Hermann (150) meedoënloos teen Eagles
Die Namibiese krieketspan sal bitter graag vandag én Sondag betekenisvolle verbetering wil toon ná die pak slae wat die Proteas hulle Woensdag in die eerste van drie internasionale eendagwedstryde by die FNB Namibië krieketstadion toegedien het.
Suid-Afrika se aanvangskolwer Jordann Hermann was genadeloos in sy kolfbeurt van 150 lopies van 126 balle. Hy is as speler van die wedstryd aangewys vir dié vertoning, wat grootliks bygedra het dat die FNB Eagles geen sê in die wedstryd gehad het nie.
Suid-Afrika (348 vir ses) het Namibië met 99 lopies volgens die DLS-metode geklop, nadat ‘n reënbui die gasheerspan se kolfbeurt tot 31 boulbeurte (teiken 262) verkort het, met hul totaal wat op 162 vir agt geëindig het.
Hermann, wat 17 viere en drie sesse geslaan het, se kolftotaal is gesamentlik die hoogste deur ‘n debutant in ‘n internasionale eendagwedstryd (ODI). Sy landgenoot Matthew Breetzke het in Februarie verlede jaar ook 150 in ‘n driehoekige ODI-toernooi teen Nieu-Seeland in Lahore, Pakistan, behaal.
Hermann het agterna aan die media gesê as ‘n kolwer is hy geleer “jy kry nie net ‘n honderdtal nie; jy druk so ver as wat jy kan”. Hy was vasberade om seker te maak dat hy nie die geringste kans vir Namibië ooplaat om munt uit te slaan nie. “Ek voel in my noppies dat ek dit kon regkry.”
Die wedstryd is gekenmerk deur Hermann se 190-vennootskap om die tweede paaltjie saam met Tony de Zorzi (72 van 84 balle; 7x4 1x6), wat op 27/1 by mekaar aangesluit het.
Hermann het egter ook geluk aan sy kant gehad. Hy moes met sy telling op 30 uitgehardloop gewees het deur ‘n direkte trefgooi toe hy nie betyds in sy kolfkampie was nie, maar hy is nie uitgegee nie. Met geen DRS-stelsel in werking vir die toernooi om beslissings te laat hersien nie, was dit die enigste kans wat hy nodig gehad het om die uitslag uit Namibië se hande te neem.
Die Namibiese senior naatbouler Ruben Trumpelmann het vier paaltjies vir 68 lopies in sy 10 boulbeurte platgetrek. Hy het die gesogte paaltjies van Jordann Hermann, Connor Esterhuizen (10), Dewald Brevis (33 van 28 balle) en Rubin Hermann (8) agter sy naam laat skryf.
Net JJ Smit (1/59 in 10) en Gerhard Erasmus (1/45 in 7) was ietwat meer ekonomies, terwyl die twee jong naatboulers Max Heingo (0/39 in 5) en Jack Brassell (0/55 in 8) ook met tye deurgeloop het.
In die Namibiese kolfbeurt, wat twee keer deur reën onderbreek is, was daar nooit sprake dat hulle naastenby op koers sou kom om die Proteas se totaal te bedreig nie. Malan Kruger se 34 van 60 balle was uiteindelik die hoogste telling, terwyl JJ Smit vir 31 van 20 balle (3x4 2x6) uitgevang is.
Suid-Afrika se draaibouler Prenelan Subrayen het die beste boulsyfers van sy ODI-loopbaan (4 vir 29 in ses boulbeurte) behaal.
Vandag en Sondag se wedstryde begin beide om 09:30.
Die Namibiese span sal streef om positiewe tekens in die eendagformaat te begin toon, voordat hulle in Oktober na die VSA reis vir ‘n driehoekige ODI-reeks waarvan die Verenigde Arabiese Emirate ook deel is. Die twee kragmetings teen elke opponent sal waardevolle punte inhou vir die Eagles se strewe om vir die 2027 Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer, waarvan Namibië ‘n medegasheerland sal wees.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article