wat Assam is. In die afwesigheid van Bernard Scholtz het ons twee draaiboulers blootgestel.

“Met twee baie goeie wedstryde agter die rug, het ons boulers vandag soveel geleer, deurdat hulle verskillende taktieke moes gebruik om iets uit die baanblad te kry. Ons veldwerk was briljant en ons het heelwat leë balle geboul.”

Die wenkaptein Denish Das het gesê hy was verlig oor die uitslag, hoewel hy eerder 'n meer oortuigende kolfvertoning sou wou sien in die jaagtog na so 'n bereikbare teiken, eerder as dat hulle sewe paaltjies moes verloor.

Das was ook die speler van die wedstryd geprys. “Dit was wonderlik om Malakar in die regte areas te sien boul en hoedat hy beweging van die blad af gekry het.”

Die Namibiërs het die eerste kragmeting twee dae tevore met ses paaltjies gewen, toe hulle die loot gewen en die Indiërs se totaal van 232 almal uit verbygesteek het met net vier paaltjies plat. Nicol Loftie-Eaton was toe die speler van die wedstryd met 58 van 40 balle.

Wedstryd nommer drie begin vandag om 09:30 by dieselfde veld.



Oor die besoekers

Assam is ‘n staat in noordoos-Indië, suid van die oostelike Himalajas tussen die Brahmaputra- en Barak-riviervalleie.

Assam strek oor ‘n gebied van 78 438 vierkante kilometer – ietwat kleiner as Namibië se Omahekestreek, groter as Erongo en omtrent dubbeld die Khomasstreek.

In oppervlak is dit is die tweede grootste staat in Indië se noordooste en met die grootste bevolking, naamlik meer as 31 miljoen inwoners.