Ierland wys ook te veel skietgoed teen vrouespan
Vir oulaas het die Namibiese vrouekrieketspan gister in Kirtipoer, Nepal, hul vierde opeenvolgende nederlaag gely en keer dus leëhande huis toe ná hul uitskakeling in die Internasionale Krieketraad (ICC) se globale T20 Wêreldbeker-uitduntoernooi vir vroue.
Afrika se twee kwalifiseerders na die globale uitduntoernooi, Namibië en Zimbabwe, kon beide nie ‘n enkele wedstryd in hul onderskeie groepe wen nie. Dit was maar Namibië se tweede verskyning in hierdie fase van die wedloop.
In die Super Ses bly nou net Bangladesj, Ierland en die VSA (uit Groep A), Nederland, Skotland en Thailand (uit Groep B) oor in die stryd om vier kwalifiserende nasies na die T20 Wêreldbeker-vrouetoernooi in Engeland te bepaal.
Gister het Namibië se Capricorn Eagles 107/7 in hul 20 boulbeurte opgestel, maar Ierland het met 110/3 in 14.2 boulbeurte geantwoord om oortuigend met sewe paaltjies te wen.
Die speler van die wedstryd was Orla Prendergast van Ierland, wat ná 39 lopies van 28 balle onoorwonne uitgetree het om spanmaats kolfkans te gee, nadat sy ook twee boulbeurte geboul het wat 1/11 gekos het.
Die Namibiërs het baie vroeg twee paaltjies verloor (0/1 en 8/2), toe die aanvangspaar Yasmeen Khan (0) netjies in die glippe uitgevang is, voordat Arrasta Diergaardt (0) been-voor-paaltjie uitgegee is.
Die Eagles se nommer drie Kayleen Green, wat tot dusver ‘n redelike stil toernooi beleef het, het tot die aanval oorgegaan met haar beste bydrae (32 van 23 balle; vyf viere, een ses).
Later het die paaltjiewagter Merczerly Gorases (19 van 30 balle; geen grenshoue) en Wilka Mwatile (28 van 27 balle; 4x4) ook hul bes probeer om die totaal ‘n kompeterende lyf te gee.
Die Eagles se kaptein Sunè Wittmann is dié keer eers op nommer ses ingestuur in die strewe na ’n laat tempo-versnelling. Sy het vinnig twee viere geslaan, maar is onmiddellik daarna netjies deur Jane McGuire vir 11 van 8 balle skoon geboul.
Tydens Ierland se kolfbeurt was Wilka Mwatile (1/8 in 3 boulbeurte) en Saima Tuhadeleni (1/21 in 4) opnuut die mees bestendige boulers en die enigstes wat ‘n paaltjie kon inoes.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article